1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Begrafnis van Christus

graf Christus

Die begrafnis van Christus word gewoonlik as deel van sy vernedering beskou. Handelinge 2:24 sê waarom: die smarte van die dood is eers ontbind toe Hy opgestaan het. Voordat Hy opgestaan het, het Hy “in die doodsstaat, onder die mag van die dood”1 gebly.

Sy begrafnis was ʼn noodsaaklike deel van sy werk, want daarmee het Hy bewys dat Hy óns dood gely en volkome oorwin het. Net omdat Hy begrawe is en in die graf gebly het, kan ons sê: “Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55) en kan ons glo dat ons nie in die graf vergete sal bly nie (Ps. 31:12).

Dit is ook in die begrafnis van Christus waar sy oorwinning oor sonde en dood reeds begin blyk. Handelinge 2:31 dui hierop, wanneer dit sê dat “sy vlees ook nie verderwing gesien het nie”.

Hierdie woorde kan net beteken dat die liggaam van Christus, toe Hy in die graf was, nie soos ons sʼn begin ontbind en vergaan het nie. In Handelinge 13:36, 37 word oor Christus, in teenstelling met Dawid (en alle ander), gesê: “Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie”.

Vanuit hierdie gesigspunt is Christus se drie dae in die graf die bewys dat hy die mag van die dood deur sy kruisdood volkome oorwin het. Hy het dit gedoen deur vir die sonde, die angel van die dood (1 Kor. 15:56), te betaal. Sonder die sonde het nóg die dood, nóg die graf enige mag. Daarom kon die dood Christus ook nie vashou nie (Hand. 2:24). Só volkome het Hy oorwin, dat die dood selfs nie sy te wagte ontbinding oor Hom kon bring nie.

Die apostel Paulus sê in Handelinge 13:37, 38 dat ons mag weet dat daar deur Christus vergewing van sonde is, omdat Hy geen verderwing gesien het nie. Ons hoef daarom nie tot ons opstanding te wag, om te weet dat die werk van Christus klaar is en dat volkome versoening vir ons bewerk is nie. Dit word reeds deur sy begrafnis verkondig.

Omdat Christus begrawe is en geen verderwing in die graf gesien het nie, mag ons seker wees dat ons eendag ook onverganklik sal wees: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word”. Wanneer dit gebeur, sal die spreuk: “Die dood is verslind in die oorwinning” (1 Kor. 15:53, 54), waarheid word.

Ons mag nooit vergeet dat Jesus aan die kruis gesterf het en op die derde dag opgestaan het nie, maar ons mag ook nie vergeet nie dat Hy “gekruisig is, gesterf het en begrawe is”. Ook hierin betuig Hy Hom aan ons as ons Saligmaker. Wat ʼn Saligmaker is Hy! Selfs die verderf van die graf, die doodsreuk, die ontbinding, die afskuwelikheid en alles wat daarin verbeeld word, is deur Hom oormeester. Hy het die geestelike verderf van die sonde volkome vir ons vernietig, sodat selfs in die dood ons liggame net “ontslaap in Christus” (1 Kor. 15:18, 20).

Endnotes🔗

  1. ^ Die Groter Kategismus van die Westminsterse Geloofsbelydenis, Antwoord 50.