Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Die Islam: Heeltemal Verkeerd of Halfpad Reg?

Islam

Sowat vyf jaar gelede het dr Willem Nicol ʼn artikel in Beeld geskryf waarin hy gepleit het dat Christene ʼn meer nederige houding teenoor die Islam moet inneem. Ons moet die Islam nie hoogmoedig veroordeel nie, het Nicol gesê, maar eerder aansluiting soek by die geloof wat die Moslems reeds het. Ons moet Allah ook nie as ʼn afgod sien nie. Allah is “as ‘t ware ʼn swak foto” van die ware God wat ons ken.

Dr Nicol se stuk het die nodige reaksie uitgelok. Tog lyk dit asof die antitetiese benadering teenoor die Islam wat voorheen in die Afrikaanse kerke algemeen was, tans vervang word deur ʼn meer sagte of simpatieke benadering. Die Islam is blykbaar nie meer heeltemal verkeerd nie, maar reeds halfpad reg.

Hoe moet ons die Islam beoordeel? Moet ons die Moslems as religieuse vyande sien, of was hulle al die tyd ons religieuse neefs en niggies?

As ʼn mens die kerkgeskiedenis daarop naspeur, blyk dit dat die beoordeling van die Islam heelwat verandering ondergaan het. Terwyl in vroeër eeue die oorheersende neiging was om baie negatief oor die Islam te wees, is later die vraag gestel of ʼn mens tog nie meer versigtig moet wees met veroordeling nie. Is daar nie opvallende ooreenkomste tussen die Christendom en die Islam nie? ʼn Bekende gereformeerde teoloog wat met die vraagstuk geworstel het, was Herman Bavinck.

Bavinck🔗

In sy Gereformeerde Dogmatiek skryf Bavinck (vertaal) “dat godsdiensstigters soos Mohammed vroeër eenvoudig as bedrieërs, vyande van God en handlangers van die duiwel beskou is. Maar toe daar meer kennis van die godsdienste gekom het, het dit duidelik geword dat hierdie verklaring onhoudbaar is. Dit is strydig met sowel die geskiedenis as die psigologie. Volgens die Heilige Skrif is daar ook onder die heidene ʼn openbaring van God, ʼn verligting van die Logos, ʼn werking van die Gees van God.” (4de druk, deel 1, p. 290)

Bavinck verwys dan na Augustinus en Calvyn se geskrifte. Augustinus laat hom baie negatief oor die heidendom uit, maar sê tog ook dat hulle die waarheid in ʼn skaduagtige vorm gesien het. Calvyn het gepraat van ʼn semen religionis (godsdienstige saad) wat in die mens aanwesig is, ʼn innerlike besef dat daar ʼn God is.

In dieselfde paragraaf skryf Bavinck dat godsdiensstigters soos Mohammed nie bedrieërs en instrumente van die satan was nie, maar eerder manne met ʼn religieuse aanleg wat in hulle omstandighede ʼn religieuse roeping vervul het en dikwels ʼn gunstige invloed op hul eie volk uitgeoefen het.

ʼn Mens is geneig om te vra of Bavinck nie te naïef-positief oor die Islam oordeel nie. As ʼn mens kyk hoeveel lyding die kerk van Christus alreeds moes verduur vanweë vervolging deur die Islam, kan ʼn mens dan nog sê dat Mohammed nie ʼn instrument in die hande van die satan is nie? Dit is nie om dowe neute dat die Islam “die gesel van die Christendom” genoem word nie!

Ons moet darem byvoeg dat Bavinck hom op ander plekke meer negatief oor die Islam uitgelaat het. In sy boek Magnalia Dei beskryf hy die godsdiensstigters soos Mohammed wel weer as hoogstaande manne wat die godsdiens van hul eie tyd uit sedelike verval wou verhef. Maar dan gaan hy soos volg voort (vertaal):

Tog verskil al hierdie hervormings nie wesentlik van die afgodery van die volke nie. Die verskil is slegs gradueel. Hulle het die wilde takke van die valse godsdiens afgekap, maar hulle het nie die wortel daarvan uitgeroei nie.p. 49

Islam

Oor Mohammed skryf Bavinck dan die volgende:

 En Mohammed, wat kennis gehad het van die Joodse geloof en die Christendom, was vas oortuig dat ʼn naderende gerig sy materialistiesgesinde tydgenote sou tref. Hy het tot die belydenis van een enkele God gekom en hy het sekerlik ʼn godsdienstige en sedelike hervorming tot stand gebring. Maar in sy persoonlike lewe het die godsdiensprediker al hoe meer agter die staatsman en wetgewer verdwyn. En in die godsdiens wat hy gestig het, is die verhouding tussen mens en God een van slaafse onderwerping aan ʼn almagtige God wat met willekeur optree. Van gemeenskap tussen God en mens is daar in hierdie godsdiens nie sprake nie, omdat sowel die oorsaak van die skeiding as die weg van versoening nie verstaan word nie. Die hemelse saligheid word voorgestel as ʼn situasie waar sinlike luste ten volle bevredig word.

