Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Die etiek van billikheid en regstellende aksie in sport

rugby

Die vraag na regstellende aksie in sport is vanjaar ’n besondere aktuele onderwerp. Die Wêreldbeker-krieketspan is vanjaar aangewys en neem tans (tydens die skryf van hierdie artikel) deel aan die Wêreldbekertoernooi, terwyl die rugbyspan vir vanjaar se Wêreldbeker later vanjaar aangekondig sal word. Uit die keuse van die krieketspan blyk duidelik dat ’n aantal sogenaamde kwotaspelers ingesluit is, en volgens mnr. Khompela, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir sport, behoort transformasie in rugby ook bespoedig te word.

Ons Grondwet bepaal dat, ten einde gelykheid vir almal te bevorder, “mag wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming en ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie [in die verlede] benadeel is (art. 2.9.2)”. Dit val op dat in hierdie bepaling geen afsnydatum genoem word nie. Mnr. Mdladlana, minister van arbeid, vertolk die Grondwet só dat regstellende aksie “nooit opgehef sal word nie, maar eerder verskerp sal word”, soos hy by geleentheid opgemerk het.

Is dit billik?🔗

In hierdie verband ontstaan ’n lang reeks morele vrae wat gestel moet word voordat ons kan begin om (op slegs sommiges) ’n antwoord te probeer gee.

  • Is dit billik dat sportmanne en -vroue, wat voorheen onregmatig benadeel is, deur middel van regstellende stappe bevoordeel word?
  • Is dit billik dat met regstellende aksie weer ’n nuwe vorm van rasseklassifikasie ingevoer sal word (vgl. die Wet op Gelyke Indiensneming)?
  • Is dit billik teenoor sommige spelers dat hulle, bo ander, sonder meriete, bevoordeel word?
  • Is dit billik teenoor (buitelandse en eie) spelers om in ’n span te speel waarvan almal bewus is dat dit nie die sterkste span is nie, en dit terwyl internasionale reëls bepaal dat ’n land deur sy sterkste spanne verteenwoordig sal word en spelers slegs op meriete aangewys sal word?
  • Is dit billik teenoor goeie sportspelers indien hulle menswaardigheid, vanweë weglating, aangetas word?
  • Is dit billik teenoor swakker sportspelers indien hulle menswaardigheid, vanweë insluiting, in gedrang kom?
  • Is dit billik dat jongmense, wat geen aandeel aan die vorige bedeling van apartheid gehad het nie, tans deur regstellende aksie benadeel sal word?
  • Is dit billik om te verwag dat sportspanne bereid moet wees om eers vir ’n aantal jare te verloor voordat hulle kan begin (dink om te) wen (soos die staatspresident 'n ruk gelede opgemerk het)?
  • Is dit billik dat in sekere sportsoorte waar die prestasies direk meetbaar is (soos bv. in atletiek), die kleurfaktor geen rol sal speel by die keuse van ’n span nie, maar in nie-direk meetbare sportsoorte (soos rugby) wél?
  • Is dit blik om van sportspelers teen wie daar op grond van kleur gediskrimineer word, te verwag om langer in die land aan te bly terwyl hulle oorsee ’n veel groter inkomste kan verdien?
  • Is dit billik dat swart mense bo bruin mense as die mees benadeelde groep in die land beskou sal word?
  • Is dit billik om die begindatum vir regstelling op 1948, of 1652, te stel?; is die Koisan nie die eerste bewoners van Suid-Afrika nie en al hier aanwesig lank voordat die swart bevolkingsgroepe in 300 nC hier aangekom het?
  • Is dit billik om te verwag dat ’n x-aantal swart spelers in die rugbyspan sal wees, maar nie ’n x-aantal wit spelers in die sokkerspan nie?
  • Moet die beginsel van billikheid ten alle koste gehandhaaf word, al het dit ook soms nadelige gevolge?
  • Wat behoort gedoen te word indien die handhawers van die beginsel van billikheid in hulle optrede self die grense van billikheid oorskry?
  • Is dit billik om te argumenteer dat daar “nooit” ’n afsnydatum behoort te wees nie?
  • Met hierdie vrae staan ons midde-in die dilemma van regstellende aksie in sport. En die vraag is: Is dit billik, is dit reg, is dit moreel verantwoord?

