Die Gesag van die Bybel
Die Gesag van die Bybel
“Sonder die Woord van God is ek niks, het ek niks, weet ek niks. Ek het altyd gevoel: wanneer die Skrif nie die Woord van God is nie dan is ek verlore en dan is ook my werk niks.”
1. Kritiek op die Bybel⤒🔗
Die woorde wat aan die begin van hierdie artikel staan, is uitgespreek deur prof. S. Greijdanus toe hy met sy kollegas en leerlinge die feit herdenk het dat hy dertig jaar lank hoogleraar was in die Nuwe Testament.
Die gesag van die Bybel was vir prof. Greijdanus nie ’n probleem nie. Hy het die goddelike gesag van die Bybel onvoorwaardelik aanvaar, want hy het besef dat sy hele lewe, sy arbeid en sy ewige toekoms afhanklik is van die Bybel. Sonder die Woord van God is die lewe en arbeid van ’n mens sinloos en is daar vir die mens nie ’n toekoms nie
Daar is egter vandag baie mense wat twyfel aan die gesag van die Bybel. Aanhoudend hoor ons die vraag: is die Bybel wel werklik die Woord van God? Kan en moet ons alles wat in die Bybel staan aanvaar as die Woord van God? Daar word deur baie mense selfs onomwonde gesê dat die Bybel nie in al sy dele die Woord van God is nie.
- Deur die opgrawings in die oosterse lande, die lande van die Bybel, is aangetoon dat verskillende dinge wat die Bybel ons leer oor die godsdiens van die volk Israel ook bekend was by die volkere rondom Israel.
Om ’n paar voorbeelde te noem: die volk Israel het die besnydenis gehad, maar die heidense volkere rondom Israel ook. Die Jode het in hulle erediens offers gebring, maar die heidenvolkere ook.
Israel het ’n besondere wetgewing gehad, maar nou is deur die opgrawings aangetoon dat die Babelse koning Hammurabi sy volk ook wette gegee het wat soms letterlik ooreenstem met die wette van Moses.
Hieruit is die konklusie getrek: daar is eintlik nie verskil tussen “Babel” en die “Bybel” nie,
Later het wel geblyk dat hierdie konklusie baie voorbarig was en dat daar by alle uiterlike ooreenkoms tog groot innerlike verskille was tussen die godsdiens van Israel soos ons dit vind in die Bybel en die godsdienste van die heidense volkere.
- ’n Tweede faktor wat die gesag van die Bybel ondermyn het, is die ewolusieleer.
Volgens hierdie teorie is daar ’n ontwikkeling in die natuur van latere tot hoëre vorme. Hierdie teorie wat veral toegepas is op die natuur, is ook toegepas op die ontstaan van die Ou Testament. Daarvolgens is die godsdiens van die volk Israel beskou as ’n hoëre ontwikkeling van ’n laere primitiewe godsdiens van veelgodedom.
- Ten derde het ook die ontwikkeling van die natuurwetenskap op die gesag van die Bybel ’n verkeerde invloed uitgeoefen.
Daar is ’n orde en wetmatigheid in die natuur ontdek en in daardie geslote orde en vaste patroon is nie meer plek vir wonders waar die Bybel van praat nie.
Op grond van die resultate van die natuurwetenskap is daar dan ook baie mense wat nie meer kan aanvaar dat die stom lasdier van Bileam met die stem van ’n mens gepraat het en dan Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van ’n vis gebly het en dat Lasarus uit die graf opgewek is nie.
By hierdie radikale Skrifkritiek bly daar van die Bybel nie baie oor nie. Ons kry ’n Bybel sonder inhoud en daardeur ’n geloof sonder grond.
2. Die gesag van die Bybel ondergrawe←⤒🔗
Nou is daar mense wat nog wel by die Bybel wil lewe en met die Bybel wil werk, maar wat tog nie die goddelike gesag van die Bybel volledig wil aanvaar nie. Om nou die Bybel aan te pas aan hulle beskouings, gaan hulle die gesag van God se Woord ondergrawe.
Hulle wil nie langer aanvaar dat alles wat in die Bybel staan met ’n goddelike gesag tot ons kom nie en nou probeer hulle die gesag van die Skrif te ondermyn. Ons sien vandag duidelik twee vorme van Skrifkritiek waarteen ons gewapen moet word.
