Bron: Kompas, 2010. 8 bladsye.

Die Franse Rewolusie - Lesse vir die Nuwe Suid-Afrika

Franse Rewolusie🔗

Ver van my Bed…🔗

Die Franse Rewolusie het in 1789 begin. Het dit sin om jou in die 21ste eeu nog daarin te verdiep? Ek hoop dat hierdie artikel dit sal opklaar. Inderdaad, die Franse Rewolusie het nog steeds invloed op vandag. Kom ons begin met ʼn praktiese voorbeeld:

Hoekom ry ons aan die linkerkant van die pad, terwyl hulle in Europa regs ry?

Lank gelede het alle mense links gery. Dit het ontstaan uit die gebruik dat ruiters te perd mekaar links verbygegaan het. Hulle kon dan met hul regterhand die aankomende persoon groet, of hul swaard uittrek. Na die Franse Rewolusie het dit verander. Aangesien die rewolusie ʼn beweging was van die massas, en aangesien net die adel dit kon bekostig om te perd of met ʼn perdekar te reis, het die massas in die gees van die rewolusie gesê: voortaan moet alles anders wees. As die adel links ry, gaan ons regs ry. Dit was die nogal irrasionele rede hoekom die verkeer in Frankryk van toe af regs begin ry het. Dit is ook ingevoer in alle lande op die vasteland van Europa wat Napoleon beset het. Napoleon het egter teen Engeland verloor, en dus het hulle in Engeland links bly ry. Vandag sien ʼn mens dat in alle lande wat eens ʼn Britse kolonie was, die verkeer links is, terwyl lande wat destyds onder Franse bewind gestaan het, of sterk deur die rewolusie beïnvloed is (soos die VSA), die verkeer regs is.

Los van hierdie hoogstens lastige oorblyfsel van die Franse Rewolusie, kan daar nog heelwat lesse geleer word uit die geskiedenis van hierdie roerige periode, ook vir die nuwe Suid-Afrika. Maar voordat ons dit doen, sal ons eers ʼn bietjie moet kyk na wat nou presies gebeur het. In hierdie artikel kyk ek na die Franse Rewolusie veral deur die oë van Groen van Prinsterer. In sy boek Ongeloof en Revolutie beskryf hy nie net die gebeure nie, maar probeer dit ook as ʼn Christen beoordeel.

Wie was Groen van Prinsterer?🔗

Willem Groen van Prinsterer het van 1801 tot 1876 geleef en was In Nederlandse politikus en historikus. Hy het bekend gestaan as ʼn diep gelowige man, en hoewel hy baie kritiek gehad het op die afvallige Hervormde Kerk van sy tyd, het hy hom nie van daardie kerk afgeskei nie. Wel was hy deel van ʼn groep genaamd die Réveil (=Opwekking) wat gepoog het om hierdie kerk van binne uit te reformeer. Van 1829 tot 1833 was hy sekretaris van koning Willem I. Later het hy leier geword van die Anti-Revolusionêre Party. Namens hierdie party het hy sitting gehad in die Nederlandse parlement en Tweede Kamer. Maar hy was die meeste bekend as felle stryder teen die beginsels van die Franse Rewolusie, wat in die 19de eeu orals in Europa gepropageer is. Sy bekendste werk is sy boek Ongeloof en Revolutie, wat in 1847 ontstaan het as openbare lesings, en later vele heruitgawes beleef het. Dit is aan die hand van hierdie boek wat ons na die Franse Rewolusie gaan kyk.

In ʼn Neutedop…🔗

Die Franse Rewolusie word meestal gedateer van 1789-1799, hoewel die direkte gevolge daarvan veel langer geduur het. In hierdie periode is die monargie in Frankryk afgeskaf (die koning is onthoof) en vervang met ʼn demokratiese stelsel gebaseer op die idees van die Verligting. Hierdie omwenteling het met veel geweld en wetteloosheid gepaard gegaan; na raming het veertigduisend mense in hierdie tien jaar gesterf. Na hierdie periode het Napoleon se skrikbewind gekom, wat ook ʼn direkte gevolg was van die Rewolusie. Daar word geskat dat 3,5 miljoen soldate en 3 miljoen burgers tydens sy regering omgekom het. Verder is daar twee keer gepoog om die monargie weer te herstel, maar ook nog twee addisionele rewolusies het gevolg.

