Bron: Die Kerkblad, 1989. 5 bladsye.

Die Halaalmerk 'n Christelike beoordeling

Halaal teken

Agtergrond: Verskeie voedselprodukte dra van­dag die Halaalmerk in die vorm van 'n ster en 'n halfmaan. Hierdie halaalmerk het sy oorsprong in die Islam.

Islam en Moslem🔗

Islam is die naam van die godsdiens wat deur Moslems beoefen word. Alla word as enigste en hoogste godheid bely. Islam beteken dan ook onderwerping en vrede en gehoor­saamheid in aanbidding van die enigste skepper – Alla.

Die heilige Qur'an (of Koran)🔗

Die Qur'an is die heilige boek van die Moslems. Volgens oorlewering is die Qur'an in die 7e eeu n.C. deur die engel Gabriel aan hul heilige profeet, Muhammed geopenbaar. Volgens die Qur'an was Adam, Noag, Abraham, Moses en Jesus almal Islam-profete. Muhammed was egter die hoogste en heiligste profeet, wat Alla se boodskap aan die mensdom kom oordra het.

Ahmed Deedat, bekende Suid-Afrikaanse Moslem en leier van die Islamic Propagation Centre in Durban vat in enkele opmerkings die siening van die Moslems oor kernwaarhede van die Christendom as volg saam (vertaal):

Het ons Moslems die Bybel nodig om tot die waarheid van God te kom?

Die antwoord is ’n uitdruklike NEE!

Die Moslems se standpunt is baie duidelik:

  1. Erfsonde bestaan nie.
  2. Die Drie-eenheid is 'n versinsel.
  3. Jesus is nie God nie.
  4. God kies nie vir Hom kinders uit nie.
  5. Christus is nie gedood en ook nie gekruisig nie. (Deedat, A. 1977. 'Who Moved the Stone?' p. 11)

Moslempligte🔗

Die Moslem se pad is uitgestippel. Sy hele lewe is ingedeel in 'n presiese orde. Vyf 'pilare van die geloof' kan onderskei word:

1. G​eloofsbelydenis (ShahŌadah)🔗

Die hele geloofsbelydenis bestaan uit 'n enkele sin nl.: "LŌallaha ilia Llah Muhammadun rasula Llah" (Daar is geen God behalwe Alla nie en Mohammed is sy boodskapper). Alla is volgens dié belydenis ondeel­baar. Volgens die Moslem is die Drie-eenheidsleer van die Christen 'n valse godsdiens wat lynreg met die Islam in stryd staan.

moslim gebed🔗

2. Gebed🔗

Die Moslem moet vyf keer per dag bid. 'n Bepaalde gebedsformule word opgesê. Voor die gebed moet die liggaamsdele wat gewoonlik ontbloot is deeglik gereinig word. Dit word woedoe genoem. Die gebed bestaan uit lof en dankbaarheid asook versoeke. 'n Deel van die gebed lui as volg:

In die Naam van Alla, die Barm­hartige, die Genadige.
Alle lof kom Alla toe, die Heer van die wêrelde!
Die Barmhartige, die Genadige, Meester van die oordeelsdag.
U alleen aanbid ons en U alleen smeek ons om hulp.

Vir die Moslems bestaan daar geen dag soos die Sondag nie. Vrydag is die dag wat die naaste aan 'n heilige dag kom. Verkieslik moet Vrydag­middag se gebede in die moskee plaasvind. Gebedstye in die moskee word vanaf die minaret (die spits, slank toring van 'n moskee) aangekondig deur die muezzin (die een wat Moslems oproep tot gebed) met die volgende woorde:

Alla is die Allerhoogste!
Alla is die Allerhoogste!
Ek getuig dat daar geen ander God behalwe Alla is nie.
Ek getuig dat Mohammed die profeet van Alla is.
Staan op en bid, staan op en bid. Alla is groot.
Daar is geen God behalwe Alla nie.

Aanwending🔗

Die Qur'an bepaal in verband met die eet van voedsel: "Ek vind nie in dit wat aan my geopenbaar is enigiets wat verbode is om te eet nie, met die uitsondering van dooie of lopende bloed, of varkvleis – want dit is waarlik onrein – of dit wat sondig is omdat 'n ander naam as dié van Alla daaroor uitgeroep is" (Qur'an, Deel VIII, afd. 18).

Om dus aan te dui dat voedsel wettig en toelaatbaar vir Moslem­verbruik is, word die Halaalmerk op die voedselprodukte aangebring.

Oorsprong van die merk🔗

Waarskynlik het die halfmaan in die halaalmerk sy oorsprong te Kon­stantinopel gehad. Daar was die halfmaan simbool van soewereini­teit. Met die val van die Bisantynse Ryk is die simbool deur die Moslems oorgeneem. Hierdie halfmaansim­bool was egter heel vroeër, onge­veer die 9e eeu voor Christus, reeds die simbool van die heidense Assiriërs.