- In die eerste plek kry ons ’n redusering van die Skrifgesag. Ons vind dit veral by ’n Duitse teoloog Rudolf Bultmann. Hy maak ’n sterk onderskeiding tussen wat hy noem die feitelike voorstelling in die Nuwe Testament wat deur die tyd waarin alles geskryf is gekleur en bepaal is en die kern, die boodskap, die “kerygma” van die Nuwe Testament.
Volgens Bultmann is ons hoegenaamd nie gebind aan die letter van die Bybel nie, maar aan die diepere sin, die diepere betekenis van die Bybel.
Die feit van die opstanding van Christus soos dit in die Nuwe Testament beskryf word, beteken volgens Bultmann absoluut nie dat daar ’n werklike opstanding uit ’n graf plaasgevind het nie. Dit is mos in stryd met die wette van die natuur en die wetenskap.
Nee, so sê Bultmann, dit gaan vir ons net om die boodskap wat die verhaal van die opstanding ons wil verkondig en dit is dat ons tot die ware eksistensie, die ware persoonlike lewe teenoor die natuur moet kom.
Op hierdie wyse word die Bybel egter oorgelewer aan die willekeur. Wanneer die feite wat die Bybel vermeld nie meer vasstaan nie, maar ons agter die feite, nadat hulle van hulle mitologiese vormgewing ontdoen is, die diepere betekenis moet soek, dan kan elkeen uit die Bybel haal wat hy wil.
- In die tweede plek kry ons nog ’n ander manier waarop geprobeer word om die gesag van die Bybel te ondergrawe. En dit vind ons by ’n ander teoloog uit Wes-Europa, naamlik Karl Barth.
By Barth kry ons ’n aktualisering van die Skrifgesag.
Volgens Barth is die Bybel nie die Woord van God nie. God is die verborge God. Hy is die onbekende.
Maar nou kan die verborge God Hom op ’n bepaalde oomblik aan my openbaar en op daardie oomblik word die Bybel die Woord van God.
Ook op hierdie manier bly daar van die Bybel as die Woord van God niks oor nie. Ook al lees en bestudeer ons die Bybel tog kan ons niks van God weet tensy Hy Hom op ’n bepaalde oomblik openbaar.
In verband met die toekoms van die Kerk en die voortgang van die sendingwerk is dit absoluut noodsaaklik dat ons die goddelike gesag van die Bybel handhaaf. Wanneer ons nie meer kan aanvaar dat die Bybel van die begin tot die einde die Woord van God is nie, dan ondergrawe ons die fondamente van die Kerk en dan ontneem ons die sending sy enigste krag waardeur die arbeid met seën verrig kan word. Wanneer ons daaraan twyfel of die Bybel wel ten volle die Woord van God is, dan ontneem ons ook die gelowige sy sekerheid en sy troos. Ons moet dus liewer maar die smaad dra dat ons fundamentaliste is.
Ons fondament is die Bybel wat ons beskou as die geïnspireerde Woord van God.
Die standpunt van die Rooms-katolieke kerk←↰⤒🔗
Daar is ’n groot mate van ooreenkoms tussen die Kerk van die Reformasie en die Rooms-katolieke kerk ten opsigte van die gesag van die Bybel.
Die Rooms-katolieke kerk bely ook die gesag van die Heilige Skrif. Op hierdie punt stem ons saam.
Maar tog is daar ook ’n groot verskil.
Die verskil tussen Rome en die Reformasie gaan egter nie oor die AARD van die gesag van die Bybel nie, maar dit gaan oor die OMVANG van die Skrilgesag.
Die Reformasie het die gesag net tot die Bybel beperk, maar Rome het dit uitgebrei tot die oorlewering, die tradisie van die Kerk.
Volgens Rome kan ons nie net in die Bybel die stem van God beluister nie, maar ook in die oorleweringe van die Kerk.
Hoewel daar in die Rooms-katolieke kerk opmerklike verskuiwinge te vinde is in die verhouding van Skrif en tradisie en dit veral na die tweede Vatikaanse konsilie duidelik geword het, slaan dit tog vandag vir die Rooms-katolieke kerk nog vas dat die Woord van God nie net uit die Heilige Skrif nie, maar ook uit die oorlewering van die Kerk tot ons kom.