Groen van Prinsterer

Rewolusie vs Reformasie🔗

Die basiese stelling wat Groen oortuigend stel, is dat die rewolusionêre wêreldbeskouing ʼn omkering is van die beginsels van die Reformasie, wat tot dan toe nog in Europa geheers het. Deel van die rewolusionêre wêreldbeskouing is die bekende drie woorde vryheid – gelykheid – broederskap. Die soewereiniteit van die volk is beskou as die hoeksteen van die staat. Groen toon aan dat hierdie hoeksteen die gevolg is van die Deïsme en Ateïsme wat al hoe meer veld begin wen het in Europa.

Deïste het nie meer gepraat oor ʼn lewendige God nie, maar oor ʼn Opperwese, of ʼn Krag wat eens die aarde tot stand gebring het, maar dit daarna aan sy eie natuurwette oorgelaat het. Soos ʼn mens ʼn wekker sou stel om dan vervolgens te gaan slaap, omdat die wekker tog vanself verder tik. Deïsme was ʼn direkte gevolg van die Verligting, waar die menslike rede verhef is bo God se openbaring. Dit het later geblyk dat die Deïsme slegs ʼn voorloper was van Ateïsme.

Waar die hoeksteen van die staat altyd gevind is in God, die opperste bron van gesag, het die Deïsme en Ateïsme God uit die openbare domein verdryf, met die gevolg dat die volk nou God se plek kon inneem. Die Goddelike oorsprong van gesag is deur die rewolusionêre wêreldbeskouing as ouderwets afgemaak, iets wat by die Middeleeue tuishoort. Eintlik was dit – volgens hulle – net ʼn slim praatjie van die konings, adellikes en priesters, wat so alle mag self in hande wou hou.

Volgens die Rewolusie behoort die opperste mag egter nie aan God nie, maar aan die volk. Gesagsdraers ontvang daarom nie hulle mag uit die hand van God nie, maar uit die hand van die volk. Volgens Groen verstaan ʼn mens nog nie die essensie van die Franse Rewolusie as ʼn mens dink dit was net ʼn stryd tussen voorstanders en teenstanders van die Monargie nie. Want in sowel ʼn Monargie as ʼn konstitusionele stelsel is dit moontlik om te erken dat die opperste gesag van God af kom. Die Humanisme wat aan die Franse Rewolusie ten grondslag gelê het, wou egter niks meer weet van ʼn God in die politieke terrein nie – ni Dieu, ni maitre.

Volgens Groen het die voorstanders van die Rewolusie egter eers ʼn karikatuur van die Droit divin (Goddelike oorsprong van die gesag) gemaak, voordat hulle daarteen gedraai het. Asof die wil van die koning per definisie altyd gelyk sou wees aan die wil van God. Groen wys egter terug na Romeine 13:1, waar ons die werklike stand van sake aantref: “daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.”

Die mag van die koning is aan bande gelê deur baie tradisionele strukture. Die sterkste teenwig was juis die Droit divin, die besef dat daar ʼn hoogste Gesagdraer bo hom staan aan Wie hy hom moet onderwerp. Dit was die sterkste waarborg teen magsmisbruik.

Juis hierdie waarborg is egter deur die Rewolusionêres afgeskaf – die staat het geen opperste gesag meer bo hom gehad nie, behalwe vir die ‘wil’ van die volk. En die ‘wil’ van die volk is arbitrêr en onvoorspelbaar, met die gevolg dat dieselfde retoriek van die rewolusie, wat aanvanklik gebruik is om die koning te onttroon en te onthoof, na die rewolusie deur die volk gebruik is om ook die winkeleienaars se winkels te plunder, die boer van sy land te beroof, en die arbeider van sy huis.

