Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Die kerk se versoeningsrol

versoening

Daar bestaan seker geen twyfel oor die feit dat die kerk van Christus 'n groot versoeningsrol in die sa­melewing te speel het nie. Die vraag is net: Hoe moet daardie taak vervul word?

Dis reg dat Christene vandag besorg is oor die gespanne toestand in Suid-Afrika. Dis reg dat Chris­tene betrokke moet raak en selfs aan die voorpunt van die stryd sal staan.

Maar nou: Moet die Christen of die "kerk", om ware versoener te wees, hom vereenselwig met die verdrukte? Moet aardse middele soos disinveste­ring aangegryp word om sodoende 'n situasie te laat ontstaan waardeur die owerheid gedwing sal word om sekere maat­skaplike regstellings te maak? Kan sulke optredes as versoeningsaksies be­stempel word afgesien van die vraag of dit ooit enige mate van versoe­ning teweeg sal bring?

Nee, as dit vandag die strategie en metode van die kerk is of behoort te wees — soos die SARK wil voorgee — dan beteken dit die bankrotskap van die Christendom!

Die optrede van die pro­feet Jeremia in die tyd van konings Josia en Jojakim is baie leersaam en toepaslik vir vandag. Koning Josia het grootskaalse godsdienstige hervor­mings aangepak geduren­de die laaste 19 jaar van sy regering. Die volk het wel meegedoen, maar hulle het hulle nogtans nie persoonlik tot die Here bekeer nie. Josia het die afgodery uit die land uitgeroei, maar die volk het nie die ontrouheid aan die Here in hulle harte uitgeroei nie. Vir 19 jaar het Jeremia met krag die sonde uitgewys en bly oproep tot bekering!

Jojakim was 'n slegte koning en benewens sy af­godery het hy ook onreg­verdig geregeer — Jeremia 22:17: "Jy is net daarop uit om jou te verryk ten koste van ander, jy kyk net waar jy mense onskul­dig kan doodmaak, waar jy kan verdruk en afpers". Dis maatskaplike onreg in die ergste graad en sulke maatskaplike onreg is 'n gruwel in die oë van God en dit maak sy toorn wak­ker.

Die politieke situasie tydens Jojakim was ook baie kritiek. Dis die Egip­tenaars wat vir Jojakim aan bewind geplaas het, maar in die vierde jaar van sy regering het die Egiptenaars teen Babel verloor. Dit het 'n direkte bedreiging vir Jojakim van Juda ingehou — stabi­liteit, landsveiligheid en voortbestaan was op die spel!

Wat was Jeremia se taak? God het vir hom gesê: "Ek stel jou aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig" (Jeremia 1:10). Dis nie lapwerk (versoening?) nie, maar breek en bou. Radikaler as dit is nie moontlik nie! En dis nie net op godsdienstige ge­bied nie: dit raak die hele volkslewe en nasies en koninkryke! Dit moet hy doen deur onverskrokke te preek: tot bekering te roep en die oordeel van God aan te kondig. Daarvoor het die Here ook sy woorde in sy mond gelê (Jeremia 1:9). Met sy hele persoon moes hy die ver­ontwaardiging van God verkondig en uitleef (Jeremia 15:17; 16:1-9).

Hierdie taak het vir hom ondraaglik in die tyd van Jojakim geword en hy het die dood telkens net won­derbaarlik vrygespring!

Wat moes Jeremia doen in die kritieke vierde jaar van Jojakim se regering? Hy moes tot bekering op­roep! (Jeremia 25:3) — dis nou al 23 jaar wat die woord van die Here tot my kom. Vers 4: "Ek het vroeg en laat met julle ge­praat maar julle het nie geluister nie, nie eers pro­beer luister nie". In die volgende regeringsjaar moes Jeremia al sy oor­deelsboodskappe waarna die mense vir 23 jaar nie wou luister nie, vir 'n tweede keer preek (Jeremia 36:1-3 en 9)! Toe Joja­kim dit hoor, het hy die ge­skrewe preke in die vuur verbrand en toe moes Jeremia al die woorde weer eens opskryf ! So maklik kan die woord van God im­mers nie ongedaan ge­maak word nie!

Saam met die oordele oor Juda, God se volk, gaan ook die oordele van God oor die nasies, en Jeremia moet dit ook ver­kondig. Hy moes die drinkbeker van God se toorn aan die nasies gee om te drink (Jeremia 25:15). As hulle dit weier om te drink, moes hy sê: "So sê die Here die Almagtige: Drink sal julle drink! Kyk, Ek begin 'n ramp bring oor die stad waaroor my Naam uitgeroep is, en wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word?" (Jeremia 25:28-29). God is reg­verdig, Hy het geen wit­broodjies nie, en sonde bly sonde, eerstens by hulle wat van beter behoort te weet, maar ook by die ander!

Kan daar sprake wees van vereenselwiging met die wat verdruk word? In lyn met Jeremia se verdere prediking wil ek van­dag vra: Wat dan van die sondes van werkskuheid, luiheid, onproduktiwiteit, bandeloosheid, ongehoor­saamheid? Maatskaplike onreg is nie die enigste sonde in die land nie. Kan daar sprake wees van ver­soening as die sondes nie aangespreek word nie? En is God nie verskriklik ver­toornd oor al die sonde wat in die land bedryf word nie? God is immers die Regter van die hele aarde en Hy tugtig sy eie volk en straf die ander! Voor daar sprake kan wees van ver­eenselwiging met 'n spesi­fieke groep, moet eers rekenskap gegee word van God se regterskap en hei­ligheid!

In 'n uiters kritieke tyd het Jeremia die sonde aangespreek en opgeroep tot bekering. Na 23 jaar van prediking moes hy al­les weer preek en dit nog 'n maal op skrif stel! Dit alles gaan in die Naam van God wat gereed staan om te doen wat Hy gesê het (Jeremia 1:12 — hoewel Jeremia al 23 jaar preek!) en Jeremia moet uitroei en afbreek en vernietig en platslaan en bou en vestig met as enigste instru­ment: die prediking!

Dis 'n kwade dag as die krag van die prediking in­geruil moet word vir aller­lei ander aksies! Dis 'n bose dag as die boodskap van bekering moet plek maak vir paniekerige po­gings van "versoening". Dis bankrotskap van die Christendom as die sonde, by wie ook al, nie meer aangespreek word nie maar eers gepolariseer word tussen verdrukkers en verdruktes en dan weer gepoog word om die son­dige pole te versoen! Dis bankrotskap as die kerk gaan terugdeins vir die ra­dikale van afbreek en op­bou, of in Nuwe-Testa­mentiese taal: die weder­geboorte, afsterwe van die oue mens die opstanding van die nuwe mens!

As daar ware bekering kom, sal egte versoening 'n lieflike en blywende vrug wees. Hierdie ervaring van die profeet be­hoort ook vandag ons on­dervinding te wees — en nie allerlei veldtogte en onderhoude met die oog op sanksies en disinvestering (Jeremia 20:8-9):

Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur. En wanneer ek dink ek sal my aan hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos 'n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.

Wie die woord van God só leer ken het, sal nie meer die krag van die prediking vir ons lewe vandag geringskat nie !