Die Charismatiese Beweging Ons Onbetaalde Rekening?
Die Charismatiese Beweging Ons Onbetaalde Rekening?
Daar is niks nuuts onder die son nie. Die twintigste-eeuse Pinksterbeweging, insluitende die Charismatiese Beweging, is ook nie ’n nuwigheid nie. Dit is so oud soos die Christelike Kerk. Vanaf so vroeg as die tweede eeu na Christus was daar dwarsdeur die eeue spiritualistiese reaksie teen vermeende en werklike onderbeklemtoning van die Persoon en werk van die Heilige Gees en die gevolglike onheiligheid en geestelike verdorring in die kerk.
Dit het in die jaar 156 n.C. begin by Montanus wat homself uitgegee het as die Trooster (!) wat deur Christus beloof is. Montanus en sy volgelinge het plotselinge bekerings op die spits gedryf, die kinderdoop verwerp, tongetaal beoefen en hulle daarop beroep dat hulle wondergenesings bewerkstellig het. Presies soos vandag by die oorgrote meerderheid van die Charismatiese Beweging! Sy twee profetesse het om perfeksionistiese redes van hulle mans geskei (die huwelik is vir sulke heilige mense darem heeltemal te onheilig!) en hulle voltyds by Montanus gevoeg. Met wysigings en aksentverskille het hierdie soort spiritualistiese, perfeksionistiese reaksieverskynsel dwarsdeur die eeue as ’n protes teen die toestande in die bestaande kerke voorgekom. Helaas, die remedie is dikwels erger as die kwaal!
Besware Teen die Charismatiese Beweging⤒🔗
Watter besware het ek teen die Charismatiese Beweging? Elke beswaar wat ek hier met “sagmoedigheid en vrees” (volgens die eis van 1 Pet. 3:15) noem, geld sekerlik nie teen almal wat die Charismatiese Beweging aanhang nie, want hulle is geen homogene groep nie en verskil dikwels onderling van mekaar. My vernaamste besware het dus nie op almal betrekking nie, maar wel op die oorgrote meerderheid, uitsonderinge daargelaat:
Waar die herhaalde beroep op buite-Bybelse openbarings, soos drome, gesigte, stemme, visioene voorkom, is dit per implikasie ’n verloëning van die genoegsaamheid van die Skrif (vgl. Gal. 1:18; 2 Pet. 1:21; 2 Tim. 3:16; Openb. 22:18, NGB art. 7).
Dit hang ten nouste saam met bogenoemde. Die buite‑Bybelse openbarings waarop die meerderheid mense van die Charismatiese Beweging hulle beroep, beteken ’n skeiding van Woord en Gees. Daar word sodoende by hulle veel meer klem gelê op die ervaring van die Heilige Gees as op die openbaring van God in die Skrif. Maar so raak die Christen verseil in mistisisme.
’n Grondreël van die hermeneutiek (= reëls vir Skrifverklaring) is: om die Skrif met die Skrif te verklaar deur die Skrif met die Skrif te vergelyk. Maar dan moet jy die volle openbaring van God gebruik. By die Charismatiese Beweging word die Bybel oor die algemeen verskraal tot enkele hoofstukke uit Handelinge en 1 Korinthiërs (die Pinkstergebeure en die wondergawes). Hulle konsentreer só op genoemde hoofstukke dat die hele res van die Bybel uit fokus raak. In plaas van Skrif met Skrif te vergelyk, is dit in hierdie kringe eerder ’n gewilde metode om die Bybel willekeurig by ’n plek te laat oopval vir ’n boodskap in ’n bepaalde situasie – so asof die Bybel ’n toormiddel is.
Dit is feitlik eie aan die hele linie van die Charismatiese Beweging – geheel en al strydig met die Skriftuurlike verbondsleer (Gen. 15; Gen. 17; Kol. 2:11-13; Heidelbergse Kategismus 27:24).
Repristinasie beteken die poging om iets wat in die verlede plaasgevind het, op ’n geforseerde manier weer te laat plaasvind. Uit talle van hulle uitsprake blyk dat dit is wat die Charismatiese Beweging met die Pinkstergebeure doen. Deurlopende nuwe uitstortings van die Gees, altyddurende Pinksterekstase, spreek in tale, wondergenesings – maar gerieflikheidshalwe nie opneem van slange en drink van gif, wat deur Jesus (Mark. 16:18) ook as Pinkstertekens genoem word en opwekking van dooies (Hand. 9:40) wat in die apostel-tyd plaasgevind het nie. Met die repristinasie van Pinkster word die uniekheid van die apostelamp en van die vestigingstyd van die kerk ontken en ’n streep deur 2 000 jaar se kerkgeskiedenis getrek.