koning onthoof

A-Historiese Vooruitgangsoptimisme🔗

Groen toon verder aan dat dit tipies van die Rewolusionêre wêreldbeskouing is om a-histories te wees. Dit is as gevolg van die wortels wat die Rewolusie het in die Verligting, die denkwyse wat so positief was oor die mens se rasionele vermoëns en die vooruitgang wat die menslike ras beleef teenoor byvoorbeeld die donker Middeleeue. ʼn Gevolg van hierdie a-historiese houding op die politiek was dat daar ʼn wydverbreide minagting van bestaande openbare stelsels begin posvat het. Dit was stelsels wat deur die eeue ontwikkel is. Dit was naamlik so dat daar, naas ʼn koningshuis, in die verskillende Europese lande ook laer owerhede was wat – hoewel lojaal aan die koning – hul eie gesagsterreine gehad het. Daar was ʼn magsbalans. Die mag van die koning was ingeperk – elke gebied, stad, gilde, beroepsgroep en sosiale stand het sy eie magte en voorregte gehad, met as gevolg ʼn groot mate van onafhanklikheid. Elke grondeienaar, elke geestelike of adellike, elke sosiale groep het die reg gehad om te groepeer. Hoewel al hierdie verenigings ondergeskik aan die koning was, het die koning nie die reg gehad om hul onafhanklikheid aan te tas nie. Die reg op eiendom het bestaan en outonomie in elkeen se veld van spesialisasie. Daar was sprake van ʼn simbiose, waar die gildes en verenigings die welvaart van die koninkryk – hetsy materieel of geestelik – bevorder het sonder dat die koning met alles ingemeng het. Die koning was ook afhanklik van die sosiale stande en gildes vir belasting. Hy kon nie eensydig hierdie belastings verhoog nie. Van sy kant was dit egter die koning se taak om sy onderdane te beskerm teen vyande en stabiliteit te waarborg.

Getemperde Monargie🔗

Hierdie magsbalans in Europa is deur die eeue ontwikkel en kan volgens Groen die beste bestempel word as ʼn getemperde Monargie. Dit in teenstelling tot ʼn absolute Monargie of despotisme, wat volgens Groen in ander wêrelddele soos die Midde-Ooste en Asië voorgekom het. Watter beslissing die koning ook al moes neem, altyd moes dit in konsultasie met die laer owerhede gebeur, of dit nou stadsrade, gildes of geestelikes of wie ook al was. Dit het voorkom dat hy haastige of ondeurdagte beslissinge sou neem.

Hierdie tradisionele gesagsnetwerk is egter afgeskaf deur die Rewolusionêre rigting en deur verregaande sentralisasie van die mag vervang, met die gevolg dat daardeur die regte van provinsies, stede, gildes, ensovoorts vernietig is. Hierdie sentralisasie is geëis op grond van die volgende redenasie: as die opperste mag aan die volk behoort, en as die (sentrale) Staat die wettige verteenwoordiger van die volk en die wil van die volk is, dan moet die staat dus in beheer wees van alles. Die gevolg was – en dit sien ʼn mens gebeur in die jare na die Rewolusie – dat die staat ʼn almagtige liggaam geword het. Dit is aanvanklik gelanseer deur die wil van die volk, maar het vervolgens ʼn totaal outonome lewe begin lei, met die gevolg aan die een kant die vernietiging van alle bestaande gesagstrukture (checks and balances), en aan die ander kant ʼn passiwiteit by die volk – want die staat is mos vir alles verantwoordelik. Al wat oorgebly het, was die ‘Staatsmasjien’, en die getemperde Monargie soos dit deur eeue ontwikkel is, is afgeskaf.

Nou moet ʼn mens daarvoor oppas om die Europese monargieë van daardie tyd te idealiseer. Neem byvoorbeeld die Franse koningshuis wat ʼn geweldige uitspattige lewenstyl gehad het. Maar tog, sê Groen, verstaan ʼn mens nie die essensie van die Franse Rewolusie as jy sou meen dat dit bloot ʼn reaksie was op al die misstande aan die koninklike hof nie. ʼn Mens kan nie ontken dat die Europese monargieë tot stand gekom het onder invloed van Christelike beginsels nie.

As ʼn mens hulle vergelyk met die despotiese magte op ander kontinente (Groen noem ryke soos Turkye en Persië), dan het die Europese monargieë ver uitgestyg in lae van die bevolking. Vergeleke met ander kontinente was daar in Frankryk nog ʼn menigte aan privaat regte, regte vir korporasies, munisipaliteite en provinsies.

