Die Gemeenskap van die Heiliges
Die Gemeenskap van die Heiliges
⤒🔗
Historiese Beligting←⤒🔗
Een van die groot seëninge wat ons in die kerk van die Here mag geniet en wat ons as 'n kosbare gawe moet gebruik, is die gemeenskap van die heiliges. Hierdie uitdrukking kom nie regstreeks in die Bybel voor nie, maar is een van die artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis.
Die artikel oor die gemeenskap van die heiliges is eers laat in die Apostoliese Geloofsbelydenis opgeneem. Waarskynlik tussen die jare 350 en 500 na Christus. Oor die betekenis van hierdie uitdrukking was daar in die loop van die eeue verskil van opvatting. Die Latynse formulering bied twee moontlikhede van vertaling en van betekenis. Daar kan gedink word aan 'n gemeenskap van persone, naamlik gelowiges, maar ook kan bedoel wees 'n gemeenskap van heilige dinge, en dan dui die formulering op die sakramentsgemeenskap.
Miskien is die laaste opvatting wel die oudste, en die aantreklike van hierdie opvatting is dat op hierdie wyse die sakramente ook in die eerste algemene belydenisgeskrif van die kerk genoem word. Inderdaad is die gemeenskap wat ons in die kerk met die Drie-enige God, met Christus, met mekaar mag beoefen, sakramenteel van aard.
Persoonlike←⤒🔗
Tog mag ons die uitdrukking "gemeenskap van die heiliges" nie tot die sakramente beperk nie. Histories staan vas dat daar naas die sakramentele opvatting ook al die persoonlike opvatting was. Reeds in die tyd van Ambrosius en Augustinus vind ons die sakramentele en persoonlike opvatting naas mekaar. By die persoonlike opvatting, dus die gemeenskap van die heiliges as 'n gemeenskap van gelowiges, is die vraag gestel of dit 'n gemeenskap is in vertikale sin van die gelowiges op aarde met die verlostes in die hemel, of dat ons hier net moet dink aan 'n gemeenskap in horisontale sin: die gemeenskap van die lede van die kerk op aarde.
Die Rooms-Katolieke teologie het veral die nadruk gelê op die gemeenskap in vertikale sin. In hierdie opvatting is dan ingebou die verering van gestorwe heiliges, die voorbede vir die siele in die vagevuur en die verdienstes van die heiliges in die hemel.
Calvyn en, in navolging van die groot reformator, ook die Heidelbergse Kategismus het die gemeenskap van die heiliges opgevat in horisontale sin: as 'n gemeenskap van die gelowiges op aarde. Calvyn lê veral die klem op die broederlike liefde. Wel vind ons by Calvyn ook die vertikale lyn, maar dan is dit net tot Christus beperk. Die gelowiges is tot die gemeenskap met Christus vergader en met die weldade wat God hulle skenk, dien hulle mekaar (Inst. IV 1, 3). Ons wil veral aandag gee aan hierdie betekenis van die gemeenskap van die Heiliges as die heilige verbintenis van wie almal in hul Here één liggaam is (Skrifberyming 27:5). Die gemeenskap van die heiliges is 'n gawe van Christus aan sy kerk en daardie gemeenskap moet deur ons beoefen word.
'n Bedreigde Gemeenskap←⤒🔗
Die gemeenskap van die heiliges is in die kerk van die Here dikwels 'n bedreigde gemeenskap, en soms selfs 'n geskonde gemeenskap. Eerstens is daardie bedreiging van buite. Vyandskap en vervolging van die wêreld probeer om die gemeenskap te verwoes. Die geskiedenis van die kerk leer ons egter dat juis deur bedreiginge van buite die gemeenskap van die gelowiges in die kerk sterker geword het. 'n Groter bedreiging is daarom die sonde binne die kerk wat so gemaklik die gemeenskap van die heiliges kan verwoes.
Tussen die geskrifte van die Apostoliese Vaders vind ons die brief van Clemens Romanus wat hy in die jare 95 of 96 na Chr. aan die Christelike gemeente te Korinthe geskryf het. Ons kan die eerste brief van Clemens aan die gemeente te Korinthe aandui as 'n besielende oproep om tog die gemeenskap van die heiliges te beoefen (vgl. hoofstuk 37, 1-39, 9). Clemens wys met soveel nadruk op die betekenis van die gemeenskap van die heiliges omdat hy weet hoe gemaklik daardie gemeenskap deur allerlei sonde verbreek kan word. Met 'n groot aantal voorbeelde uit die Οu Testament toon hy aan hoe twis, naywer, afguns, eersug onder die gelowiges van die Οu Verbond die gemeenskap verwoes het (vgl. hoofstuk 4:1-18, 17).
En wanneer Clemens van die Ou-Testamentiese voorbeelde afstap en die toestand van die gemeente te Rome gaan beskrywe, dan kan ons in die vyfde hoofstuk lees dat vooraanstaande figure uit die Christelike gemeente te Rome deur afguns en jaloersheid aan die vervolgers van die kerk oorgelewer is tot die marteldood (5:1-7). Verskillende verklaarders van hierdie brief is van oordeel dat Clemens hier sinspeel op die marteldood van Paulus en Petrus. Soos Christus deur iemand uit sy eie dissipelkring verraai is, so het dit ook met Paulus en Petrus gebeur. Verraad uit eie gemeente het hulle martelaars laat word.
