Die Heilsorde
Die Heilsorde
Wanneer ons in die teologie van die ‘heilsorde’ (Latyns: ordo salutis) praat, bedoel ons die wyse waarop die middele van die heil van die verlossingswerk deur die Heilige Gees aan God se volk gegee, en in hulle toegepas word. Met ander woorde, die ‘heilsorde’ beskryf die werk van God se Gees in ons.
Die naaste beskrywing wat ons in die Skrif van ʼn heilsorde kry, is in Romeine 8:30, maar dit is nie ʼn heilsorde in streng teologiese sin nie. Daar word, byvoorbeeld, gepraat van uitverkiesing, wat nie deel is van God se werk in ons nie, maar iets wat Hy vir ons gedoen het voor die grondlegging van die wêreld.
ʼn Tipiese heilsorde vind ons in die Groter Kategismus van Westminster: vereniging met Christus, die kragdadige roeping, regverdiging, aanneming, heiligmaking en verheerliking. Dikwels word hier wedergeboorte en geloof bygevoeg. In elke geval is die doel van so ʼn orde om die verhouding tussen die verskillende dele van die verlossingswerk in ons, wat in die Skrif beskryf word, te verstaan.
Wanneer ons van so ʼn orde praat, moet ʼn paar dinge in gedagte gehou word.
Ons moet besef dat dit slegs ʼn poging is om hierdie Bybelse begrippe te verstaan en dat dit geensins in ʼn meganiese, kronologiese sin verstaan moet word, asof ons eers die een weldaad ontvang, dan die ander nie. Die feit, uit ons ervaring, is dat baie van hierdie seëninge op dieselfde tydstip ontvang word. Sommige is ook nie ʼn eenmalige geestelike gebeure nie. Heiligmaking, byvoorbeeld, duur tot aan die oomblik van die dood van die gelowige. Die toepassing van die verlossingswerk vind nie ineens plaas nie, maar lewenslank, en word dikwels eers voltooi wanneer ons finaal met Christus in die hemel is. Dit word natuurlik ontken deur diegene wat in perfeksionisme en volkome heiligmaking glo; hulle is geneig om die toepassing van die saligheid as ʼn eenmalige ding te sien.
In ʼn Gereformeerde heilsorde is daar verskillende dinge wat beklemtoon moet word en wat nie veranderlik is nie. Wedergeboorte en kragdadige roeping moet geloof voorafgaan, anders word geloof die werk van ʼn mens – wat Armeniaans is. Geloof moet regverdiging voorafgaan, om die groot Protestantse waarheid van regverdiging deur geloof alleen gestand te doen. Laastens moet regverdiging heiligmaking voorafgaan, of ons beland by die Roomse leer van heiligmaking deur werke.
Met al hierdie dinge word bloot gesê dat die één ding wat ʼn heilsorde moet leer, is dat die toepassing van die heil geheel en al die werk van God self, deur die soewereine werking van die Heilige Gees, is; alles uit genade — “die heil is van die Here” (Jona 2:9).