Die Bybel en Ons Begrip van wat Goed is
Die Bybel en Ons Begrip van wat Goed is
Ons etiek is Christelik. Dit klink so eenvoudig. Met die eerste oogopslag byna niksseggend in die eenvoud daarvan. Tog sê dit ook weer alles. Dit sê waaroor, beter gesê, oor Wie dit gaan in ons besluite oor wat goed en wat kwaad is. Wanneer ons sê dat ons etiek Christelik is, wil ons daarmee ook laat verstaan Wie die Een is wat bepalend is vir wat vir ons as Christene (en die hele wêreld!) reg en verkeerd is. Ons wil daarmee sê dat wanneer ons op soek is na wat God van ons vra om te doen of te laat of van weg te vlug, begin ons nie met ‘n gebod nie. Ons begin met ‘n Persoon. Met Christus. Hy is ons Here. Die gebooie kan ons nooit los van Hom en ons identiteit wat ons van Hom kry, verstaan nie. Só funksioneer die Bybel as God se boek aan ons wat ons wil help om te verstaan wat goed en kwaad is.
Die Een wat Goed is⤒🔗
“Goeie meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” (Matt. 19:17). Met hierdie vraag kom die ryk jongman na Jesus. Hy wil graag die ewige lewe hê. Tegelyk weet hy dat die ewige lewe nie los staan van die goeie wat ons hier op aarde doen nie. Die goeie moet heel konkreet word. Daarom verwys die Here Jesus hom dan ook na die goeie gebooie van die goeie God. Dit is net God alleen wat goed is. Dit is so belangrik vir ons verstaan van wat die Bybel se verstaan is, van wat goed en kwaad is.
Die goeie gebooie van God sal ons kan laat sien wat goed is. Dit is egter ook nie die einde van Jesus se antwoord aan die ryk jongman nie. Die gebooie kan net verstaan word in hulle verhouding tot Jesus self. Volmaaktheid kom nie deur nét na die gebooie alleen te kyk nie. Die jongman vra self wat hy nog kortkom nadat hy die gebooie gehou het van sy jeug af (Matt. 19:20). Dan tree Jesus self as Wetgewer na vore: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier en volg My” (Matt. 19:21).
Lewe met die Goeie God←⤒🔗
Die goeie van God wat gedoen moet word, lê nie in die gebooie self nie. Dit lê in God. Nader omskryf — dit lê in Jesus self wat die goeie God is wat tot by ons gekom het. Daarom moet Hy nagevolg word. Hy is inderdaad die Meester wat ons leer wat goed is. Vir die ryk jongman word die goeie gebooie glashelder, wanneer dit verstaan word in dit waartoe die Here Jesus hom oproep. Hy moet alles gaan verkoop en Jesus in sy armoede op pad na die kruis volg.
Die Here Jesus wil hê dat ons noukeurig sal nadink oor wat goed is. Ons kan en mag nie as Christene leef met ‘n “reëlboek” nie. Ons het met Iemand te doen wat self goed is! Die goeie weg wat ons moet volg wat uitloop op die ewige lewe is Jesus Christus self. God se genadige goedheid wys die weg van ‘n goeie lewe. Lewe vanuit God se goedheid. Die goeie lewe wat die Here van ons vra, is ’n lewe met Hom. Daaroor gaan dit. Die goedheid in ons lewens moet iets weerspieël van God se goedheid. Ons moet volmaak wees soos ons hemelse Vader volmaak is (Matt. 5:48). Dit is wat dit beteken om beeld van God te wees.
Ons moet in ons doen en late ‘n afbeelding wees van God se goedheid, volmaaktheid, heiligheid, barmhartigheid en lankmoedigheid. Dit is waarom ons nie beelde mag maak van wat bo in die hemel is nie. God is die Een wat beelde maak. Hy maak ons as die “draers” van sý beeld. Ons lewenswandel moet heilig wees, want God is heilig: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16).
Méér as Gebod, Vóór die Gebod←⤒🔗
Ek vind dit (in die Skrif!) ontsettend belangrik dat daar eers iets met ons moet gebeur voordat ons enigsins die gebooie van die Here in ons lewe kan toepas en gebruik. Is dit nie ook presies wat die Here Jesus vir die ryk jongman wil sê nie? Die jongman begin met die gebooie wat hy gehou het vandat hy jonk was. Presies dáár lê egter die probleem. Christus wil dat hy sal verstaan wat goed is, deur hom eers ‘n nuwe identiteit te gee.