Om een voorbeeld te noem, Groen verwys na die openbare taak wat boere gehad het om op die platteland die paaie in stand te hou – die sogenaamde drostendienst. Voor die rewolusie was daar baie kritiek hierop, en sommiges het dit as slawerny bestempel. Maar, sê Groen, as ʼn mens dit met die slawerny in Afrika en Amerika vergelyk, is dit werklik nie noemenswaardig nie. En – agterna beskou – ook veel beter as die toestande wat na die Rewolusie ontstaan het.

padwerkers

Invloed van die Reformasie Vervaag🔗

Die invloed van die Reformasie het in die 18de eeu in Europa op die agtergrond geraak, en is vervang deur die idees van die Humanisme. Die Reformasie het gestreef na vryheid, ook op politieke vlak, maar altyd in onderworpenheid aan die Woord van God. Dit was ook grootliks te danke aan die Reformatoriese visie op die politiek dat die vrede van Westfalen (waaronder die vrede van Münster) in 1648 gesluit kon word, na 80 jaar van bloedige oorlog. Die vrede van Westfalen het ʼn periode van ongekende vrede, orde en voorspoed vir veral Noordwes-Europa ingelui. Die opkoms van die Humanisme en die Deïsme in die 17de en 18de eeu het Frankryk egter voorberei vir die Rewolusie. Soos Groen sê, as jy die Christelike geloof vaarwel sê, sal sy vrugte na ʼn rukkie begin kwyn. In die tweede helfte van die 18de eeu het dit al duideliker geword dat die Deïsme etiese gevolge gehad het. Daar was ʼn algemene verval in moraliteit. Volgens die Verligtingsdenke moes die oorsprong van die kwaad eerder in ouderwetse strukture gesoek word. Die omwenteling van die bestaande vorme sou dus bevryding en verbetering bring. Tipies vir hierdie denke was ook om sosiale strukture te minag. Die maatskappy moes gestroop word van alle tradisionele strukture. Die enigste wat oorgebly het, was dit wat nie opgedeel kon word nie – die individu. Dit is ʼn tipiese rewolusionêre term: individu (=ondeelbare). Al wat dus van die maatskappy gesê kon word, is dat dit uit ʼn massa individue bestaan. Alle ander sosiale strukture of klasse moes afgeskaf word. In die plek daarvan het die Staat gekom, die masjien wat die gekombineerde wil van alle individue moes uitvoer.

Statisme🔗

Op papier praat ʼn mens dan van ʼn demokrasie (=die volk aan die mag), maar die realiteit was anders. Die werklikheid was ʼn Statisme. Die Staatsmasjien het homself in staat geag om die wil van die volk uit te voer. Maar met al die mag nou in die hande van die Staat, plus die feit dat alle checks and balances van die verlede afgeskaf is, kon die Staat net doen wat hy wou. Vir die massas het die toestand net erger en erger geword. Wat op papier dalk goed bedoel was, het nie in die praktyk gewerk nie. Omdat die Staat sogenaamd moes waak by die wil van die volk, is die welvaart van die Staat spoedig as die hoogste belang na vore geskuif. Die Staat het onaantasbaar geword – wie durf nou kritiek hê op hulle wat die wil van die volk verteenwoordig? En so het dit gebeur in die jare na die Rewolusie dat die sentraliserende tendense van die Staat hom soos ʼn ysternet oor die hele samelewing uitgesprei het.

Die staat het letterlik alles in beheer geneem, selfs kinders het nie meer in die eerste plek aan hulle ouers behoort nie, maar aan die Staat. Al met al het die stemreg wat die volk ná die Rewolusie ontvang het, dus niks voorgestel vergeleke by al die regte wat die Staat vir homself toegeëien het nie. Groen praat tereg van Staatsafgodery.

Dit is belangrik om die verskil te sien tussen die Rewolusionêre konsep van die staat en dit wat ʼn mens in die Bybel vind, naamlik dat God onvervreembare regte toegeken het aan ʼn verskeidenheid van gesagsdraers, of dit nou die koning is, die burgemeester, of ʼn ouer. Maar na die Franse Rewolusie het die hele magsbalans in Frankryk gewankel met alle bevoegdhede nou in die hande van slegs een liggaam – die Staat. Dit het tot wydverspreide anargie gelei.