En hierdie standpunt is vir ons ook onaanvaarbaar.
3. Die antwoord van die skrif self←⤒🔗
Wanneer ons ’n antwoord soek op die vraag of die Bybel werklik die Woord van God is en hoe ons kan weet dat die Bybel maar nie net ’n menslike boek is nie, dan is dit die beste om na die Bybel self te luister.
Ons sal dan aandag gee aan die houding van Jesus ten opsigte van die Ou Testament, die houding van die apostels en omdat dit nou daarmee in verband staan, die houding van die ou Kerk.
- Die houding van Jesus ten opsigte van die Ou Testament.
Die houding van die Here Jesus Christus ten opsigte van wat Hy as die Heilige Skrif geken het, die Ou Testament, is vir ons onderwerp van deurslaggewende betekenis.
Op hierdie punt behoef daar vir ons nie enige twyfel te bestaan nie.
Hoewel Jesus die Seun van God was, het Hy Hom nie ver bo die Bybel verhef nie, maar Hy het Hom kinderlik onder die Bybel gebuig.
Die eerste ding wat ons kan vasstel, is dat die Here Jesus Christus die Ou Testament aanvaar het as die ewige en onveranderlike Woord van God. Daarom sê Hy in Matt. 5:18: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.”
En in die volgende vers gaan Jesus nog verder en trek Hy die konklusie dat die plek wat ’n mens in die Koninkryk van die hemele inneem selfs afhanklik sal wees van die eerbied wat teenoor hierdie wet bewys is.
Jesus haal ook die Ou Testament aan as die laaste, beslissende instansie (Joh. 10:35).
Nie alleen het Christus aan ander mense die Ou Testament as die Woord van God voorgehou nie, maar Hy het Hom volledig daaraan onderwerp.
Hy het die Ou Testament gelees as die Woord van Sy Vader en wanneer Hy deur die duiwel versoek word, dan oorwin Hy die versoeking deur gehoorsaamheid aan die Woord van Sy Vader (Matt. 4:1 v.v.; Lukas 4:1 v.v.).
Sy gehele optrede was ’n bevestiging van die Ou Testament.
Sy prediking het Hy beskou as ’n vervulling van die Skrif (Lukas 4:18 v.v.).
Hy het siekes genees sodat die Skrif vervul sou word (Matt. 8:16, 17).
En ook sy lyding en sterwe het Hy beskou as ’n vervulling van die profesie, want Hy sê vir Sy dissipels:
“Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word” (Lukas 18:31).
En na Sy opstanding sê Hy vir Sy dissipels: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses, en die profete en die Psalms, vervul moet word.”
Uit hierdie woorde van Jesus blyk duidelik dat Hy die Skrif ten volle as die Woord van God aanvaar het. In Sy diens, Sy lyde, sterwe en opstanding weet Hy Hom aan die Skrif gebonde.
Daarom kan ons nie waaragtig aan Christus verbonde wees wanneer ons nie Christus se houding teenoor die Skrif wil oorneem nie.
As Christus Hom so aan die Skrif gebind het, hoe pas dit dan ons om onsself aan die Bybel te onderwerp as die Woord van God.
- Die houding van die apostels.
By die apostels sien ons dieselfde houding ten aansien van die Heilige Skrif as by Jesus.
Die sendingarbeid van Petrus byvoorbeeld word aan die Ou Testament getoets, waaruit blyk dat die Ou Testament vir die apostels ’n beslissende en definitiewe gesag gehad het (Hand. 15:14, 15).
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs noem die woorde van die Psalmdigter die woorde van die Heilige Gees (3:7). Wat in die Ou Testament beskryf is, beskou hulle as iets wat werklik gebeur het (2 Kor. 11:3; 2 Petrus. 2:16).
Dan kom daar egter by die apostels nog iets nuuts by.
Nie alleen was die Ou Testament vir hulle gesaghebbend nie, maar ook die Woord van Christus (Hand. 20:35) en ook hulle eie woorde. Die apostels het geweet dat hulle deur Christus geroep ís om ’n besondere taak te vervul, naamlik om as verteenwoordigers van Christus die Kerk te fundeer (Gal. 2:7 v.v.; 2 Kor. 10:8; 13:10). Daarom kan die apostel Paulus elkeen in die gemeente ook met absolute gesag aan sy woorde bind: “As iemand meen dat hy ’n profeet of ’n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is” (1 Kor. 14:37).
