Christus se Neerdaling na die Hel
Christus se Neerdaling na die Hel
ʼn Ander stap in die vernedering van Christus is sy neerdaling na die hel. Die vroeë kerk het in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely dat Christus “neergedaal het na die hel”. Hierdie belydenis was altyd ʼn geskilpunt, veral omdat “neergedaal het na die hel” op die belydenis dat Hy “gekruisig, gestorwe en begrawe is”, volg.
Baie het geleer dat Christus na sy dood en voor sy opstanding werklik na die plek wat hel genoem word, gegaan het. As bewys verwys hulle na 1 Petrus 3:18-20. Hierdie verse praat egter van iets wat “deur die Gees” en ná die opstanding gebeur het. Buitendien weerspreek die idee dat Christus na sy dood in die hel was sy eie woorde aan die sterwende rower: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43).
Ander leer dat die neerdaling na die hel, net kan verwys na die tyd wat Christus in die graf was. Hierdie verduideliking stem die meeste ooreen met Psalm 16:10, die enigste Skrifgedeelte waarin van Christus as synde in die hel gepraat word: “U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie”. Die tweede deel van die vers, wat oor verderwing praat en vers 9, wat na “vlees” verwys, sou dan aandui dat Psalm 16:10 oor die begrafnis van Christus praat.
Die Westminsterse Groter Kategismus sê: “die vernedering van Christus het bestaan in sy begrafnis en voortgeduur in die doodsstaat onder die mag van die dood tot die derde dag; wat in die woorde neergedaal het na die hel uitgedruk word”1
Die woord hel in Handelinge 2:31, waar Psalm 16:10 aangehaal word, verwys egter in alle ander gevalle waarin die woord in die Nuwe Testament gebruik word, na die plek van ewige straf. Daar moet dus ʼn betekenis wees waarvolgens Christus nie net in die graf was nie, maar in die hel, al sou dit nie noodwendig in die plek self wees nie.
Wanneer en hoe het dit plaasgevind? Ons glo dat Christus in die volgende sin in die hel was: Hy het gedurende sy lyding aan die kruis, in ons plek, dit wat deur die Heidelbergse Kategismus “helse angs en pyn”2 genoem word, gely.
Hy het dit wel deeglik in sy woorde aan die kruis uitgedruk: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” (Mark. 15:34). Om weg van die teenwoordigheid van God te wees en deur Hom verlaat te word, is waaroor die hel gaan. Dit is wat Christus gely het.
Hetsy Christus se neerdaling na die hel ná sy begrafnis of ná wat hy aan die kruis verduur het, verwys, herinner dit ons aan sy onuitspreeklike lyding, en die feit dat Hy, deur sy lyde en sterwe, ons siele van die diepste hel gered het. Deur hierdie lyding het Hy ook vir sy hele volk ʼn plek in die ewige heerlikheid in die teenwoordigheid van God en die heilige engele verwerf. Daar sal Hy, en ons saam met Hom, die ewige heerlikheid en saligheid geniet.