Die halfmaan, met of sonder sterre, het egter sedertdien die amp­telike simbool van die Islam geword.

skaap slag🔗

Slag van diere (Zibag)🔗

Om vleis aanvaarbaar vir Moslem­gebruik te verwerk moet die dier volgens 'n bepaalde metode geslag word. Dit staan bekend as zibag. Ook moet daar by zibag aan be­paalde voorwaardes voldoen word:

  1. Die persoon, manlik of vroulik, wat die slagwerk doen moet gesond van verstand wees en ook ’n Moslem of Kitabi wees. 'n Kitabi is enige persoon wat 'n sogenaamde openbare godsdiens, soos die Judaïsme of die Christendom, aanhang. 'n Dier wat deur 'n persoon onder die invloed van drank, of deur 'n verstandelik ge­stremde persoon of 'n minderjarige geslag is, is nie halaal nie en dus nie geskik vir menslike gebruik nie.
  2. Die dier moet met 'n vlymskerp mes keelaf gesny word om vinnige en oorvloedige bloeding te veroor­saak. Die dier moet hom as 't ware leegbloei aangesien die inneem van bloed volgens Islamitiese wet ver­bode is.
  3. Die nek van die dier moet onder die stemspleet gesny word sonder om die rugmurg te beskadig.
  4. Die naam van Alla moet uitgeroep word voordat die dier geslag word. Wanneer die Moslem die dier slag bid hy: "Bismillah-ir-rahman­ir-rahim" (In die naam van God (Alla), die barmhartige, die gena­dige).

By die slag van die diere speel dus sowel die korrekte metode as ge­loofsbelydenis 'n rol. Die feit dat Alla se naam uitgespreek moet word, het vir die Moslem ten doel om die heiligheid van die lewe te be­klemtoon asook die feit dat alle lewe aan Alla sou behoort.

Volgens Moslems is die zibag­metode die beste manier om diere te slag en word dit steeds gehand­haaf teen alle moderne slagmetodes.

Halaal op ander voedsel­produkte🔗

Die Halaalmerk word egter nie net op vleisprodukte aangetref nie, maar op 'n wye reeks ander produkte soos margarien, kookolies, aartappelskyfies en vriesgroente.

Skrywer hiervan het moeite ge­doen om presies vas te stel wat die betekenis en ritueel by die aanbring van die halaal op al hierdie voedsel­produkte is, maar moes volstaan by mondelinge vertellinge.

Volgens die bestuurder van 'n fa­briek wat kookolie produseer, word 'n fabriek wat die halaalmerk op sy produkte plaas gereeld deur 'n Mos­lem-amptenaar geïnspekteer of alles daar nog volgens Moslemvereistes toegaan. By dié enkele geleent­hede word die naam van Alla óók uitgespreek blykbaar om die hele tydperk te 'dek'.

Die Halaalmerk Skriftuurlik beoordeel🔗

Die halaalmerk is die amptelike simbool van die Islam. Die Islam verwerp die Drie-enige God en loën Jesus Christus as enigste Salig­maker en Verlosser.

Hierteenoor leer die Bybel ons in Johannes 5:23 "Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie," asook in 1 Johannes 2:22 "Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en Seun loën".

Teenoor God se Woord stel die Islam die Qur'an. Die Bybel leer ons in 2 Timoteus 3:16 "Die hele Skrif is deur God ingegee" en in 2 Petrus 1:19 "En ons het die profetiese woord wat baie vas is"

In wese antichristelik🔗

Die Islam is in sy wese duidelik antichristelik en vir die Christen geheel en al onaanvaarbaar.

halaal produkte

Die halaalmerk verklaar dat die naam van Alla oor só 'n produk uit­geroep is. En al was dit nie prakties moontlik om in die vervaardigings­proses van elke afsonderlike produk op die winkelrak Alla se naam uit te roep nie, sê die teken op die produk vir ons dat dit in beginsel wel gedoen is. Die naam van 'n valse godheid is dus oor die produk uitgeroep. In hierdie uitroep is Alla geloof en bely as god, die barmhartige en genadige. Alla is as't ware in die plek van die ware Drie-enige God aanbid en bely. Die produk is ook in hierdie gebed toegewy aan Alla as die alleenbesitter en skepper van alles.

Dit is interessant om daarop te let dat die slag van diere volgens Moslemvoorskrifte deur die Moslems die zibag genoem word. Dit is identies dieselfde woord wat in die oorspronklike Hebreeus in die Ou Testament vir slagoffer gebruik word (vgl. Genesis 31:54).

Deur die uitroep van die naam van Alla by die zibag word die dier of produk ook as't ware aan hom as sogenaamde alleenbesitter en skepper opge­dra. Die aanroep van Alla se naam bewerk volgens die Moslem suiwer­heid en reinheid en die metode van slag is Alla welbehaaglik. Om die elemente van 'n offer in die zibag te ontken, is om die oë vir die werklik­heid te sluit.

