Die engele
Die engele
Die Bybel sê selfs minder oor die engele as wat dit oor die hemel sê. Dit is nie ʼn oorsig deur die Skrif nie. Alles wat ons vir ons saligheid nodig het, word gegee. Wat net ons nuuskierigheid sou bevredig, word nie vir ons gesê nie. Wanneer ons dus oor engele praat, moet ons bespiegeling vermy en tevrede wees met die wete dat engele ʼn plek in ons lewe en ons saligheid het.
Ons weet dat engele geeste is en in de hemel woon. Uit die Skrif ken ons ook die name van twee engele, Gabriël en Mígael. Daar is verskillende soorte engele — byvoorbeeld aartsengele, gérubs en serafs — en ook ʼn rangorde van die engele, soos deur die woord aartsengel (hoofengel) aangedui word (Kol. 1:16). Die Skrif dui ook daarop dat verskillende engele verskillende funksies verrig. Mígael is ʼn prins, ʼn aanvoerder en kryger (Dan. 12:1; Juda 9; Openb. 12:7). Gabriël verskyn altyd as ʼn boodskapper (Luk. 1:19,26), serafs as engele wat God in sy teenwoordigheid verheerlik (Jes. 6:1-4) en die gérubs wat oor die eer en heerlikheid van God waak(Gen. 3:24; Eks. 25:18-22; Eseg. 10:1-20).
Die Skrif sê ook dat daar baie engele is. Hebreërs 12:22 praat van tien duisende engele. Sommige engele het saam met Satan geval (Openb. 12:4). Die val van sommige engele, soos met die mense, is volgens die besluit van God oor uitverkiesing en verwerping. Só lees ons nie alleen van verkore engele nie (1 Tim. 5:21), maar ook van hulle wat met ewige boeie gehou word tot die oordeel op die laaste dag (Judas 6). Die uitverkore engele, so leer ons in Hebreërs 12:22, sal ook in die nuwe hemel en die nuwe aarde deel hê. Die gevalle engele sal, soos die goddelose mense, na die hel gestuur word (Judas 6; Openb. 20:10).
Buiten hierdie dinge weet ons min. Wat ons wel weet, is baie troosryk. Wat die Bybel oor engele sê, kan opgesom word met die woorde van Hebreërs 1:14: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” Wat ʼn wonderlike waarheid!
Die hoofsaaklike funksie van die engele is dus om as dienaars van God die volk van God te help en oor hulle saligheid te waak. (Dan. 10:13, 14; Dan. 12:1; Openb. 12:7-10). Dáárom was engele by al die groot gebeure van ons verlossing teenwoordig: die geboorte van Christus ( Luk. 2:9-14), sy versoeking in die woestyn (Matt. 4:11), sy doodsangs in Getsémané (Luk. 22:43), sy opstanding (Luk. 24:4-7) en sy hemelvaart (Hand. 1:10, 11). Hulle sal ook teenwoordig wees wanneer Hy weer kom om sy volk tot Hom te neem (2 Tess. 1:7).
Die groot belangstelling wat die engele in ons verlossing en eindelike heerlikheid het, word ook in 1Pet. 1:12 beskryf. In dié vers sê die Woord dat die engele begerig is om die dinge wat deur die profete gespreek is oor die lyding van Christus en die heerlikheid wat daarop sou volg, in te sien. Wat ʼn mooi getuienis van hulle besorgdheid oor ons saligheid. Wat ʼn troos is dit dan nie om aan engele te glo nie.
Dit nie nodig dat ons oë geopen word om soos die dienaar van Elisa hierdie dienende geeste en hulle vurige waens en perde rondom ons te “sien” nie (2 Kon. 6:17). Al kan ons hulle nie sien nie, weet ons hulle is daar. God sê so in sy Woord.