Die apostoliese woord het die gesag gehad van die Woord van God.
- Die houding van die ou Kerk.
Ons sien ook in die ou Kerk dat die apostoliese woord opgevat is as die Woord van God.
In die erediens van die ou Kerk is die Ou Testament gelees, maar daarnaas ook die Evangelies en die apostoliese briewe.
In Kol. 4:16 en 1 Thess. 5:27 vind ons ’n verwysing na hierdie gewoonte, waaruit blyk dat die ou Kerk die Ou Testament en die Nuwe Testament op een lyn geplaas het. In die tweede brief van Petrus word die briewe van Paulus ook op een lyn gestel met die ander Skrifte (2 Petrus 3:15, 16).
As die Kerk in die midde van die tweede eeu die grense van die kanon van die Nuwe Testament vasgestel het, beteken dit tog nie dat die kanon toe eers deur die Kerk gemaak is nie, maar dan wil dit net sê dat daardie boeke wat in die ou Kerk feitlik al lank gesag uitgeoefen het, toe as gesaghebbend erken is.
4. Die standpunt van die reformatore←⤒🔗
Die reformasie van die 16e eeu het in sy stryd teen die Rooms-katolieke kerk weer teruggegaan tot die Heilige Skrif. Sola Scriptura, deur die Skrif alleen, was een van die leuses van die reformasie.
Vir die reformatore, Luther en Calvyn, het die gesag van die Heilige Skrif vas gestaan. Hulle het by die Skrif gelewe en hulle het onder die Skrif gebuig.
Die standpunt van die reformatore is baie duidelik saamgevat in Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis waar gesê word:
“Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid, daarin genoegsaam geleer word. Want aangesien die wyse waarop deur ons gedien moet word, daarin geheel en al en uitvoerig beskrywe is, is dit aan geen mens, al was dit ook die apostels, geoorloof om ander te leer nie as wat ons reeds geleer word deur die Heilige Skrifte; ja al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê. Want omdat dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat, is daardeur duidelik genoeg dat die leer daarvan geheel volmaak en in alle opsigte volkome is. En geen geskrifte van mense, hoe heilig hulle ook al gewees het, mag met die Goddelike Skrifte gelykgestel word nie, of ook die gewoonte met die waarheid van God nie - want die waarheid is bo alles - of ook die groot menigte of die oudheid of die opvolging van tye of persone, of die Kerkvergaderinge, verordeninge of besluite nie; want alle mense is uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self. Daarom verwerp ons van ganser harte alles wat met hierdie onfeilbare reël nie ooreenkom nie, soos die apostels ons geleer het as hulle sê: Stel die geeste op die proef of hulle uit God is. En ook: As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie.”
5. Ons standpunt ten opsigte van die Bybel←⤒🔗
Wat moet ons standpunt ten opsigte van die Bybel wees in hierdie tyd waarin van verskillende kante die gesag van die Heilige Skrif ondermyn word?
Die antwoord op hierdie vraag kan nie moeilik wees nie.
Ons houding ten opsigte van die Bybel mag nie anders wees as die houding van die Here Jesus Christus, die apostels, die ou Kerk en die reformatore nie. Daar is net een instansie in hierdie wêreld wat absolute gesag besit en dit is die Heilige Skrif. En daarom moet ons onsself aan die Skrif gebonde weet soos aan die Woord van God Self.
Wanneer ons dit gelowig erken en ons met dieselfde heilige eerbied en ontsag die Bybel wil benader soos dit deur Jesus, die apostels, die ou Kerk en die Reformatore gedoen is, dan het dit vir ons verskillende konsekwensies.
- Die eerste konsekwensie van die erkenning van die absolute gesag van die Heilige Skrif is dat ons die Skrif moet LEES.
Wanneer ons die gesag van die Bybel erken, dan moet ons persoonlik die Bybel lees en tot ons laat spreek.
Wanneer die Bybel vir ons ’n geslote boek bly en ons nie daagliks die Woord van God lees en ondersoek nie, dan maak ons ons ook skuldig aan die ergste vorm van Skrifkritiek, want dan ag ons die Woord van God tog nie belangrik genoeg om tot ons te laat spreek nie.
