Die belangrikheid van die Drie-eenheid
Die belangrikheid van die Drie-eenheid
Die belangrike Bybelse leer van die Drie-eenheid word dikwels deur diegene wat dit glo min op prys gestel. Hulle weet dat dié leer, meer as enige ander, die Christendom van alle heidense godsdienste en die sektes onderskei, maar besef nie dat dit vir hulle persoonlik belangrik is nie. Dit lyk na ʼn abstrakte leer wat min te doen het met die lewe of met geloofsekerheid. Tog is hierdie leer, selfs vir sulke praktiese aangeleenthede soos die familielewe, baie belangrik.
Dink eerstens aan die feit dat die leer van die Drie-eenheid ons leer dat hierdie Drie-enige God die enigste ware God is. Die leer doen dit deur ons te wys dat Hy bo ons begripsvermoë is. Dit laat ons saam met Job vra: “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?” (Job 11:7). God is God; as ons Hom ten volle sou kon verstaan sou Hy niks groter wees as ons beperkte verstand nie. Hy sou glad nie God wees nie, maar ʼn afgod wat deur ons verstand en hart bedink is!
In hierdie opsig is die leer van die Drie-eenheid die grondslag van alle ware bekering, ootmoed, eerbied en aanbidding. Dit herinner ons daaraan dat God God is, dit bring ons voor Hom op ons knieë sodat ons saam met Job sê: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job: 42:5, 6).
Tweedens leer die leer van die Drie-eenheid dat God ons volle saligheid en al ons hoop is. Alles wat ons nodig het, is in Hom. Hy is Vader, ons Vader om Christus se ontwil. Hy is die eniggebore Seun, ons ouer Broer. Hy is die Heilige Gees wat, soos die wind, kom en gaan soos Hy wil, en wat selfs voordat ons van sy teenwoordigheid bewus is in ons harte kan woon en daarin werk met onweerstaanbare krag.
Wanneer ons die liefde van God wil ken, dink ons aan Hom, en bid tot Hom soos kinders tot ʼn vader. Wanneer ons dink dat daar niemand is wat ons behoeftes en ons beproewings verstaan nie, herinner Hy ons daaraan dat sy Seun vlees geword het soos ons is, en daarom met ons swakhede medelye kan hê (Heb. 4:15), dat sy Seun inderdaad ons ouer Broer is. Wanneer ons ver van God en van vrede voel, getuig sy Gees saam met ons gees dat ons kinders van God is. In teëspoed en ellende, in eensaamheid en droefheid, in vreugde en gehoorsaamheid ontdek ons Hom as ons God, nie ʼn god wat ver is soos die god van Islam nie, maar ʼn God wat naby is – ʼn Vader, ʼn Seun en ʼn Heilige Gees. Hy is die God wat ons liefhet en in wie ons met gerustheid ons vertroue kan stel.
Naas Hom is daar geen ander God nie, geen ander wat ons eerbied en lof waardig is nie.