Volgens segsmanne van die Charismatiese Beweging is die doop met die Heilige Gees “second blessing” wat jy korter of langer na jou wedergeboorte en bekering ontvang om jou toe te rus met die wondergawes van die Heilige Gees. Die wondergawe van tongetaal is die noodsaaklike bewys dat jy met die Gees gedoop is. Volgens die Skrif (Hand. 1:5, 8) is die doop met die Gees dieselfde as die uitstorting van die Gees op Pinksterdag sodat die Gees ewig in die kerk sal bly (Joh. 14:16) om deur die eeue heen die gelowiges langs die weg van die wedergeboorte in die geloof Christus en ál sy weldade deelagtig te maak.
As uitgroeisel uit die Metodisme is die Charismatiese Beweging gewoonlik oorwegend Arminiaans in sy verlossingsleer. Dit is die leer wat, met totale minagting van die Skriftuurlike uitverkiesingsleer, verkondig dat die natuurlike mens nie heeltemal verdorwe en in sonde morsdood is nie, maar dat alle mense maar net in sonde siek is en ’n voorbereidende genade besit wat net gestimuleer moet word – dan kan enige mens salig word. Die Sinode van Dordt (1618-1619) het hierdie leer grondig veroordeel en die Dordtse Leerreëls wat daar ontstaan het, is een van ons Gereformeerde Belydenisskrifte.
Hiervolgens glo die meeste aanhangers van die Charismatiese Beweging in ’n toekomstige duisendjarige ryk. Die grondfout hier is dat hulle die boek Openbaringe nie beskou as visioenêre boek waarin die gebeurtenisse konsentries beskryf word nie, maar as ’n historiese boek waarin die gebeurtenisse mekaar chronologies opvolg.
Vroeër het die ou, klassieke Pinksterbeweging geleer dat ’n mens perfek heilig en perfek gesond kan wees as jy ’n Christen is. Nou het die Charismatiese Beweging, met aanvaarding van die voorgaande, daarby kom voeg dat ’n Christen ook perfek voorspoedig behoort te wees. Paulus het al gewaarsku teen mense wat “dink dat godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak” (1 Tim. 6:5). Die leer van die perfeksionisme is ’n hersenskim wat geen grond in die Skrif vind nie (vgl. 1 Joh. 1:8; Rom. 7:15, 21, 24; Heidelbergse Kategismus 44:114 ; Dordtse Leerreëls, 5).
Die manier waarop die Charismatiese Beweging lidmate werf, is dikwels tipiese kerklike skaapdiefstal. Lidmate word op menigerlei vindingryke, soms slinkse maniere in die geheim van hul kerke afgerokkel – as jy maar weer hoor, dan is mevrou So-en-So (ja, by voorkeur mevrou, hoor!) klaar groot gedoop. Dan is die koeël deur die kerk en haar eie kerk probeer tevergeefs om haar terug te kry. Ek wil maar sê: dit is nie die eerbare weg nie. Broers in Christus maak nie so nie.
Bostaande is my vernaamste besware teen beskouings en praktyke wat in mindere of meerdere mate eie is aan die Charismatiese Beweging.
Fenomenale Groei←⤒🔗
Ondanks (of is dit dalk juis as gevolg van? Want dis almal lekker dwalings en spreek die mense aan wat van sensasie hou!) al hierdie ernstige mankemente en dwalings is daar ’n fenomenale groei in die Pinksterkerke en insonderheid by die Charismatiese Beweging. Die ou, klassieke Pinksterbeweging, wat sowat ’n honderd jaar oud is, en die Charismatiese Beweging wat maar eers in 1960 begin het, tel wêreldwyd rondom 200 000 000 aanhangers en hulle groei by die dag.