- Wanneer die Skrif die Woord van God is, dan sal ons met ons gedagtes en oorlegginge alleen die Skrif nie kan verstaan nie.
Wanneer die Bybel die Woord van God is, dan moet God Self deur Sy Heilige Gees die Skrif vir ons verstaanbaar maak. Daarom kan daar nie ’n lees van die Bybel wees sonder gebed nie. Dit beteken nie dat daar altyd ’n formulier-gebed aan ons lees van die Bybel vooraf moet gaan nie, maar dit beteken wel dat ons alleen as mense wat die geheim van die gebedslewe ken, die Bybel moet lees.
Want deur ’n lewe van gebed leer ons om ons gedagtes gevange te laat neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5).
Daar moet in ons lewe ’n voortdurende gebed wees om die Heilige Gees wat ons in die waarheid van die Skrif inlei.
- Die derde konsekwensie is dat ons die Bybel in OOTMOED moet lees.
Dit beteken dat ons nie in verband met iets wat ons in God se Woord nie verstaan nie moet sê: dit kan nie so wees nie.
Wanneer ons die Bybel lees, moet ons tog altyd besef dat ons as nietige, sondige mense met ’n beperkte en verduisterde verstand teenoor die Woord staan van ’n heilige en almagtige God.
Ons lees in Jeremia 36 van koning Jojakim wat in sy paleis sit en luister na die voorlesing van ’n rol van die profeet Jeremia.
En elke keer het die koning, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van die skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was (vers 23). Dit is wat ook vandag gebeur.
Mense tot wie die Woord van God kom, gaan in daardie Woord sny.
Koning Jojakim het daardie Woord wat tot hom gekom het, nie aangenaam gevind nie, en daarom het hy die Woord stukkend gesny, hoewel dit die waarheid van God was.
Ons moet tog oppas dat ons nie deur ons hoogmoed, deur ons verstandelike insigte en ons eie wysheid die Woord van God stukkend sny nie, want dit is wat feitlik gebeur vandag deur al die vorme van Skrifkritiek.
Dit sal beter wees wanneer die Woord van God wat lewend en kragtig is en skerper as enige tweesnydende swaard ons gaan sny en deurdring tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg en ’n beoordelaar is van die oorlegginge en gedagtes van die hart (Hebreërs 4:12).
- Die laaste erkenning van die gesag van die Heilige Skrif is dat ons die Bybel IN GEHOORSAAMHEID moet lees.
Dit wil sê dat ons ook soek om te lewe volgens die heilige Woord van God.
Dit is nie voldoende om met ons monde die onfeilbare gesag van die Bybel te aanvaar nie.
Jesus het gesê: “...Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen - Ek sal wys soos wie hy is” (Lukas 6:47).
Erkenning van die gesag van die Heilige Skrif beteken ook dat ons ons gehele lewe in woord en daad rig na God se onfeilbare Woord.
Wanneer ons so biddend, ootmoedig, gehoorsaam die Bybel lees en aan die Woord van God gebonde is, dan is ons ook gebonde aan die God van die Woord, want wie deur die Heilige Gees aan die Skrifte van Christus verbonde is, die is ook verbonde aan die Christus van die Skrifte.
Literatuur←⤒🔗
G. C. Berwouwer, Het probleem der Schriftkritiek, Kampen, 1938.
H. Jocrums, Bekenntnis, Gottes Wort bleibt Gottes Wort. Wuppertal. 1964.
A. Kuyper, De hedendaagse Schriftkritiek, Amsterdam, 1881.
M. Lloyd-Jones, Authority, onden, 1962.
J. I. Packer, 'Fundamentalism' and the Word of God, Londen, 1958.
H. N. Ridderbos, Heilsgeschiedenis en Heilige Schrift, Kampen, 1955.
N. B. Stonehouse and P. Walley, The infallible Word. Philadelphia. 1948.
E. J. Young, Thy Word is Truth, Grand Rapids, 1957.
S. U. Zuidema. Van Bultmann naar Fuchs. Franeker, 1964.
S. U. Zuidema, De Christus der Schriften en de oecumenische theologie, Amsterdam, 1965.