In elke geval is deur Clemens duidelik gestel dat so dikwels deur die sonde van wanbegrip, vooroordeel, misverstand, hoogmoed en afguns die gemeenskap van die heiliges geskend word.
Wanneer ons egter met 'n bepaalde broeder of suster van die gemeente nie kan klaarkom nie, dan is daarmee maar nie net die goeie verhouding met dáárdie broeder of suster versteur nie, maar dan is dit tot skade van die gehele gemeente. Dit is met die gemeente immers soos met 'n liggaam: pyn op 'n bepaalde plek in die liggaam veroorsaak dat die hele mens nie goed voel nie. Daarom kan ons ons dit net nie veroorloof om met 'n bepaalde broeder of suster in onmin te lewe nie. Dit is sonde voor God en dit skaad die gemeente. Elke lidmaat van die kerk het die roeping om, aan die een kant, alles weg te neem wat dreig om die gemeenskap van die heiliges te verwoes en, aan die ander kant, om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend.
Die Groot Voorwaarde←⤒🔗
Die groot voorwaarde vir die beoefening van die gemeenskap van die heiliges is die wandel in die lig (1 Joh. 1:7). As ons in die lig wandel, dan het ons gemeenskap met mekaar. Dit beteken dat ons die lig van die Woord van die Here oor onsself en oor ons verhoudinge ten opsigte van mekaar moet laat skyn. Daarom gaan ons kerk toe. Die kerkgang beteken onder andere dat ons die lig van die Woord van God oor ons lewe en oor ons verhouding tot die naaste laat skyn. Wat ons dink, wat ons spreek en wat ons doen, kom dan onder die tug van die Bybel.
Vir die funksionering van die gemeenskap van die heiliges is daarom die Woord van God van allesbeslissende belang. Die gemeenskap van die gelowiges met mekaar gaan dieper as alle vriendskap, kollegialiteit of huwelikskameraadskap, want die gemeenskap van die heiliges is in Christus gewortel. Daarom moet die gemeenskap van die heiliges ook deur die Woord van Christus in stand gehou, gevoed en versterk word. Daar kan goeie verhoudinge wees tussen lidmate van die gemeente. Maar wanneer in daardie verhoudinge die Woord van God nie werksaam is nie, wanneer die lig van die Bybel nie op daardie verhoudinge inwerk nie, dan moet ernstig betwyfel word of daardie goeie verhoudinge as die gemeenskap van die heiliges aangedui kan word.
Dieper Daal←⤒🔗
Ons moet oppas dat vriendskap, gemeenskaplike belangstelling vir dieselfde dinge, 'n gelyke lewensuitkyk – almal goeie dinge – nie met die gemeenskap van die heiliges verwar word nie. Die gemeenskap van die heiliges gaan dieper. Dit raak die wortels van die lewe. Die gemeenskap van die heiliges is gebou op die versoening en vergewing wat Christus ons skenk.
Die diepste kern van ons bestaan is ons verhouding tot God. Ons staan skuldig voor die heilige aangesig van God die Here. Maar Christus dien ons met sy vergewing wat Hy aan die kruis verwerf het. Die skuld is versoen, vir die sonde is betaal. „Gods vriendelike aangesig straal vrolikheid en lig". Deur geloof geniet ons hierdie heerlike weldade. Die medebroeder of suster geniet dieselfde. Saam mag die gelowiges lewe uit die wonder van God se vergewende liefde in Christus Jesus. Dit gee 'n nuwe verhouding tot God maar ook 'n nuwe verhouding tot die naaste wat dieselfde in sy verhouding tot die Here ondervind het.
Hoewel daar dus 'n wesentlike verskil is tussen die gemeenskap van die heiliges en ander vorme van gemeenskap soos gehudes, vriende, kollegas ens. gaan daar van die gemeenskap van die heiliges 'n wonderlike verrykende werking uit op ander vorme van gemeenskap. Wanneer die huweliksgemeenskap, die verhouding tussen vriende, die kollegialiteit gewortel is in die gemeenskap van die heiliges, dan kom daardie ander vorme van gemeenskap tot die rykste ontplooiing. Daarom is die gemeenskap van die heiliges nie net in die kerk nie maar ook in alle samelewingsverbande van fundamentele belang.
Die gemeenskap van die heiliges moet daarom as 'n kosbare gawe van die Here aan sy kerk waardeer word. Die gelowiges moet hulle in hierdie gemeenskap oefen, want die gemeenskap van die heiliges is een van die sterk dryfvere wat die werfkrag van die kerk vergroot. Wanneer daar vandag gekla word dat die kerk nie meer aantrekkingskrag op hulle wat buite staan uitoefen nie, dan kan daar gevra word of die gemeenskap van die heiliges wel op die regte wyse deur die lidmate van die kerk beoefen word.
Daarom wil ons in die volgende artikels nagaan wat die Nuwe Testament ons leer oor die gemeenskap van die heiliges en watter waardevolle aanwysings gegee word tot herstel en uitbou van hierdie wonderlike gawe van Christus aan sy kerk.