5 Fases🔗

Groen van Prinsterer verdeel die Franse Rewolusie in 5 periodes. Hierdie analise was moontlik sy waardevolste bydrae. Dit het naamlik geblyk dat hierdie periodes simptomaties is vir elke Rewolusie wat sedertdien plaasgevind het – dink byvoorbeeld ook aan die Russiese Rewolusie vanaf 1917. Kom ons kyk kortliks na hierdie 5 fases:

1ste Fase: Periode van Voorbereiding🔗

Dit is belangrik om te besef dat die Rewolusionêre gedagtegoed nie eksklusief vir Frankryk was nie. Dit het opgang gemaak in die hele Europa van die 18de eeu. Ook is dit belangrik om te besef dat die Rewolusionêre idees nie tot die massas – die arm arbeiders – beperk was nie. Inteendeel, dit is veral gedryf deur die konings en adellikes! Hoe ironies dit ook mag klink, selfs koning Lodewyk XVI van Frankryk was ʼn groot voorstander van die Rewolusie!

Daar was ʼn algemene drang om ontslae te raak van die strukture van die verlede. Hierdie periode is gekenmerk deur ongekende beloftes wat aan die volk gemaak is. Die mensdom is inherent goed, en welvaart sou volg so gou hy verlos is van onderdrukkende strukture. Groen beklemtoon dat die Rewolusie nie ontstaan het uit die slegte leefomstandighede van die massa nie, maar vanweë die Verligtingsidees wat ryp geword het, beginnende by die bolaag van die bevolking.

arm arbeider

2de Fase: Die Teorie van die Rewolusie word in Praktyk Gebring (1789-1794)🔗

Vanaf die begin van die Rewolusie was daar al verskil van mening oor die uitvoering daarvan. Sommiges het nog steeds ʼn belangrike rol vir die koning gesien, ander wou van hom ontslae raak. Daar was gematigdes (Girondiste), daar was ook die wat nie genoeg kon kry van al die bloedvergieting nie (Jakobyne). Oor die algemeen is hierdie periode gekenmerk deur ongekende wreedhede, wat net erger geword het hoe meer die Rewolusie geïmplementeer is. Die sentralisasie van die Staatsmag het al hoe meer toegeneem, en dit het gelei tot meer en meer diskriminasie teen mense met ander opinies. Die mag van die absolute Staat was nie meer beperk deur laer owerhede, gildes, beroepsgroepe, of geestelike leiers nie. In hierdie periode is die mag gegryp deur telkens nog meer radikale advokate van die Rewolusie. En soos een van hulle, Robespierre, gesê het: Dit is nou nog nie die tyd om goed te doen nie. Die Rewolusionêre sienswyse het ʼn eroderende effek op die algemene moraliteit gehad. Die slagspreuke van die Rewolusie het die mense geblinddoek vir die wreedhede wat in naam van die Rewolusie begaan is. In naam van die Rewolusie het enigiets toelaatbaar geword.

Soos gesê, was koning Lodewyk die 16de (1754-1793) ʼn voorstander van die Rewolusie, nie beseffende dat die kragte van die Rewolusie sy eie kop sou kos nie. Hy is met die valbyl onthoof op 21 Januarie 1793, nadat die monargie deur die meer radikale Rewolusionêre elemente in 1792 afgeskaf is.

3de Fase: Periode van Reaksie teen die Kwalike Gevolge van die Rewolusie (1794-1813)🔗

In hierdie periode is die Rewolusionêre idees as sodanig nie gekritiseer nie, maar net die uitwasse. Alle skuld vir die wreedhede en wetteloosheid is geskuif op die leidende figure van die vorige fase – hulle was die sondebokke, hulle was eintlik wrede monsters, hulle het die idees van die Rewolusie verkrag. Daar het nou ʼn besef gekom dat die wetteloosheid van die massas onder beheer gebring moes word. Dit het op sy beurt tot sterk beperkte maatreëls gelei. Soos Groen sê, onbegrensde wetteloosheid onder die massas baar tirannie. Hierdie periode van reaksie het sy hoogtepunt bereik met die opkoms van Napoleon.

Hoewel hierdie 3de fase gekom het as ʼn reaksie teen die terreur van fase 2, het dit egter al hoe meer duidelik begin word dat anargie en despotisme nie ongelukkige byverskynsels was nie, maar inherent aan die Rewolusionêre wêreldbeskouing.

Dit was nie so dat die beginsels van die Rewolusie in fase 2 nie goed geïmplementeer was nie. Inteendeel, hoe suiwerder die idees in praktyk gebring is, hoe meer wreedhede het dit tot gevolg gehad.

