3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Die Familie van God Oor die aanneming tot kinders van God

groep mense

Die teologiese leerstelling oor aanneming is een wat nie maklik in die meeste mense se gedagtes opkom nie. Dit kry ook dikwels slegs terloopse aandag in teksboeke oor sistematiese teologie, asook in die kerk se belydenisskrifte. Dit is dan ook nie snaaks nie dat selfs mense wat jou kan vertel wat hulle glo oor regverdiging en heiligmaking, dikwels met ʼn mond vol tande sit as jy navraag doen oor aanneming. Maar as dit reg verstaan word, is aanneming een van die mees kosbare, verblydende en praktiese van al ons teologiese oortuigings. Dit dring ons om ons verstommende voorreg dat ons kinders van God genoem kan word, te onthou (1 Joh. 3:1). Terwyl regverdiging hoofsaaklik ʼn regsbeeld het en ons uitnooi om ons te verheug in die vryheid wat ons verkry het deur die onverdiende vryspraak van God se oordeel, vestig aanneming ons aandag op ʼn verhoudingsbeeld en wys op die vreugde en versekering wat ons verkry van ʼn vader wat vir ons lief is en van ʼn familie met wie ons ons nuwe vryheid in Christus kan deel.

Een moontlik rede waarom ons in gebreke bly om die voorreg, dat ons as God se kinders aangeneem is, te waardeer, is dat ons onsself nog nooit as weeskinders beskou het nie. Ons neig om te dink dat ons almal van nature God se kinders is. Het Paulus dan nie vir die Atheense filosowe gesê dat ons van God afstam nie? (Hand. 17:29). In ʼn sekere sin is dit sekerlik waar dat ons almal ʼn verwantskap met God het omdat ons na Sy beeld geskape is. Hierdie verwantskap gee aan elkeen van ons ʼn ingebore kennis van God se bestaan en van ons plig om Hom te aanbid, wat die kern is van wat Paulus op die Areopagus verkondig het. Maar die Skrif stel dit duidelik dat ons in ʼn ander sin nie almal van nature kinders van God is nie; daar is twee families van mense op aarde: die kinders van God en die kinders van die duiwel, wat in ʼn permanente lewe-en-dood konflik betrokke is (Joh. 8:44; 1 Joh. 3:10).

Die bybelse leerstelling oor aanneming begin met Adam en Eva. Hulle is na die beeld van God geskape en was dus werklik God se kinders, wat daagliks in gemeenskap met hul Hemelse Vader verkeer het in die tuin van Eden. Maar met die sondeval is die beeld van God in hulle geskaad en het hul verhouding as kinders van God verlore gegaan. Hulle is uitgedryf uit die tuin, vervreemd van die teenwoordigheid van God, kinders van sy toorn. En dit is die toestand waarin alle menslike wesens nou gebore word: vreemdelinge ten opsigte van God (Ef. 2:3).

Maar God wou ons nie in hierdie verlore en verlate toestand laat nie. Aangesien hy voor die grondlegging van die wêreld al ʼn volk vir Homself uitverkies het (Ef. 1:5), het hy op die regte tyd in die geskiedenis opgetree om hul verlossing ʼn werklikheid te maak. Waar Adam God se seun was deur die skepping, het Israel God se seun deur aanneming geword (Eks. 4:22). Hierdie beeld vir die verhouding tussen God en sy familie beklemtoon duidelik die element van genade in hul verhouding. Daar was niks in Israel wat God van nature na Israel sou lei nie (Deut. 7:7). Nee, die profeet Esegiël beeld Israel in hierdie tyd van die geskiedenis uit as ʼn hulpelose baba, bedek met bloed en verlaat deur haar natuurlike ouers, maar tog deur God verkies en in Sy familie ingebring (Eseg. 16:6). Ook het sy nie God se guns gewen deur haar latere gedrag nie, want die geskiedenis van haar verhouding met Hom is een van voortdurende ontrouheid en prostitusie (Eseg. 6:15-52). Maar hoewel sy Hom aanhoudend verag en verlaat het, wou God haar nie verlaat nie; haar verkiesing as Sy aangenome kind was onherroeplik (Rom.11:29).

baba voete

Behalwe die aanneming van Israel as God se seun, praat die Ou Testament ook van die aanneming van die Dawidiese koning as God se seun (Ps. 2:7). Hierdie uniek bevoorregte verhouding beteken dat hy en sy nageslag nie heeltemal deur God verwerp sou word nie, soos Saul verwerp is omdat hy ʼn mislukking was. Eerder sou hulle, wanneer hulle sondig, deur God getugtig word soos ʼn vader sy seun tugtig (2 Sam. 7:14-16). Wat die sonde ook al sou wees, die verbond tussen God en Dawid se nageslag was onbreekbaar (Jer. 33:20-21).

Hierdie twee temas van die aanneming van Israel en van Dawid se nageslag vind ʼn gemeenskaplike vervulling in Jesus Christus. In Sy goddelike natuur is Christus die Seun van God van alle ewigheid af, maar as die ware Israel en die ware seun van Dawid is Hy die erfgenaam van al die beloftes van seunskap wat aan Israel en Dawid gemaak is. As ons deur geloof met Christus verenig is, ontvang ons gevolglik ook ʼn aandeel in daardie seunskap en al die voorregte wat daarmee gepaard gaan. Soos Johannes dit stel: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Ons aanneming as seuns van God kom dus deur ons vereniging met Christus en kan nie weg daarvan ervaar word nie. In Christus, en slegs in Hom, ontvang ons die aanneming wat ons ʼn onverdiende aandeel gee aan die beloftes wat aan Hom gemaak is en die voorregte wat Hy, as God se Seun, verdien het (Gal. 3:29). Die werklike rede waarom Christus na hierdie aarde gekom het, was sodat Hy aan ons aanneming as God se seuns kon skenk (Gal. 4:5).

