Bron: Kerk en Woord, 1997. 2 bladsye.

Deuteronomium 18:9-22 - Eer die Profeet

waarsêer🔗

Waarsêery Wek Nuuskierigheid🔗

’n Toegewyde Christen steur hom nie aan waarsêery, raadpleeg van dooies, goëlery en al die dinge wat Deut 18:10 en 11 noem nie.

In die Ou Ooste het dit egter ’n geweldige rol gespeel. Daniël teken die droomuitlêers, towenaars, voorspellers of sterrekykers van die konings van Babel as vakkundige mense met amptelike aanstellings, hoog in aansien. Die ‘nasies’, staan daar, het by sulke mense gaan lig opsteek oor wat daar in die toekoms sou gebeur. Moses sê vir sy volk: “...maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie.” Hy noem dit in vers 9: “die gruwels van daardie nasies”. Waarsêery en spiritisme het Hy op dieselfde vlak beskou as die afgodery en tempelprostitusie van Kanaän en Hy het dit vervloek en met die banvloek gestraf.

Israel mag die HERE met geen ander gode deel nie. Hulle hele hart moes aan die HERE verpand gewees het. As jy na ’n waarsêer gaan om vir jou jou toekoms te voorspel, dan is die HERE en sy beloftes nie meer die enigste vaste punt in jou lewe nie. Dan het jy ander dinge in sy plek of naas Hom gestel waarop jy vertrou. Dan het jy jou vertroue in die HERE se beheer oor jou lewe prysgegee. Dit wat die kern van die verbond is het jy dan losgelaat. In waarsêery skuil die gedagte dat ons uitgelewer is aan ’n noodlot. Jy moet jou nou maar berus in wat jou gaan tref.

Hierdie gedagte misken die verbond van die HERE en sy warme geborgenheid: ’n Vader wat hom ontferm oor sy kinders en by wie jy veilig is. Materialisme en verwêreldliking verdring die ware geloof. Mense het polities en ekonomies hulle sekerhede sien wegval. Angs en onsekerheid laat mense by dinge soos waarsêery, spiritisme of raadpleging van dooies na sekerheid soek vir die toekoms. Voor ’n belangrike besluit, moet jy eers weet ‘wat die sterre voorspel’, asof die stand van die sterre ’n geheimsinnige invloed op ons lewe sou hê. Jongmense wil deur dwelmmiddels met ’n ander wêreld, die bo-natuurlike, in aanraking kom. Soms is dit ook die rede vir drankmisbruik.

Die enigste heilsame middel teen onsekerheid is ware profesie.

Profesie Vorm Mondige Christene🔗

Die HERE het sy volk se lewe in die verbond op ’n ander leer geskoei as op die okkulte. Dit was nie nodig om die geeste van afgestorwenes te vra nie. Ook nie dat voortekenlesers of waarsêers geraadpleeg word om te wete te kom wat met jou op jou lewenspad vorentoe sal gebeur nie.

Nee, die HERE het hulle die pragtige belofte van ’n profeet gegee: “’n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is sal die HERE jou God vir jou verwek; na hom moet julle luister” (vers 15) en “Ek sal my woorde in sy mond lê, en hy sal aan hulle sê alles wat Ek hom beveel”. (vers 18)

Moses

Met daardie belofte het die HERE tog sy volk in hulle eie tyd vertroos en rigting gegee. Daarom moet ons dit nie somaar direk op Christus toepas nie. Nee, die HERE het vir sy volk gesorg: Daar was altyd weer ’n profeet. En so sal die HERE steeds vir Israel die pad aanwys wat hulle moet gaan.

“Die verborge dinge is vir die HERE onse God maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.” (Deut 29:29) Waarsêery probeer eintlik die sluier lig van dinge wat God alleen vir Homself reserveer. Hulle is bang om dit aan God oor te laat. Hulle glo dat jy die gode nie kan vertrou nie. Jy kan nooit weet watter streek hulle môre weer met jou kan uithaal nie. Pateties as mens so in die ban van vrees en bygeloof aan gode en demone lewe! Dan fokus jy nie op wat God jou uitdruklik beveel nie, maar op dit wat jou kan tref.

Profesie wil nie ons nuuskierigheid oor wat op ons lewenspad wag, bevredig nie, maar ons leer hoe om NOU, hier, in 1997 te lewe. Dit fokus op die taak wat die HERE sy volk in hierdie wêreld gee, die taak om hier Christene te wees, profete en priesters en konings. Met ander woorde die profeet wou die volk TOERUS. Hulle moes ’n mondige volk wees, ’n volk wat hulle God in alle verantwoordelikheid dien.

Daarom sal u merk dat die profeet altyd weer teruggeroep word na die Torah, spesifiek na die Tien Woorde van die verbond. Sekerlik, die profeet sou ook soms die sluier lig oor wat daar in die toekoms sal gebeur. Dink maar aan die profesie van seën en oor byvoorbeeld die ballingskap. Maar ook as dit oor die toekoms gegaan het, is die volk weer gewys op wat hulle verantwoordelikheid is.

Hier word van ’n profeet gepraat. Maar uit verse 20 tot 22 is dit duidelik dat Moses nie hier die koms van net één profeet aangekondig het nie. Want daar word die vraag beantwoord hoe die volk die ware van die valse profete sal kan uitken. Moses stel Israel se toekomstige geskiedenis voor as ’n reeks van meer tydvakke. En vir elke tyd sal die HERE telkens so ’n profeet voorsien. Die feit dat Moses van “’n profeet” praat, wys waarskynlik op die EENHEID van die profesie. Die HERE gebruik al sy profete om die een heilsboodskap aan die volk deur te gee.

doringkroon

En dan is Christus die laaste en volle vervulling van hierdie woorde van Moses. Hy is “...ons hoogste Profeet en Leraar wat ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle openbaar." (Heidelbergse Kategismus, Sondag 12) Ons het die moderne vorme van waarsêery en spiritisme en soveel valse profesie nie nodig nie. Ons het die woord van die Seun. In die kleed van die Skrifte kom Hy na ons. Tydens die preek en tydens die omgang met die Bybel maak Hy ons wys. Al wat Hy van ons vra, is: Luister na my. Glo in my. Gehoorsaam wat Ek julle beveel. Daarom, laat ons getrou kerk toe gaan en mondige Christene word wat vir die lewe opgewasse is. Laat ons hoor wat Hy deur sy Gees vir die gemeente sê.