Hulle het natuurlik ook hul teëslae: na elke “revival” is daar talle “backsliders” – mense wat na ’n paar maande ontnugter word deur die besef: dis onmoontlik om deurentyd op die hoë kruin van ekstase te leef. Nietemin, die Pinksterkerke word, naas die Rooms-Katolisisme en die Protestantisme, vandag die Derde Mag in die Christendom genoem. Of ons nou van hulle hou of nie, en of ons hulle beskuldig van verdwaalde vroomheid of nie, dit sou volstruispolitiek wees om hulle bestaan te ignoreer. Wat meer is, hoeveel van ons eie kerk se lidmate of lidmate se familielede het by die Charismatiese Beweging godsdienstige tuiste gevind? Aan hulle geloofsintegriteit mag ons nie twyfel nie. Hulle glo, net soos ons, in Jesus Christus. Hulle is nie ons vyande nie – hulle is ons broers en susters in Christus (Mark. 4:34, 35). Die duiwel en die Antichris is ons vyande. En al is die broederlike verhouding tussen ons en die Charismatiese Beweging vandag ook al hoe versteur, daar mag ’n dag kom dat ons en hulle en die Rooms-Katolieke skouer aan skouer teen die Antichris sal moet veg.
Hoeveel van die snelle groei van die Charismatiese Beweging maar net nog ’n Amerikaanse suksesstorie is, en hoeveel daarvan die werk van die Heilige Gees is, weet die Here alleen. Daaroor mag ons nie oordeel nie. Feit is, hulle groei – en óns kwyn. U ken die klag wat nou al besig is om ’n refrein te word: Die GKSA verloor jaarliks omtrent 400 lidmate, wat gelykstaan aan een hele gemeente per jaar. Dit het reeds die afmetings van ’n krisis aangeneem.
Wat nou?
Woorde van Totius←⤒🔗
Nadat Totius aan die begin van hierdie eeu al sy besware teen die Metodisme uiteengesit het (baie breedvoeriger as wat ek myne teen die Charismatiese Beweging hierbo gegee het), het hy aan die einde van sy proefskrif hierdie merkwaardige woorde geskrywe, naamlik dat sy beoordeling van die Metodisme “nie gedoen (is) om daarmee die groot werk van God wat deur middel van hierdie geestelike beweging tot stand gekom het, te misken nie. WESLEY en WHITEFIELD was in die donker Deïstiese eeu die instrumente in die hand van God om die Christendom uit ’n diep en sondige slaap wakker te roep. So lê dan ook hier die goeie en die verkeerde deureengestrengel en bring dit ons tot stille aanbidding van Hom wat die manne verwek na sy welbehae en deur hulle swak en veelsins met sonde bevlekte poginge sy werk oplei na die voorgestelde doel” (Versamelde Werke, 1977, 6, p. 213).
Geld dit wat Totius van die Metodisme gesê het, nie dalk ook van die Charismatiese Beweging nie? Die Charismatiese Beweging is ’n geil waterloot wat uit die stam van die Metodisme binne drie dekades hoog opgeskiet het. Dis nog steeds, soos in die tyd van Wesley, reaksieverskynsel wat protesteer teen die beweerde verwaarlosing van die Persoon en werk van die Heilige Gees in die kerk. Hier geld seker ook die wyse woorde van Gamaliël: “As wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie” (Hand. 5:38, 39).
Onbetaalde Rekenings?←⤒🔗
Daar is 'n ou spreekwoord: die sektes is die onbetaalde rekenings van die kerk.
Totius se woorde hierbo laat die vraag ontstaan: is die Pinksterbeweging en die Charismatiese Beweging ook ’n onbetaalde rekening van die kerk in hierdie donker twintigste eeu van volslae sekularisme en ontkerstening? Is die Charismatiese Beweging ook ’n onbetaalde rekening van onder andere die GKSA?
Hoe is dit gesteld met die belydenis en belewenis van die Persoon en werk van die Heilige Gees in óns kerk?
Ek dink nie dit skort by ons amptelike belydenis nie. Doen gerus die moeite en gaan sit en tel hoeveel keer in ons belydenisskrifte (soms met gloeiende entoesiasme!) verwysings na die Heilige Gees is.
Die vraag is: hoeveel daarvan kom tot sy reg in ons belewenis, in ons eredienste, in ons gemeentelewe, in ons daelikse beoefening van die godsaligheid?
- Ek weet van gemeentes wat groei en bloei en waarin die gawes van die Gees duidelik tot openbaring kom. Ek ken ook gemeentes wat geestelik armoedig is en kwyn en ondertussen hul kragte verteer met kleinlike binnegevegte. (Hoe wens ek en baie ander lesers dat hierdie ding wil ophou om soms soos masels in die korrespondensierubriek van “Die Kerkblad” uit te slaan!).
