Hierdie artikel handel oor Deuteronomium 19 en die vrystede.

Bron: Kerk en Woord, 1997. 2 bladsye.

Deuteronomium 19:1-13 - 'n Veilige Lewe by God en ons Naaste

wêreldkaart

Deut 19:1-13 gaan oor die vrystede. Met hierdie sowel as die ander twee bepalings in Deut 19 het die Here dieselfde oogmerk gehad: Sy volk moes by Hom en by mekaar veiligheid ervaar, ja lewe in oorvloed! Iemand in Israel wat sy volksgenoot per ongeluk sou dood, moes nie voortdurend vrees dat hy onder die hande van die familie van die oorledene dalk sy lewe kon verloor nie.

God bestel lewe deur die Bloedwreker🔗

By opsetlike moord het God die familie die reg gegee om die slagoffer se dood op die moordenaar te wreek; dit was sogenaamde ‘bloedwraak’ (Num 35:16-21, Deut 19-11,12). Bloedwraak in Israel was egter iets anders as bloedwraak by primitiewe volke.

By swart stamme in Suid-Afrika word nie gerus totdat die slagoffer se dood gewreek of vergeld is nie. Word die skuldige nie gevind nie, dan moet die hele familie dit soms ontgeld en ’n kettingreaksie van bloedwraak en jarelange vetes tussen die betrokke families volg.

Die HERE het sy volk nie geleer om sulke wraaksug en vergelding te koester nie. Hy is Self die lewende God en Hy wil sy kinders, ja, alle sondaars graag laat lewe. Hy wil selfs die land waarin Hy, die God van die lewe, saam met sy volk woon, nie verontreinig sien nie, Num 35:34. Alles in daardie gemeenskap van die verbond en op die grondgebied van die verbond moes nie van die dood nie, maar van die lewe getuig.

Sy volk moes onder mekaar geregtigheid najaag, Deut 16:20. Nie koue, siellose en onbarmhartige wetstoepassing nie. Nee, geregtigheid beteken om lojaal te bly aan die verhoudings waarin God jou gestel het. In die Bybel gaan geregtigheid en liefde juis hand aan hand. Die drie spesiale ampte, die koning, die priester en die profeet in Israel was die organe waardeur die HERE hierdie geregtigheid onder sy volk wou bedien.

So was die bloedwreker ook nie bedoel as ’n onpersoonlike, genadelose laksman wat koelbloedig die moordenaar moes uitwis nie, maar as 'n man wat binne die gemeenskap van die heiliges geregtigheid moes bestel. Hy was die ‘Goêl’ (Hebr), die Loskoper wat sy familie wat hulle grond deur skuld verloor het, van hulle skuldeiser moes loskoop, maar so ook die familielid wat gedood is, se lewensreg moes loskoop. Want in sy wet het God gewaak oor hierdie lewensreg. Hy is die Persoonlike, lewende God, vir wie die lewe van elkeen van sy kinders kosbaar is. Die bloedwreker was die instrument in die hand van die HERE om die land te bevry van mense wat onder God se volk met haat en nyd ander se lewe in dood wou omkeer. Deur dié instelling laat die HERE Homself ken as die God wat die lewe liefhet en wat die liefde vir die lewe ook in sy volk se hart wil laat woon.

vuis🔗

God bestel lewe deur die vrystede🔗

Maar juis omdat die HERE waak oor die lewe van sy kinders, het Hy ook die bepaling van die vrystede ingestel. Hy is nie die genadelose God wat sê: “Almal wat doodgeslaan het, moet onvoorwaardelik sterwe!”, nie. Nee, die HERE hou in sy wet ook rekening met die agtergronde waar­onder ’n doodslag plaasgevind het. Dood deur ’n fabrieksongeluk of ’n motorbotsing of ’n byl waarvan die yster onverhoeds by die kappery van die steel afvlieg en jou buurman tref, is iets anders as moord met voorbedagte rade. Dit is iets ‘wat God jou hand laat ontmoet het’ (Eks 21:13), iets buite jou beheer. En almal vir wie dit oorgekom het, weet dat dit jou net nie los nie. Jy word agtervolg deur die gedagte: O, hoe kan ek dit herstel? Kyk vir sulke doodslag het die HERE die asielstede of vrystede ingestel. In die land Kanaän het die HERE ook as die God van die lewe die moontlikheid gegee dat die onskuldige doodslaner die bloedwraak kon ontkom en ongestraf kon voortlewe.

Nietemin is onopsetlike doodslag sonde. Daar is ’n lewe geneem. En die daad roep om versoening. Daarom sal u sien, waar in Eks 21:13 en 14 en Num 35 oor die vrystede gepraat word, is dit Levitiese stede, stede wat in verband staan met die altaar en die heiligdom en die hoëpriester. Die HERE het al die vrystede gegee om vanweë die versoening by die heiligdom sy verbondseën na sy volk te laat uitstroom. Ja, die HERE wou sy volk laat lewe … En die vrystede (9) was sodat die lewe, vanweë die versoening, oor die dood wat nie bedoel was nie, kon seëvier. Daarom moes die afstand en pad na die vrystad so wees dat die vlugtende gou en maklik daar kon kom en by die oudstes daar ’n regverdige verhoor kon kry.

As die gereg in ons land maar volgens hierdie bevrydende wet van die HERE gewerk het, beide in die tyd van die vorige regering, maar ook onder die regering vandag! Hoeveel lyding was en is nie omdat straf van koelbloedige moordenaars nie meer in ewewig is met hulle misdaad nie. Gewetenlose moordenaars word dikwels ontoerekeningsvatbaar verklaar. Eensydig word rekening gehou met die sogenaamde regte van die misdadiger, terwyl die regte van die vermoorde dikwels nêrens op die horison te sien is nie. Gelukkig kyk regters darem na die omstandighede en word in die regstelsel ’n duidelike onderskeid gemaak tussen manslag en moord.

gereg

Maar vir die kerk is dit onverskoonbaar as die geregtigheid van die Bybel nie in die kerk betrag word nie. As broeders maar by mekaar veilig is omdat ons die God van die lewe liefhet en sy liefde vir die lewe deel!

Vanuit die versoening deur ons Here Jesus, waardeur God die lewe tot oorlopens toe vir sy volk moontlik gemaak het, moet onder sy volgelinge die lewe tog ook die dood verswelg! Maar om dieselfde rede moet dié wat hulle naaste willens en wetens die lewe moeilik maak en ontneem, ook gestraf word met strawwe wat met hulle misdade ooreenstem.