Die Dood
Die Dood
Daar bestaan geen twyfel dat die dood ʼn vyand is nie – die laaste vyand (1 Kor. 15:26). Ons vrees die dood, nie net omdat dit onbekend is nie. Niemand het ooit teruggekom om te vertel hoe dit is om te sterwe nie. Ons vrees vir die dood spruit in besonder uit die wete dat die dood die loon van die sonde is (Rom. 6:23), die oordeel van God oor hulle wat teen Hom opgestaan het.
Dit is geen wonder dat alle pogings aangewend word om die afgryse en die verderwing van die dood te bedek nie. Ook is dit geen wonder dat die meeste mense in die aanskoue van die dood, hulle verdriet met drank en gefuif probeer vergeet nie. Selfs al is hulle nie sterwend nie, wil hulle nie oor die dood praat of dink nie, en in baie gevalle, wanneer dit duidelik word dat daar geen genees- of hulpmiddel meer is nie, ontken hulle eenvoudig dat hulle wel sterwend is.
Die goddelose praat van die “oorlewing van die sterkste”1 wanneer hulle die dood in die skepping sien en van “nature red in tooth and claw”2 , om daarmee die feit dat die dood nie natuurlik is nie en dat die toorn van God daarin blyk, te verdoesel. Dood is oral en altyd die einde van alle hoop; die vyand wat te vroeg kom. Deur die oordeel van God in die dood bly alle arbeid en hoop onvervul en onbevredig.
ʼn Gelowige kan alleen maar deur geloof die dood in die oë kyk, en dit is óók nie maklik nie. In die aangesig van die dood sal die geloof worstel en veg en oorkom, maar altyd die oorwinning behaal. Met die wete van sy eie sonde, moet die kind van God steeds deur die geloof vertrou in die offer van Christus en sy oorwinning oor die dood, en met sy hele hart glo dat die dood verslind is in die oorwinning.
Die dood is vir die gelowige oorwin. Die dood kon Christus nie hou nie (Hand. 2:24), want die angel (die vernietigende krag) van die dood is die sonde (1 Kor. 15:56) en Christus het self geen sonde gehad nie. Vir die sonde wat Hy as Middelaar op Hom geneem het, het hy tot die laaste oortjie betaal. Hy het Hom gewillig in die mag van die dood gestel en dit toegelaat om die ergste aan Hom te doen, maar dit kon en het nie oorwin nie, want Hy is die Seun van God, die Heilige. Sy dood was, met die treffende woorde van John Owen, “die dood van die dood”3 vir almal wat die Vader Hom gegee het.
Nou ontstaan die vraag: “Waarom moet gelowiges sterf as die dood verslind is in die oorwinning?” Of, met die woorde van die Heidelbergse Kategismus, “As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?” Die antwoord van die Kategismus is die antwoord van die Skrif: “Ons dood is nie ʼn betaling vir ons sonde nie, maar slegs ʼn afsterwe van die sonde en ʼn deurgang tot die ewige lewe"4 (lees ook Joh. 5:24; Filip. 1:23).
Wat ʼn wonder! Die donker deur wat altyd net na die hel en vervloeking oopgegaan het, maak nou vir gelowiges oop na die heerlike hemelse lewe. Dit sou stellig nie verkeerd wees om te sê dat ons moet sterf om te toon hoe volkome Christus namens ons oorwin het nie. Die dood is die einde van alle sonde en die deur na die heerlikheid, maar ook ʼn getuienis van die feit dat die dood inderdaad verslind is in die oorwinning.
Daarom sê die gelowiges, “of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (Rom. 14:8). Sal dit u belydenis wees wanneer die dood kom?