Napoleon se diktatoriale optrede was ook direk gekoppel aan die Rewolusionêre idees. Niemand het méér na die soewereiniteit van die volk verwys as Napoleon nie. Terselfdertyd het hy die volk van hulle stemreg ontneem, met die argument dat hy self die beste in staat was om die wil van die volk te verteenwoordig. Maar die Franse volk het nie omgegee nie, want hulle was moeg vir al die wreedhede van die afgelope dekade, en hulle het meer na rus verlang as na politieke vryheid. Min het hulle egter geweet dat die bewind van Napoleon net nog meer wreedhede sou bring. Waar daar in die eerste dekade van die Rewolusie 40 duisend dooies geval het, was die slagoffers onder Napoleon se skrikbewind meer as 6 miljoen!

4de Fase: Periode van Hernude Eksperimente (1813-1830)🔗

In hierdie fase – die periode direk na Napoleon – sien ʼn mens telkens die ou refrein wat herhaal word. Elke keer word weer ʼn nuwe skuldige gevind. Elke keer word die fout gesoek in die strukture. Elke keer word weer nuwe beloftes aan die volk gemaak, hoe die Rewolusionêre beginsels hierdie keer wel goed geïmplementeer sal word. Maar, sê Groen, die teorie van die Rewolusie sal nooit volledig geïmplementeer kan word nie, dit werk net op papier.

5de Fase: Na Herhaalde Mislukkings, ʼn Periode van Politieke Apatie (1834-1845)🔗

Hierdie periode is volgens Groen getipeer deur ʼn vrees dat enigiets erger sal word as wat dit tans is. Die volk het alle belangstelling en vertroue in die politiek verloor, en probeer soveel as moontlik ʼn onsigbare bestaan vir die politiek te voer. Enige kontak met die Staat is ʼn voorbode van onheil. Aan die ander kant konsentreer die Staat slegs op die handhawing van sy eie materiële belange.

Napoleon

Beoordeling🔗

In ʼn tyd waarin ook in Nederland baie mense groot voorstanders was van die Rewolusionêre wêreldbeskouing, het Groen van Prinsterer nie doekies omgedraai nie:

  • Die Franse Rewolusie het die feit dat die lewende God die oorsprong van alle gesag is (sien Romeine 13:1), ontken.
     
  • Die Franse Rewolusie het ontslae geraak van al die politieke checks and balances wat deur die eeue heen ontwikkel is. Vanuit die Verligtingsoptimisme is die bestaande regeringsstrukture – al het hulle gebreke gehad – nie meer na waarde geskat nie. En die geskiedenis leer dat dit baie lank vat om nuwe checks and balances te ontwikkel wat werk.
     
  • Het die Rewolusie vrede gebring? Nee, ontelbare mense het gesterf, onnoembaar meer as wat voor die Rewolusie die geval was.
     
  • Het die Rewolusie finansiële voorspoed gebring? Nee, nie net Frankryk nie, maar die hele vasteland van Europa was in finansiële ellende gedompel.

Dit bring ʼn mens by die konklusie dat die Rewolusie eintlik ʼn kanker was, wat voortgewoed het tot dit homself uitgeroei het.

Lesse vir die Nuwe Suid-Afrika🔗

Hoewel ons nou in die 21ste eeu leef, is dit nie moeilik om ʼn aantal lesse te leer vir ons huidige situasie in die nuwe Suid-Afrika nie. In die helfte van die 19de eeu het Groen dieselfde gedoen vir die Nederlandse samelewing in sy boek Ongeloof en Revolutie. Ek noem puntsgewys ʼn paar aspekte, sonder om daarop aanspraak te maak dat dit die enigstes is:

Dit is ʼn feit dat daar ʼn historiese lyn loop vanaf die Franse Rewolusie, via die Marxisme van die 19de eeu, via die Russiese Revolusie van 1917 en die Sowjetbewind daarna, na Suid-Afrika se heersende politieke drieparty-alliansie.

Die Rewolusionêre beginsel lui kortliks: gooi omver en begin opnuut.