Wat is egter die seëninge wat ons ontvang as God se aangenome kinders in Christus? Die eerste seëning wat ons het, is gemeenskap met ons hemelse Vader, ʼn gemeenskap wat deur ons eerste voorouers verbeur is as gevolg van hul sonde. In die Ou Testament het God se volk Hom nie normaalweg in gebede as “Vader” aangespreek nie. Slegs die Dawidiese koning kon God op grond van die verbond wat God in 2 Samuel 7 gemaak het, aanspreek op hierdie naam (Ps. 89:27). Niemand anders kon hierdie intieme aanspreekvorm gebruik nie. Maar in Christus het ons vir Jood en nie-Jood, man of vrou, slaaf of vryman die reg gekry om in geloof tot God as Vader te nader. Omdat ons in Christus is, mag ons nou tot God kom, en die “Onse Vader” bid, soos Jesus ons geleer het. In Christus kan ons nou vol vertroue wees dat ons nooit weer as weeskinders gelaat sal word nie (Joh. 14:18).

Verder ook: omdat gelowiges ʼn gemeenskaplike Vader in God deel, het ons die basis vir ʼn werklike spirituele eenheid met mekaar (Ef. 4:6). Ons as Christene het een Vader, gevolglik is ons almal broers en susters. Dit is die rede waarom Paulus die Christene in Rome kon aanspreek as “broers” hoewel hy hulle nog nooit ontmoet het nie (byvoorbeeld Rom. 8:12). As mede-aangenome kinders is ons almal deel van die een familie van God. Hierdie waarheid word weerspieël in die ervarings van Christene wat reis en leef in verskillende lande en kulture: hoewel hulle myle weg is van hul eie familie en vriende, ontdek hulle vinnig in die plaaslike kerk ʼn nuwe familie en vriende, gebaseer op die gemeenskaplike verlossing wat hulle in Christus het.

weeskinders

Die derde groot seën wat ons ontvang as gevolg van ons aanneming, is die gawe van die Gees van God, soos Paulus sê in Romeine 8:15: “Julle het die Gees van God ontvang wat julle tot kinders van God maak.” Dit is die inwoning van die Gees van God in ons harte wat ons die vrymoedigheid gee om te roep “Vader” (Rom. 8:15; Gal. 4:6). Hy dra die inwendige getuienis van die werklikheid van ons aanneming, en verseker ons dat ons inderdaad God se kinders is, ook in die tye wanneer ons geneig is om te twyfel aan God se liefde vir ons (Rom. 8:16). Hy lei ons ook op die pad van geregtigheid, en gee ons die krag om die dade van die sondige natuur te vernietig (Rom. 8:13-14), sodat ons ook uitwendig die merke kan dra van ons verlossing, wat dan kan getuig van die werklikheid van ons aanname. Deur Sy vrugte in ons lewens te dra begin die Gees om die beeld van Christus in ons te herskep, wat ons dan toenemend in staat stel om as kinders van God, soos Hy ons aangeneem het om te wees, te lewe.

Die laaste groot seën van aanneming is die vooruitsig op ʼn heerlike erfenis. As ons as deel van God se familie aangeneem is word ons erfgename van die familie-erfdeel – erfgename van God en mede-erfgename van Christus (Rom. 8:17). In Christus word al die rykdomme ons sʼn en sal ons sʼn bly vir ewig. Maar waaruit bestaan hierdie erfporsie? Christus het tog op aarde in armoede gelewe en brandarm gesterf, met geen besittings op Sy naam nie. Hierdie werklikheid herinner ons daaraan dat as ons tans Christus se beeld dra dit dikwels sal lei tot beproewing en selfs vernedering ter wille van Sy naam. Maar as ons ter wille van Hom ly kan ons seker wees dat ons vereenselwiging met Hom sal uitloop in deelname in sy heerlikheid (Rom. 8:17). Dié wat deur die genade tot die einde volhard sal deel in die verhouding wat die Here aan Dawid en sy seuns belowe het, waar Hy verklaar het: “Ek sal sy God wees, en hy sal My seun wees” (Openb. 21:7).

Die volle aard van hierdie toekomstige heerlikheid as kinders van God is tans nog ʼn geheimenis (1 Joh. 3:2). Op ʼn manier sal dit aan ons ʼn radikale nuwe gelykenis aan Christus in sy heerlikheid en heiligheid gee. Wanneer ons Hom sien sal ons soos Hy wees. Selfs nou word ons deur die Gees herskep in Christus se beeld, maar hierdie werk is stadig en onvolledig. Maar die dag sal kom wanneer God se werk in ons afgehandel sal wees, dat ons vry sal wees van verdorwenheid en sonde en waarlik die familie-gelykenis sal dra. In vergelyking met hierdie belofte, is alles wat ons alreeds ontvang het deur die Gees se werk in ons en die Vader se teenwoordigheid  by ons, slegs ʼn skaduwee van ons ewige erfporsie as die aangenome kinders van die Koning. Op daardie dag sal ons egter begryp hoe groot en asemrowend God se guns en genade in Christus vir ons is, wat ons verlos het uit Satan se familie en ons lede gemaak het van Sy eie familie, as sy geliefde seuns en dogters.