Die Alfa en die Omega
Die Alfa en die Omega
Die laaste Bybelboek wek historiese belangstelling. Die Openbaring onthul wat ná die hemelvaart van Christus gou moet gebeur (Openbaring 1:1). Dit gaan veral oor die laaste dae (Handelinge 2:17), die laaste periode van die geskiedenis. Hierdie tydperk het met die hemelvaart van die Here Jesus begin en word met sy koms op die wolke afgesluit (Handelinge 1:7).
Reeds in die begin van die Openbaring maak ons drie-enige God Homself bekend met ’n naam wat aandui dat Hy in die geskiedenis werksaam is. Ek is die Alfa en die Omega, sê Hy. Die alfa is die eerste en die omega die laaste letters van die Griekse alfabet. Ons sou in Afrikaans sê: Die A en die Z.
Die betekenis van hierdie naam, wat in geen ander Bybelboek voorkom nie, word onmiddellik verduidelik. Die Here is die begin en die einde. So staan dit ook aan die einde van hierdie boek, in hoofstuk 21:6, opgeteken. Hoofstuk 22:13 voeg daaraan toe: die eerste en die laaste.
God die Here is die begin, die eerste. Dit wil sê dat Hy saam met die heelal ook die tyd geskape het (Genesis 1:1). Alles wat bestaan en lewe, is maaksel van sy hande. Alles, ook die tyd, behoort aan die Skepper (Psalm 24:1). Ons lewe, asem, geld en goed, die lewensverbande, die volkere, ja alles is sy eiendom. Die Here is ook die laaste, die einde. Op sy tyd beëindig Hy die wêreldgeskiedenis. Die naam “die Alfa en die Omega” gee verder te kenne dat alles wat plaasvind tussen die begin (die skepping) en die einde (die koms van die Here Jesus), onder sy bewind geskied. Ons God is die “Hoof-persoon” in die geskiedenis.
Luister mooi na wat daar staan. Die Here is nie ’n alfa of een van baie omegas nie. Die wêreldgebeure verloop nie siklies, in sirkels, in sinloos-opeenvolgende periodes, waarin volke en nasies opkom, blink en wegsink nie. Nee, Hy is dié Alfa en dié Omega.
Daar is maar een begin, naamlik sy skeppingsbegin. Daar is in die geskiedenis slegs een eerste Adam (Romeine 5:12) en een Jesus, die laaste Adam (1 Korinthiërs 15:45). Een keer het ons Verlosser in die vlees gekom. Een maal kom Hy op die wolke. Tussen die een begin en die een einde is elke gebeurtenis eenmalig. Die geskiedenis verloop nie siklies nie, maar liniêr, in ’n reguit lyn volgens die Here se raadsplan. Daarin is ook aan die menslike verantwoordelikheid ’n plek toegewys.
Die woordepaar “Ek is” waarmee die teks begin, herinner aan die bekende verhaal van die brandende doringbos wat nie verteer is nie. Toe en daar het God sy Verbondsnaam afgekondig: HERE, Jahweh. As Israel in Egipte vir Moses vra: Wie het jou gestuur? Hoe is sy naam?, moet hy antwoord: “EK IS het my na julle gestuur” (Eksodus 3:13-14).
EK IS beteken: God die HERE doen wat Hy gespreek het. Hy vervul sy verbondsbeloftes vir elkeen wat glo. En alle ongelowiges sal ondervind dat sy woorde van dreiging en vloek daadwerklik geskied.
Die begin en die einde, die eerste en die laaste, lei ons gedagtes as vanself na die middel van die geskiedenis, die volheid van die tyd. Die Woord, die ewige Seun van God, word vlees (Johannes 1:1, 14). Die Openbaringboek wys na Hom as die Lam wat geslag is (Openbaring 5:12). Die Here Jesus is die vervulde paaslam. Vir ons oortredinge is Hy deurboor.
“Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom” (Jesaja 53:5). Die gekruisigde (1 Korinthiërs 1:23) en opgestane Christus, is die middelpunt van die geskiedenis. Deur die geloof in Hom is daar verlossing. Uit genade is die geskiedenis na die sondeval heilsgeskiedenis.
Nou word die sin van die geskiedenis deursigtig. Dit gaan oor Christus, oor die vergadering van die kerk, die bruid van die Lam. Op die oomblik dat die laaste uitverkorene gebore en wedergebore is, weerklink die basuin (1 Korinthiërs 15:52). Die Heiland kom met die wolke (Openbaring 1:7). Die uur van die voleinding het aangebreek.
God se naam “die Alfa en die Omega” gee moed en krag aan elkeen wat glo. Hy beheers die wêreldgebeure en elkeen wat in die geskiedenis optree. Teen Hom hou geen teenstander stand nie. Omdat Hy regeer, weet ons dat vir hulle vir wie God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is (Romeine 8:28).
Ook teëspoede moet daar wees, vir ons beswil. ’n Moedelose volk in ballingskap dink aan die verwoeste land en tempel. God self kom hulle vertroos met die woorde: Kyk, die nasies is soos ’n druppel aan die emmer en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Hy sit bo die kring van die aarde. Hy maak die (godlose) vorste tot niet. ’n Ewige God (die Alfa en die Omega) is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen krag het nie; die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie (Jesaja 40:15-31).
Wie van ons sal selfs in donker tye die Here, die Alfa en die Omega, nie prys nie? Uit U, o Vader, ons Skepper en deur U, o Seun, ons Verlosser en tot U, o Heilige Gees, ons Heiligmaker en Voleinder, is alle dinge, die geskiedenis, alles wat daarin gebeur, ook die lewe van ons, u kinders. Aan U wat aan die geskiedenis en aan elke menselewe sy sin en betekenis gee, die heerlikheid tot in ewigheid (Romeine 11:36; vergelyk Heidelbergse Kategismus, antwoord 24).