rugbyspelers🔗

Wanneer is iets billik?🔗

Die beginsel van billikheid, en daarmee saam regverdigheid, lê diep ingebed in die Christelike etiek. Onbillike benadering en hantering van sake staan skerp veroordeel in ’n verantwoordelike Bybelse etiek. Die hele Bybel is daarvan vol, en indien ’n mens na eksplisiete Skrifgegewens wil verwys, kan onder andere aan Psalm 58 en Spreuke 1: en 2:9 gedink word.

Sowel die Ou as Nuwe Testament is vol voorbeelde waar die Here vra dat diegene wat benadeel is, gehelp, opgetel en tot volwaardige menswees opgehef behoort te word.

Die Christelike lewe word gestempel deur die motief van billikheid. Dit is die kenmerk van ’n Christelike huisgesin, van die optrede van ouers teenoor kinders, en kinders teenoor ouers. Dit is ook die kenmerk van die regering van die kerk van Christus. Dit is selfs van bepalende betekenis vir die samelewing, vir die landsregering, die regstelsel, die politiek, die ekonomie, ja, letterlik alles.

Neem die element van billikheid weg, en bring die element van onbillikheid in alles in, en die samelewing sak in ’n moeras van immoraliteit en korrupsie weg. Mense, geskape na die beeld van God, mag daarop aanspraak maak om billik, regverdig en gelykwaardig behandel te word.

Daar heers onder Christene ’n groot mate van konsensus dat, vanweë die onregmatige bevoordeling van sommige landsburgers en benadeling van ander in die verlede, daar ’n proses van regstelling behoort plaas te vind. Dit kan ook nie ontken word nie dat merietespelers van kleur ’n belangrike bydrae tot ons sportprestasies gelewer het.

Van groot belang is egter hoe sodanige proses van regstelling bestuur word en, dat daar, sodra die doel bereik is, ’n duidelike afsnypunt sal wees.

In verband met die sinvolle bestuur van die proses kan die kerk ’n baie belangrike bydrae lewer, omdat in hierdie proses die gesindhede en vaardighede van mense 'n groot rol speel. Dit is belangrik dat daar oor die tema van regstellende aksie in die swart en wit kerke gepreek sal word en dat die lig van die evangelie van Christus ook op hierdie terrein sal val. Kerke kan ook probeer om ’n bemiddelende en versoenende rol te speel wanneer ’n dooiepunt bereik word (dink ook aan grondhervorming), ten einde harde houdings te versag en vir wedersydse begrip te pleit.

sportsoorte

Maar iewers moet daar ’n valbyldatum wees. Regstellende aksie kan onmoontlik tot by die eindoordeel plaasvind en dan nog op billikheid aanspraak maak. Indien dit wel onbepaald moet voortduur, sal dit begaafde mense permanent tot tweedeklas burgers in hulle vaderland verlaag – en dit sou onbillik wees. Dit sal verder veroorsaak dat talentvolle burgers, wat die land kon help opbou het, die land verlaat om hulle talente in ander lande (onbeperk en onbepaald) aan te wend.

Wat sport betref, sou ek wou voorstel dat die jaar 2010 ’n afsnypunt sal wees; dan is dit presies 20 jaar sedert die “normalisering” van sport in 1990 in Suid-Afrika begin het en dat jong sportspelers die ouderdom van 20 jaar bereik. Ek sal ook wil voorstel dat dit onbillik is om te verwag dat alle sportsoorte die samestelling van die bevolking noodwendig moet weerspieël – sokker is ’n spel wat oorwegend deur swart mense gespeel word, soos rugby oorwegend deur bruin en wit mense. Ook in hierdie verband kan kerke, in voortdurende gesprek met die regering, ’n bydrae lewer en meer opheldering probeer bring.

Ons moet ’n punt bereik waar daar sprake is van gelyke beregtiging van alle inwoners in ons land. Die Bybelse beginsel van billikheid moet ons – as Christene – help om ’n weg te vind deur die haak-en-steekbos van sosiale vraagstukke.