1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Kerk in die Ou en die Nuwe Testament

ʼn Belangrike aspek van die eenheid van die kerk is die eenheid daarvan in die Ou en die Nuwe Testament, wat beteken dat Israel die kerk in die Ou Testament is en dat die kerk van die Nuwe Testament die ware Israel van God is. Hoewel die Bybel hieroor duidelik is, lyk dit asof min mense dit besef.

Dat Israel die kerk is en die kerk Israel is, is die grondslag van die verdediging van kinderdoop (een kerk, en daarom een verbond en een teken van die verbond). Net so is hierdie begrip wesenlik vir vermyding van die dwalings van die dispensasionalisme, wat leer dat Israel en die kerk twee heeltemal verskillende entiteite is, elk met sy eie toekoms.

Handelinge 7:38 toon duidelik dat Israel en die kerk een is. Israel word “die vergadering1 in die woestyn” genoem, met die gebruiklike naam vir die kerk in die Nuwe Testament.

Filippense 3:3 is nog ʼn bewys hiervan. Paulus praat daar met ʼn kerk uit die heidene wanneer hy sê: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie” (lees ook Rom. 3:28, 29; Gal. 3:29). Almal wat God in die Gees dien en ons Here Jesus liefhet, is die ware Jode, die Israel van God.

Om ʼn ware Jood te wees, het, wat die Bybel betref, niks met fisiese afstammelingskap van Abraham, met ʼn mens se geslagsregister en natuurlike geboorte te doen nie. Wat dít betref, sê die Bybel “dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek” (Luk. 3:8).

Volgens die Skrif is ʼn ware Jood iemand wat deur die krag van die belofte gebore is (Rom. 9:8); iemand wat dieselfde regverdigende geloof as Abraham het (Gal. 3:8, 9); iemand wat, soos Abraham, aan Christus behoort (vs. 29); en iemand wat in die hart besny is (Rom. 2:29). Die ander is nie Jode nie (Rom. 2:28) en die belofte is nie vir hulle nie (Hand. 2:39).

Die eenheid van Israel en die kerk blyk ook uit Hoséa 1:10, 11, wat in Romeine 9:24-26 aangehaal word en uit Amos 9:11-15 wat in Handelinge 15:13-17 aangehaal word. In die gedeelte uit Hoséa verwys die Woord van God na die tien stamme wat Juda en Benjamin verlaat het, en na hulle toekomstige herstel. Romeine 9:24-26 vertel hoe hierdie profesie in die versameling van die Nuwe Testamentiese kerk vervul word.

In Amos 9:11-15 lees ons weer van die herstel van die volk Israel in sy eie land en van die herbou van die tempel. Handelinge 15 maak dit duidelik dat dit in die versameling van die heidene in die Nuwe Testamentiese kerk vervul word. Die herstel van die hut van Dawid wat vervalle en verwoes is (vs. 16) verwys na die wil van God “om ʼn volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (vs. 14).

Eers wanneer ons hierdie waarhede raaksien, besef ons dat die Nuwe Testament én die Ou Testament vir ons, die Nuwe Testamentiese Christene, geskryf is. Die beloftes, en ook die bestraffing daarin is nie vir ʼn vreemde volk waarmee ons niks te doen het, bedoel nie, maar vir ons en ons kinders. Dit maak ʼn verskil by die lees van die Ou Testament — ons lees dit nie meer met ʼn sluier oor ons oë nie, maar met begrip en met die oog op wat nuttig is.

Endnotes🔗

  1. ^ Grieks: ekklēsia. – NG.