Die vryheids- en liefdesbeginsel🔗

Vir die gelowige geld twee duidelike beginsels in die vraag of ons halaal­gemerkte produkte mag koop en eet. Ons lees in 1 Korintiërs 10:23 "Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie, alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie".

Die eerste beginsel is die vry­heidsbeginsel. Vryheid beteken dat alles my geoorloof is. Eet en drink kan niks aan ons verhouding met God verander nie. 1 Timoteus 4:4 leer in hierdie verband: "…alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met dankseg­ging ontvang word nie".

Afgode bestaan nie en daarom is selfs offers aan hulle leeg en be­tekenisloos. Die eet van afgodsoffers kan op sigself die gelowige geen kwaad doen nie (1 Korintiërs 10:25).

'n Tweede beginsel is egter hier net so sterk geldig en dit is die liefdesbeginsel Vryheid sonder liefde kan 'n struikelblok wees (1 Korintiërs 8:9). In die uitoefening van my vryheid moet ek ook vra: Is dit nuttig en stig dit? (1 Korintiërs 10:23; Romeine 14:19).

Liefde tot God en liefde tot my naaste begrens my vryheid. Hierop word uitgebrei in 1 Korintiërs 10:31-33 "Of julle eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God. Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie".

Toegepas in die praktyk beteken dit eerstens dat alle voedsel op sigself toelaatbaar is. Afgodsoffer, halaalkos wat ons onwetend eet, is maar gewone kos.

Maar as vir ons gesê word dat dit aan 'n afgod gewy is, mag ons dit nie eet nie (1 Korintiërs 10:28). Die liefdes­beginsel beperk nou ons vryheid. Ons liefde tot God bepaal dat alles tot sy eer moet wees en afgodsoffers dien nie sy eer nie (1 Korintiërs 10:14). Ons liefde tot ons naaste weerhou ons ook van afgodsoffers, want deur ons daarvan te weerhou, verkondig ons aan die afgodedienaar dat sy afgodskos veragtelik en die afgod verwerplik is. Deur onthouding van afgodsoffer verkondig ons dat daar net een Saligmaker en Verlosser bestaan, naamlik Jesus Christus alleen.

Ons eet nie bewustelik afgodsof­fers nie, ook ter wille van ons mede­gelowiges. Die moontlikheid bestaan altyd dat ek my medebroe­der deur afgodsoffer aanstoot kan gee, of selfs laat struikel deur by hom, byvoorbeeld, die indruk te wek dat die afgode tog aanvaarbaar is (1 Korintiërs 8:13; Romeine 14:15).

moskee🔗

Geloofsbou🔗

Die gelowiges word opgeroep om saam te groei tot die eenheid van die geloof in Christus (Efesiërs 4:11-14). Hierdie geloofsbou behels ook, en veral, 'n kragtige stry vir die geloof (Judas 3).

Geloofsbou word ondermyn deur onder andere die verleiding van Bileam wat in die gemeente insluip (Judas 4 en 11). Die gemeente van Pergamus word ook in Openbaring 2:14 teen hierdie selfde leer van Bileam in die midde van die gemeente gewaarsku. Bileam se leer behels die verleiding van die ge­meente tot die eet van afgodsoffers. Geloofsbou beteken prakties om 'n duidelike afwysende NEE te laat hoor vir alle halaalgemerkte voedsel. Hierdie voedsel bied hulself aan as afgodsgewyde produksie – dit is 'n merk waar die Christen duidelik moet halt roep. Om hier te oortree beteken verval en verwate­ring van die Christelike geloof. Daar is vir die gelowige geen gemeenskap met of verdraagsaamheid teenoor die valse godsdiens van die Islam moontlik nie.

Slotwoord🔗

Die louheid en traak-my-nie­-agtigheid waarmee die verbreiding van die Islam deur vele Christene gade geslaan word, stem tot erns­tige kommer. Die naïwiteit waar­mee die hele saak soms afgemaak word, as sou ons almal tog maar dieselfde God aanbid, is verstom­mend.

In die Islam word ons gekonfron­teer met 'n magtige wêreldgods­diens wat die ware God nie ken en bely nie. Die produkte op ons winkel­rakke roep ons toe dat die oes geel op die lande staan. Om die bestaan van 'n al groter wordende heiden­dom in ons eie midde weg te rede­neer, is verloëning van ons Christen­skap. Om 'n algemene verdraag­saamheid te handhaaf hier waar ons prontuit gekonfronteer word, is ver­loëning van ons roeping.

Ons taak, ons roeping is om in woorde maar ook in voorbeeld Jesus Christus as enigste Saligmaker en Verlosser ook aan die Moslems te verkondig. En daarmee kan elkeen van ons vandag nog begin ook deur weiering om produkte te koop wat met 'n halaalmerk aan hierdie valse, mensbedinkte godheid toege­wy is.