Die boom van kennis van goed en kwaad
Die boom van kennis van goed en kwaad
Ons het die aanwesigheid van die twee besonderse bome wat God in die tuin van Eden, die woonplek van Adam en Eva, geplant het, verduidelik. Ons sal nou, in die lig van Deuteronomium 8:2, 3, iets sê oor die doel van die boom van kennis van goed en kwaad. Ons glo dat die boom van kennis van goed en kwaad die belangrike beginsel wat in hierdie verse geleer word afgebeeld het: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan”.
Kom ons begin daarby om te onthou dat die vrugte van die boom in sigself goed was. Daar bestaan geen rede om te glo dat dit wat Eva gesien het toe sy na die boom gekyk het, nie waar was nie. Dit was “goed om van te eet”, “ ʼn lus vir die oog” en “ ʼn boom wat ʼn mens kan begeer om verstand te kry” (Gen. 3:6). Só het sy dit reeds, strydig met God se bevel, begin begeer. Waarom het God dan verbied om daarvan te eet?
Die antwoord word in Deuteronomium 8:2, 3 gevind. God het aan Adam en Eva geleer dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar van die Woord van God. Daar is meer aan die lewe as blote bestaan; meer aan die lewe as die lewe van die liggaam wat deur brood te eet onderhou word. Vir die mens is die lewe gemeenskap met die lewende God deur gehoorsaamheid aan die woord van God.
Homer Hoeksema het gesê: “Dié boom het aan Adam brood gebied, goeie brood, uit die aarde. En tog het dit brood gebied wat hy nie mog eet nie! In plaas daarvan kom die woord van God, wat hom gebied om hom van hierdie een boom te onthou. Deur hom van die boom van kennis van goed en kwaad te onthou, sou Adam die ander, hoër, geestelike sy van sy lewe beoefen; hy sou met liefdevolle vriendskap en diens aan die Here sy God gehoorsaam wees, en só waarlik lewe”.1
Adam se keuse was om die luste van die vlees te bevredig, eerder as om aan God gehoorsaam te wees. Hy was saam met Eva die eerste wie se buik sy god was, die eerste om “aardse dinge” te bedink (Filip. 3:19). So het die mens sedertdien gelewe, deur die begeertes van die vlees en van die verstand te bevredig en nie die guns van God hoër as die lewe te ag nie. Hulle probeer steeds om van brood alleen, sonder die Woord van God, te lewe.
Maar waar Adam geval het, staan Christus. Christus het nie alleen weer vir ons gesê dat ʼn mens nie van brood alleen lewe nie (Matt. 4:4); Hy het ook by daardie beginsel gebly terwyl Hy na veertig dae in die woestyn honger gely het. Om die woestyn met genoeg brood om al die hongeriges van die wêreld te versadig, te vul deur klippe in brode te verander, was vir Hom nie so belangrik soos gehoorsaamheid aan God nie. Het die kerk vandag maar só gedoen.
Wat in die woestyn gebeur het was inderwaarheid net die verhaal van Jesus se hele aardse bediening. Ook sy dood was ʼn getuienis dat vir Hom, soos vir niemand anders nie, gehoorsaamheid aan God belangriker was as die aardse lewe en die dinge wat dit onderhou. Hy was gehoorsaam selfs tot die dood toe, en het só sy uitverkorenes uit die gevalle kinders van Adam, van die sonde verlos.