Belydenisgeskrifte Ons Kosbare Goud
Belydenisgeskrifte Ons Kosbare Goud
⤒🔗
Die Gesonde Leer←⤒🔗
Net soos 'n mens liggaamlik siek of gesond kan wees, kan jy ook geestelik siek of gesond wees. Enigiemand wat die kennis of die handhawing van die kerklike belydenis verwaarloos, loop gevaar om geestelik ernstig siek te word. In die Bybel word die belydenis aangedui as "die gesonde leer" 1 Timoteus 1:10, 11; 2 Timoteus 4:3; Titus 12:19). En dan word dieselfde woord gebruik as die woord wat gebruik word vir iemand wat liggaamlik gesond of sterk is. Wie vashou aan die belydenis is nugter, gebalanseerd, suiwer en gesond in geestelike sin. So was dit met die Gereformeerde kerkvolk in die geskiedenis. Totius verklaar dat die belydenis die grond is waarin ons groei. Die "Doppers" was mense wat gedrenk en geanker was in die Gereformeerde leer. Dit het aan hulle "gereformeerde voelhorings" gegee om die dwalinge te bemerk en vas te hou aan die waarheid van die Woord. Dit bly een van die opmerklike feite van die kerkgeskiedenis dat met die stigting van die Gereformeerde Kerk in 1859, behalwe vir ds. Postma wat vanaf Nederland gekom het, geen enkele predikant in verset gekom het teen die dwaalleer in die kerk nie. Dit was die gewone kerkvolk wat bereid was om alles op te offer vir 'n kerk wat in die leer, diens en tug sou terugkeer na dit wat veral op die Dordtse Sinode aanvaar en vasgestel is.
Belydenis in 'n Krisis←⤒🔗
Die belydenisskrifte ontvang steeds besondere klem in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Katkisante ontvang deeglike onderwys uit die Kategismus en ander belydenisskrifte. Die gereelde Kategismusprediking gaan deur.
Dit is egter ook 'n tragiese feit dat die belydenis al hoe meer in die krisis kom. Ken en waardeer ons nog die skat van ons belydenis? Waarom bemerk ons dan dikwels by katkisante 'n weerstand wanneer 'n deeglike kennis van die belydenisskrifte verwag word? Waarom word die eredienste waar die kategismus in die prediking aan die orde gestel word steeds swakker bygewoon? Hoeveel lidmate bestudeer nog uit hulle eie die belydenisskrifte?
Daar is in ons tyd ook al hoe meer mense wat meen die belydenis het verouderd geraak. Dit is tyd vir 'n nuwe belydenis. Ander meen die belydenis is nie meer so belangrik nie. Die beklemtoning van die belydenis werk volgens hulle verstarring en geestelike doodsheid in die hand. Die Gees moet vry wees om te waai waar Hy wil. Ons moet die klem nie meer so sterk op die leer laat val nie maar op die lewe.
Aktualiteit←⤒🔗
Is dit so dat die belydenis verouderd is? Het dit tyd geword vir 'n nuwe belydenis? 'n Opname van die vernaamste dwalinge van ons tyd bevestig juis die teendeel. Die belydenis is vandag meer as ooit aktueel. Hoeveel predikante kan getuig dat vrae en probleme waarmee lidmate worstel juis vanuit die belydenisskrifte helder en duidelik beantwoord kan word. Daar word vandag geworstel met sake soos die gesag van God se Woord, die stryd rondom die kinderdoop, die vrye wil van die mens (in die lig van die groei van die Charismatiese beweging), die leer van die Drie-eenheid (o.a. teenoor die toenemende bedreiging van die Islamgodsdiens) en die verhouding tussen kerk en staat (in die lig van ons huidige politieke situasie). Op al hierdie vraagstukke gee die belydenisskrifte steeds duidelik die leer van die Skrif. Ons moet alleen maar daarin delf om die "kosbare goud" van die Gereformeerde leer opnuut te ontgin.
'n Nuwe Belydenis?←⤒🔗
Daarom hoef ons ons oor 'n nuwe belydenis nie so moeg te maak nie. Indien die kerk met dwalinge te doen kry waarop nog nooit 'n antwoord gegee is nie, sal die Heilige Gees die kerk lei in die formulering van die waarheid van die Woord. 'n Belydenis word gebore, nie gemaak nie. En in 'n tyd van geestelike vervlakking en leervryheid kan menslik gesproke moeilik verwag word dat 'n nuwe belydenis die lig sal sien.
Leer en Lewe←⤒🔗
Is dit verder so dat die leer en die lewe teenoor mekaar gestel kan word? Is dit so dat iemand wat nie erns maak met die belydenis nie, tog vroom en onberispelik kan lewe? In die Bybel word die leer en die lewe juis ten nouste aan mekaar verbind, en op geen manier van mekaar losgemaak nie. Paulus handel in 2 Timoteus 3 oor die laaste dae waarin daar swaar tye sal kom vanweë die toenemende afvalligheid en wetteloosheid. Hy gee as rede juis die feit dat die mense die "gesonde leer" nie meer sal verdra nie (2 Timoteus 4:3, 4). En wanneer Titus die opdrag ontvang om te "verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer" (Titus 2:1) is dit nie alleen met die oog op die bestryding van die dwaling nie (Titus 1:10-16), maar juis ook met die oog op die pastorale bediening van die gemeente (Titus 2:2-10). Die valse dogmatiek bring ook 'n valse etiek. Die "gesonde leer" is onmisbaar vir 'n "gesonde lewe".
Belydenis en Bybel←⤒🔗
Ons Gereformeerdes word dikwels daarvan beskuldig dat ons die belydenis beklemtoon ten koste vas die Bybel. Dit is inderdaad 'n vals beskuldiging. Wie die belydenis en die Bybel teenoor mekaar stel, is besig met 'n valse probleemstelling. Die woord belydenis beteken in die oorspronklike taal letterlik: om dieselfde te sê. Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie (1 Timoteus 1:11). Die belydenisskrifte is niks ander nie as die suiwere vertolking van die Skrif. Diegene wat die belydenis nog altyd ten alle koste wou handhaaf, is dan juis ook diegene wat alleen maar uit die Skrif wou leef. In dieselfde gedeelte waar Paulus handel oor die onfeilbare Goddelike inspirasie van die Skrif (2 Timoteus 3:16) beklemtoon hy juis ook die handhawing van die "gesonde leer" (2 Timoteus 4:2, 3). Die belydenis is ons leidsman en ons toetssteen om te verseker dat ons bly by die waarheid van God se Woord.
Plek van die Belydenisskrifte in Ons Lewe←⤒🔗
Dit is een van die grootste gevare wat ons bedreig dat die kennis en die handhawing van die belydenis by ons verflou. Ons kan die Here nie genoeg dank vir die skat van ons Gereformeerde belydenis nie. Die handhawing van die suiwere leer is die diepste geheim vir 'n gesonde kerklike lewe. Calvyn noem die suiwerheid van die leer "die siel van die kerk". Vir hierdie belydenisskrifte was mense bereid om te sterf. Met die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis, Guido de Bres, het dit inderdaad gebeur. Die belydenisskrifte is geskryf met die bloed van martelare. Dit dra die reuk van brandstapels. Dit het die toets van die eeue deurstaan.
In 'n Suid-Afrika, waar die afvalligheid en leervryheid elke dag toeneem, is dit ons enigste antwoord en vaste anker: die waarheid van God se ewige onfeilbare Woord en dit wat die skat van ons Gereformeerde belydenis ons leer.