- Ek hoor lieflike Skrifuitleg in preke met ’n gebalanseerde trinitariese, Christosentriese inslag waarin Vader, Seun en Heilige Gees figureer. Ek het ook al soms preke gehoor waarin Christus en die Heilige Gees heeltemal ontbreek – so preek sou ewe goed in die Joodse sinagoge gepas het! Gelukkig het daar later jare hierin verandering ten goede gekom. (Oppas nou net om nie te óórkompenseer nie!).
- Ek hoor kansel- en ander gebede in óns kringe wat ontroerende, gebalanseerde antwoord is op die volle openbaring van die drie-enige God. Ek hoor soms ook gebede waarin die Heilige Gees verswyg word asof hy nie bestaan nie – en dit terwyl ons bely dat God sy genade en sy Heilige Gees alleen aan diegene gee wat sonder ophou met hartlike versugtinge daarom bid en daarvoor dank (Heidelbergse Kategismus, 45:116).
- Ek ken gemeentes waarin die amp van die gelowiges onder leiding van en toerusting deur die besondere ampte hoog opbloei. Ek ken ook dominees-kerke waarin die amp van die gelowiges ’n dooie letter is.
- Ek ken lidmate wat getrou elke Sondag twee maal kerk toe gaan. Ek ken ook lidmate (sommer menigte van hulle!) wie se sitplek elke Sondagaand leeg is – ondanks die feit dat hulle, by die aflegging van geloofsbelydenis, aan God beloof het dat hulle die bediening van Woord en sakramente vir hulleself YWERIG sal soek. (Gaan kyk net ’n bietjie hoeveel motors staan daar Sondagaande by sommige Pinksterkerke!).
- Ek ken talle pragtige, Geesvervulde lidmate wat die vrug van die Gees ryklik dra: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22). (Word húlle nie dalk partykeer deur sommiges valslik as “metodisties” bestempel nie?) Ek ken ongelukkig ook klipchristene, lippedienaars, wat soms Sondae in die kerk sit en selfs nagmaal gebruik, maar wat in die week tugteloos die werke van die vlees voortbring. (Dis juis een van die besware wat die Charismatiese Beweging teen die kerke het!).
So lê goed en kwaad ook by óns deureengestrengel, net soos in die Metodisme, die klassieke Pentekostalisme en die Charismatiese Beweging. Maar so was dit ook al in die tyd van die apostels. ’n Volmaakte kerk was daar nog nooit! Watter kwaad in die kerk moes Paulus nie al in sy briewe bestraf nie! En hoe het die sonde, blykens die verhoogde Heiland se briewe in die Openbaringboek, in die gemeentes in Klein-Asië gefloreer! Die vraag waarop dit aankom, is: Wat dóén ons om die kwaad in leer en lewe te bestry?
Wat móét Ons Doen?←⤒🔗
Gedagtig aan Jesus se woord oor die splinter en die balk (Matt. 7:3), moet ons, terwyl ons op ons hoede is vir die dwalinge van die Charismatiese Beweging, gedurig ook maar voor ons eie deur vee.
Om voor ons eie deur te vee, beteken nie (soos ’n mens dit soms deesdae in ons eie kringe nogal hoor) die sieklike neiging om die kritiek op ons eie kerk tot ’n doel te verhef nie - net soos ’n ou tante wat haar van die môre tot die aand sit en verlekker in aanhoudende gekerm oor al haar kwale, maar wat darem nie wil dokter toe gaan om die kwale te laat genees nie, want dan is sy haar grief kwyt!
Wat beteken dit dan wel?
Ecclesia reformata semper reformanda – ’n gereformeerde kerk moet altyd reformeer.
As ons die groei van die Pinksterkerke en -bewegings en die krimpende getalle van ons eie kerk nie op ons rekening (en op ons gewete voor God!) wil hê nie, as ons wil regstel wat klaarblyklik by ons skort, moet ons dus nie die Pinksterbeweging met al sy dwalinge probeer navolg en naboots nie. Dit is die rewolusionêre pad van oorkompensering wat gewoonlik op die lang duur net so skadelik is as die van onderkompensering.
Nee, indringende ontleding van ons eie tekortkominge by die lig van die Skrif, maar dan ook voortdurende, biddende, toegewyde reformasie in die hele bediening van die versoening, volgens die eise van die volle Raad van God, sodat al ons bevrore geestelike krediete weer vloeibaar word, sinvol gerig op die praktiese nood van ons eie tyd – dit is wat ons te doen staan.