Tereg onderskei Bavinck verskillende fases in die lewe van Mohammed. Dit is duidelik dat Mohammed aanvanklik ʼn egte “Godsoeker” (hanief) was. In Mekka het hy gesien hoe die politeïsme met sosiale onreg gepaard gaan. Hy het gesoek na ʼn God wat aan weduwees en wese reg verskaf. Mohammed het verwag dat die Jode in Medina hom met oop arms sou ontvang. Hy het immers die verering van hulle God gesoek? Toe die Jode hom egter nie as ʼn ware profeet ontvang het nie, het daar verwydering gekom. Mohammed het sy eie pad begin stap en ʼn eie godsbeeld begin ontwikkel. Bybelse gegewens het hy in sy eie sisteem ingepas. Die man wat as ʼn Godsoeker begin het, het ʼn valse profeet geword.

Dialoog🔗

In die ontmoeting met die Islam is daar rofweg drie benaderings. Die eerste benadering sê dat Jesus Christus die enigste Weg is wat tot die lewe lei. Die Islam word as ʼn dwaalweg gesien. Moslems moet derhalwe opgeroep word om hulle te bekeer. In die Islam is die saligheid nie te vinde nie. Die saligheid word uitsluitlik in Jesus Christus gevind. Hierdie benadering vind ons in die reformatoriese belydenisskrifte.

Die tweede benadering sien die Islam as ʼn godsdiens wat ‘strale van die waarheid’ besit. Volgens hierdie benadering moet ʼn mens die waarheidselemente wat daar in die Islam is, erken en daarop voortbou. Ook die Islam soek verlossing uit die ellende van hierdie wêreld. Egter, die volheid van die waarheid in Jesus Christus. Die saligheid lê by niemand anders as by Hom nie.

Die derde benadering is die sogenaamde dialoogbenadering wat stel dat ons die Islam as ʼn gelykwaardige godsdiens moet beskou en as sodanig met hulle in gesprek moet tree. Volgens hierdie benadering is daar geen godsdiens wat die waarheid volmaak besit nie. Enige godsdiens is waardevol solank dit opreg na liefde, waarheid en die lewe soek.

In ons tyd het die derde benadering baie aanhangers. Dialoog is ʼn populêre begrip. Dit is egter nie ʼn Bybelse begrip nie. In die Bybel vind ons wel die woord dialogiseer (Handelinge 17:2,17) wat beteken: om ʼn gesprek te voer. As ʼn mens egter die konteks lees, blyk dit dat dit nie ʼn vryblywende gesprek was nie. As Paulus met die Grieke dialogiseer, loop dit daarop uit dat hy sy hoorders oproep om hulle te bekeer en in Jesus Christus te glo. Paulus se dialoog was dus nie ʼn gewone gesprek nie. ʼn Mens sal dit eerder ʼn leergesprek of selfs ʼn preek noem.

Hoekom gebruik Lukas dan die woord ‘dialogiseer’ vir hierdie gesprek en nie ander woorde wat hy gewoonlik vir ‘preek’ gebruik het nie? Uit die konteks blyk dat Lukas wou duidelik maak dat Paulus geleentheid gegee het vir vrae en teëwerpings. Paulus het moeite gedoen om die denke van die heidene te verstaan en om dit so relevant as moontlik aan te spreek. Die gesprek wat hy met hulle gevoer het, was egter geensins vryblywend nie. Dit was prediking met ʼn oproep tot bekering. Daarom moet op Skriftuurlike gronde die dialoogbenadering afgewys word.

kind lees koran

Waarheidselemente🔗

Die tweede benadering, wat die Islam sien as ʼn godsdiens wat sekere waarheidselemente bevat waarby ʼn mens kan aansluit, lyk asof dit meer toepaslik is. In die Koran is daar immers name, begrippe en uitsprake wat uit die Bybel geneem is. Egter, ons moet nie vergeet dat hierdie Bybels klinkende uitsprake binne ʼn onskriftuurlike konteks funksioneer nie.

Een van die mees fundamentele dwalings van die Islam is dat Jesus Christus nie as die Seun van God erken word nie. Daarom kan ʼn mens die verskil tussen Christendom en Islam nie met die terme ‘meer en minder suiwer’ weergee nie. Om te sê dat die Islam ʼn minder suiwere godsdiens is en die Christendom die mees suiwere, is nie die oplossing nie. Die kern van die saak is dat in die Islam die waarheid nie gevind word nie. Die Waarheid is slegs in die Here Jesus Christus, wat Homself as die Weg, die Waarheid en die Lewe aangewys het. Ook teenoor die Islam moet ons vashou aan die woorde van Handelinge 4:12:

En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.