Die Reformatoriese beginsel lui kortliks: bou voort op dit wat goed is en reformeer wat sleg is. Tydens die regeringsomwenteling in die 1990’s is Suid-Afrika God sy dank gespaar vir ʼn Rewolusie soos dit in Frankryk plaasgevind het. Is dit te danke aan die optrede van Mandela of De Klerk, of dalk die internasionale druk? Ek dink dit is slegs te danke aan God, wat die vele gebede verhoor het, waardeur erge bloedvergieting voorkom is. Desnieteenstaande moet ʼn mens nie blind daarvoor wees dat die denke agter die beleidsvoering van die drieparty-alliansie dikwels gevoed word vanuit die Rewolusionêre wêreldbeskouing nie. ʼn Praktiese voorbeeld is wat genoem word kaderaanstellings. Die provinsies soos wat dit in Suid-Afrika deur die eeue ontwikkel het, is afgeskaf. Nuwe provinsies is gevorm. By die aanstelling van die regerende personeel is nie in die eerste plek gekyk na kwaliteit van bestuur nie, maar na lojaliteit ten opsigte van die ‘struggle’. Dieselfde het met die polisiekorps gebeur. Agter hierdie beleid skuil die Rewolusionêre uitganspunt van hef eers op en begin dan met iets nuuts. Die gevolg is dat die huidige situasie (provinsiale en munisipale wanbestuur, asook binne die polisiemag) erger is as die misstande van die verlede (die feit dat slegs blankes die septer geswaai het). Sou dit nie beter gewees het om voort te bou op dit wat wel goed was, maar terselfdertyd die misstande aan te spreek deur ook swartmense in hierdie bestaande strukture te bemagtig nie?

Op die oomblik leef ons in ʼn fase van wetteloosheid en anargie in Suid-Afrika. Dit is geen geheim nie dat burgers (swart en bruin en blank) moeg is vir al die misdaad en korrupsie, en dat almal net verlang na rus en vrede. In reaksie hierop is daar baie wat pleit dat die polisie meer bevoegdhede moet kry – laat hulle maar raakskiet, sodat die misdadigers kan verdwyn. Hoewel daar beslis meriete is vir hierdie gevoel, leer die 3de fase van die Franse Rewolusie dat ons die gevaar van ʼn polisiestaat nie moet onderskat nie. Die bloedvergieting ten tye van Napoleon se skrikbewind was nog veel erger as dié tydens die dekade van wetteloosheid wat daaraan vooraf gegaan het. Hoe meer sentralisasie van die mag, hoe groter die risiko dat ʼn land se politieke stelsel misluk. Dit weet ons inmiddels in Afrika.

misdaad

Dit bring ons by die punt wat dalk vir ons die belangrikste les is, en dit is die geweldige belang van checks and balances in die samelewing. Die Franse Rewolusie het die checks and balances wat deur die eeue opgebou is, platgevee, met alle slegte gevolge daarmee saam. Die konsensus is wydverspreid dat daar op die oomblik veels te min checks and balances in Suid-Afrika is. Die gevolg is dat persone in gesagsposisies (hetsy landelik, provinsiaal of munisipaal) veels te maklik hulle mag vir eie gewin kan misbruik. En hoewel lank nie almal in die huidige driepartyalliansie die Rewolusionêre gedagtegoed suiwer aanhang nie, is daar beslis diegene wat hulle beywer vir die verdere afskaffing van die checks and balances wat nog wel daar is, ten gunste van die sentralisering van nog meer mag vir die staat (Statisme). ʼn Stabiele samelewing het daarenteen juis ʼn magsbalans nodig. God het nie net aan een liggaam alle mag gegee nie, maar aan verskillende gesagsdraers. Die periode van wetteloosheid na die Franse Rewolusie het 40 000 dooies tot gevolg gehad, en die skrikbewind van Napoleon ten minste 6 miljoen. Was dit regtig die moeite werd gewees? het almal hulself later afgevra. As ons na Suid-Afrika kyk, is die raming dat maksimaal 40 000 mense tydens die Apartheidsera ʼn gewelddadige dood gesterf het. In die nuwe bedeling met sy wetteloosheid sterf egter 15 000 mense per jaar ʼn gewelddadige dood.

