Die Drie-Eenheid en die huisgesin
Die Drie-Eenheid en die huisgesin
Daar is niks wat die belangrikheid van die leer van die Drie-eenheid so duidelik toon as die verbintenis daarvan met die gesinslewe nie.
Verstaan dit asseblief goed! Die belydenis dat God ʼn Drie-enige God is, is die belydenis dat Hy ʼn familie-God is. In die Drie-eenheid openbaar God Homself as ʼn Vader, ʼn Seun en ʼn Heilige Gees. Daarom is God in sy Drie-eenheid ʼn familie. In daardie familie leef Hy een lewe van volkome gemeenskap en van volkome eensgesindheid en liefde.
Daarom praat God se Woord so dikwels van huisgesinne (Jer. 31:1; Amos 3:2; Hand. 16:31-34). Die huisgesin is altyd ʼn weerspieëling van God se eie heerlikheid as die Drie-enige God.
Dit het vele praktiese toepassings. Dit verklaar, om maar een voorbeeld te noem, die teenswoordige agteruitgang van die familie en van familiewaardes. Omdat die huisgesin geskep is om God se eie Drie-enige familielewe te weerspieël, kan dit nie met ʼn gesin, weg van Hom, goed gaan nie.
Hierbenewens kan ons van die Drie-eenheid leer om as huisgesin te lewe. Dat ons na God gaan om oor gesinslewe te leer, beteken nie alleen dat ons na sy Woord in die Bybel gaan nie. Dit beteken ook dat ons na Hom as Vader gaan om te leer hoe om vaders (en moeders) vir ons kinders te wees. Dit beteken dat ons ons kinders na sy heilige kind, Jesus, bring om oor hulle roeping as kinders te leer. Dit beteken dat ons na Hom as Heilige Gees gaan om te leer oor vrede, eensgesindheid, liefde, gemeenskap en al die ander seëninge van die gesinslewe. Net die Gees kan hierdie dinge leer. In die Godheid en in ons gesinne is Hy die bron van hierdie seëninge.
Die Bybel maak self in Psalm 103:13 hierdie vergelyking: “Soos ʼn vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees”. Dieselfde vergelyking word in Efesiërs 6:1-4 en Kolossense 3:18-21 gemaak. Die gehoorsaamheid van kinders, die onderdanigheid van vroue, die liefde van mans en die ontferming van vaders, is nie “reg” en “betaamlik” en “welbehaaglik” net omdat dit is wat God eis nie, maar ook omdat Hy die Vader is van ons Here Jesus Christus (Ef. 1:5), die geliefde Seun en Eersgeborene van die hele skepping van God (Kol. 1:13, 15), en omdat Hy die een Gees is (Ef. 4:4-6).
Wat vir die huisgesin waar is, is waar vir die kerk. Die kerk word huisgenote genoem (Gal. 6:10; Ef. 2:19). Die kerk bestaan uit huise (Hand. 5:42; Hand. 20:20) en met sy ampsdraers vorm dit ʼn gesin (1 Kor. 4:15; Gal. 4:19; 1 Tim. 5:1). In wese is die kerk die familie van God, wat Hom as Vader erken, wat hulle onderwerp aan die regering van die ouer Broer, Christus en woon in die huis van God (2 Kor. 6:18; Heb. 2:13). Daarom moet ook die kerk van die familie-God: Vader, Seun en Heilige Gees oor sy familielewe leer.
Vir ons gesinne en vir die groter familie van die kerk is die belangrikste besef daarom om God te ken, en om Hom te ken soos Hy Homself in die Drie-eenheid openbaar. Mag God aan ons dié kennis gee.