Die ryk jongman moes sy foto op sy identiteitsdokument wat vanuit die wet bepaal was, inruil vir ‘n nuwe identiteitsdokument. Daarsonder kan hy nie goed doen nie! Hy moes raakgesien (herken) word, nie as iemand wat die wet onderhou nie, maar as volgeling van Jesus Christus wat as arm, verworpe Middelaar, op pad is na die kruis. Juis dan word goeie invulling gegee aan die gehoorsaamheid van die Wet. Net soos wat die identiteit van Israel nie bepaal is deur die tien gebooie op die kliptafels in die eerste plek nie. Die Here gee nie die tien woorde op die kliptafels in ‘n lugleegte vir hulle nie. Vóór die gebod, is daar iets veel meer.
Hulle identiteit word bepaal vanuit die Here hulle God wat hulle uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het. Die heerlikheid van die Here het weer oor hulle kom skyn! Wanneer Moses van die berg kom, sien die volk weer hierdie heerlikheid van die Here wat van Moses se gesig afgeskyn het. Dit was vir hulle verblindend. Maar daarin lê wel hulle identiteit.
Moses self verwoord dit heel aangrypend as hy vir die volk intree nadat hulle daar by die berg met die goue kalf gesondig het. Wanneer die Here vir Moses en die volk beveel om na die beloofde land op te trek met die gebooie, maar dat die Here self nie in hulle midde sal optrek nie, ween die volk (Eks. 33:1-4). Hoe kan hulle met ’n ark en die kliptafels verder, as die Here self nie by hulle is nie? Sy heerlikheid moet by hulle wees.
Sonder die Here se teenwoordigheid by hulle, het hulle met kliptafels en al net soos enige van die ander volke geword. Daarom bid Moses tot die Here: “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Eks. 33:15).
Dit is onmoontlik om op die weg van die Here se gebooie te gaan, sonder die Here self. Hy bepaal ons identiteit. Sy genadige teenwoordigheid by en in ons ís ons identiteit. Hiermee raak ons aan só ‘n belangrike aspek van ons lewe met ons Verbondsgod. Ek kan ‘n kind van hierdie verbondsgod wees, sonder dat ek eers sy gebooie begin gehoorsaam het. Hy máák my eers sy kind. Die Here bevry eers vir Israel uit slawerny, en gee dán sy Wet aan hulle as identiteitsmerker. Die omgekeerde kan egter nóóit waar wees nie. Dit is onmoontlik om op die weg van God se gebooie te gaan, sonder dat ek ‘n nuwe identiteitsdokument uit God se genade alleen gekry het. Méér as die gebooie, nl. God self in sy genade, gaan vóór die gebooie.
God Leer Ken←⤒🔗
God se wil vir ons lewens sal onduidelik bly, as ons daarom nie die hele Bybel wil lees nie. Ons is vir die verstaan van wat reg en verkeerd, goed en kwaad is, nie net van God se gebooie afhanklik nie. Die gebooie word “verpak” binne ‘n pragtige genadegeskiedenis wat die Here met sy kinders gaan. Om te verstaan wat die goeie en volmaakte wil van die Here vir sy kinders se gehoorsaamheid is, moes hulle (en ons!) denke eers vernuwe word. Wil ons nie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie, moet ons eers verander word. Deur die vernuwing (van ons gemoed) wat plaasvind, kan ons dan ook die volmaakte wil van God vir ons lewe ontdek (Rom. 12:1-2).
Die duidelike wil van die Here lê daarom nie in die gebooie van God per sé nie. Ons etiek is nie ‘n gebooie-etiek nie, maar ’n Christelike etiek. Dit word bepaal vanuit Christus. Hý is God se volmaakte reddingswerk in die laaste dae vir ons. Ons verstaan van goed en kwaad sal daarom in menigte opsig nie gevorm word deur die gebod van God nie, maar deur te let op wie en hoe God is in Christus Jesus. Om Hom te kan ken is tog die lewe!! (Joh. 17:3).
Dit sal ons verstaan van God se wil vir ons lewe verhelder as ons weer die woorde van Calvyn reg aan die begin van sy Institusie wil ernstig opneem. Calvyn skryf:
Byna die volle eindtotaal van ons wysheid, ... bestaan uit twee dele: kennis van God en kennis van onsself.
Wysheid oor wat reg en verkeerd is, begin nie by die gebooie nie, maar by God en wie ons is in ons verhouding tot God in Christus.
As God se wil in die Bybel vir ons verstaanbaar is, sal dit wees nadat ons dan ook meer as net die wet lees. Ons sal begin by Genesis om God te leer ken as Skepper en ons sal let op Openbaring 22 waar ons die voleinding van die wêreld in perspektief kan begin kry. Is dit nie wat die Here self ons leer wanneer Hy sy wil vir sy volk t.o.v. die Sabbat, terugneem na die geskiedenis van die Here self met sy skepping. Hy het ses dae gewerk en die sewende gerus. Die geskiedenis van God se werke vorm die basis vir sy gebooie aan ons. Vir verstaanbare etiek, het ons die duidelike inhoud van die hele Bybel nodig.