Sedert die begin van die 21ste eeu praat ʼn mens dus van ʼn aantal van 150 000. Suid-Afrika is tans die tweede gewelddadigste land ter wêreld. Twee uit elke drie vroue word ten minste een keer in hulle lewe verkrag. Die gemiddelde lewensverwagting het gedaal (vir swart, bruin en blank) van 64 jaar in 1990 tot 48 jaar in 2009. Sonder om die rassistiese en diskriminerende misstande van die vorige bedeling enigsins te onderskat, moet wel die vraag gestel word: het die instrument wat ingespan is ter verandering – naamlik die Rewolusionêre gedagtegoed – ons nie dalk opgesaal met ʼn dosyn nuwe probleme nie? Die middel om die kwaal te genees, het ʼn nog groter kwaal veroorsaak…

In die Franse Rewolusie is die politieke (stem)reg van elke individu as die hoogste goed beskou. Dit het egter nie die paradys vir die volksmassa gebring nie, want dit het geblyk dat dit vir die Staat al te maklik was om die massas se stemreg tot hulle eie voordeel te manipuleer. Ook in Suid-Afrika sal ons as bevolking moet leer dat blote stemreg nie ʼn paradys oplewer nie. Ons sal almal saam skouer aan die wiel moet sit om te werk aan meer checks and balances. Wat baat dit om stemreg te hê in ʼn land waar jou lewe nie veilig is nie, en waar staatsamptenare hulself verryk en hulle nie steur aan die belang van die massas nie?

Ons het reeds tot die gevolgtrekking gekom dat die Rewolusie ʼn kanker is, wat voortwoed tot dit homself uitgeroei het. ʼn Mens kan ook sê die Rewolusie is ʼn monster wat sy eie kinders opvreet. Dit was in Frankryk die geval. Die gematigde Girondiste is deur die Jakobyne vermoor, om later self die prooi van Napoleon te word. Dit was in Rusland die geval. Die gematigde Lenin is deur diktator Stalin opsy geskuif. Telkens is die ‘wil van die volk’ as verskoning gebruik. Die vraag is of ʼn soortgelyke beweging nie ook in Suid-Afrika gaande is nie. President Zuma het die ‘wil van die volk’ gebruik om aan die bewind te kom, en selfs hangende regsake moes voor die ‘wil van die volk’ swig. En wie gaan na Zuma hierdie paadjie stap – dalk Julius Malema? Die ‘wil van die volk’ of die ‘allerarmste van die armes’ word ge/misbruik om aan die bewind te kom. Telkens is meer gesoute Rewolusionêre taal nodig om die vorige generasie Rewolusionêres uit die kussings te lig. Ondertussen verryk hierdie demagoë hulself en gee niks om vir die volk nie (soos die geval is by Mugabe). Die volk is slegs ʼn instrument om aan die bewind te kom.

Checks and balances is nie net iets wat te make het met die politiek van landelike, provinsiale en munisipale regerings nie. In elke beroepsgroep is dit van belang, of jy nou ʼn dokter of ʼn motorhandelaar is. Elke persoon moet verantwoordelikheid neem om korrupsie en wanpraktyke te bekamp. En dit nie net in jou eie persoonlike praktyk nie, maar ook moet strukture daargestel en onderhou word wat elke beroepsgroep se kwaliteit van diens en verantwoordbaarheid sal waarborg.

ANC vlag

Hoewel tot dusver die Rewolusionêre neiging tot Statisme duidelik sigbaar was by die drieparty-alliansie, moet ʼn mens nie vergeet dat die apartheidsregering ook sterk neigings tot Statisme gehad het nie, hoewel hulle as sterk anti-Rewolusionêr en sterk anti-Kommunisties bekend gestaan het. Trouens, die gedagtegoed van die Franse Rewolusie het diep spore getrap in alle Westerse lande, waar die oorsprong van gesag ook nie meer aan God toegeskryf word nie, maar aan die wil van die volk.

Om enkele praktiese voorbeelde te noem: ook in Westerse lande het die Staat die verantwoordelikheid geannekseer om skole te bedryf, van primêre tot tersiêre vlak. Maar is dit nie meer Bybels dat die ouers verantwoordelik is vir die skoling en dus ook skole van hulle kinders nie? En sal die verskillende beroepsgroepe nie ʼn veel groter invloed moet hê op tersiêre onderrig, soos byvoorbeeld met die gildes die geval was nie? Die neiging tot Statisme – die breinkind van die Franse Rewolusie – is nog steeds springlewend, nie net in (voormalige) kommunistiese lande nie, maar ook in die Weste.

Daar is ongetwyfeld nog meer punte wat genoem kan word. Vir hierdie artikel volstaan ek met bogenoemde. Genoeg rede vir Christene om reformerend in die politiek en samelewing hulle gewig in te gooi, hier in Suid-Afrika, en ook wêreldwyd.