Bron: Kompas. 3 bladsye.

Belemmer dogmas ons persoonlike geloofsbelewing?

Dogmas is die amptelike leer van die kerk soos dit in die kerklike belydenisgeskrifte vasgelê is. Dogmas het die klank van vastheid: so is dit en nie anders nie. Ons noem dit die algemene, ongetwyfelde, Christelike geloof. Maar belemmer vaste geloofsreëls nie die spontane belewing van die geloof nie? 'n Mens glo immers met jou hart (Rom. 10:9)? Is die dogma nie te onpersoonlik nie?

Dogmas stam meestal uit die verre verlede. Hulle spreek die taal van die verlede en nie dié van ons eie tyd nie. Ook het ons by die amptelike leeruitsprake van die kerk met menslike werk te doen. Dit beteken dat dit begrens en beperk is. Dit is dus verstaanbaar dat gevra word: Is dit nie beter om by die Bybel alleen te bly nie, die Bybel as die onfeilbare Woord van God?

In 'n klein geskrif onder die titel "Dogma's - wat doe je ermee?" behandel Prof J Kamphuis hierdie vrae. Hy wys op vyf karakteristieke van die kerklik vasgestelde leer:

  1. Die dogma funksioneer as waarskuwingsbord in die verkeer van die geloof.
  2.  Die dogma is die noteskrif by die musiek van die geloof.
  3. In die dog­ma hoor ons die lied van die gemeente.
  4. Die dogma is die antwoord van die geloof.
  5.  Die dog­ma is die amen van die kerk.

Waarskuwingsbord🔗

'n Waarskuwingsbord sê vir ons: pasop, daar is 'n gevaar wat dreig!  Breek dit nou juis nie die spontaneïteit van die geloof stukkend nie? Nee. Dit wat goed is in die warmte en spontaneïteit van die geloof, word juis ook deur die diens van die dogma behoed. Ons moenie vergeet dat ons, ook as gelowiges, 'n dwaalsieke hart het nie. Ons geloofsbelewing word vanuit ons eie dwaalsieke hart bedreig. Dit moet ons nederig en beskeie hou. Die vyand van Ef. 6:12 vind nog maklik ingang in ons harte. Dan gaan ons volgens ons eie gedagtes leef, in plaas daarvan dat dit vanuit die Woord van God doen. Dit bring ons onverbiddelik van die spoor van die geloof af (vgl. Fil. 3:16).

In die loop van haar lang geskiedenis het die kerk allerlei vorme van dwaling raakgeloop en vanuit die Woord afgewys. Dit het daaroor gegaan om die geloof en die geloofsbelewing suiwer te hou. Die geloofsbelewing sal slegs suiwer wees as die geloofsinhoud suiwer bly. Juis as die ge­loof kragtig is, kan ook die dwa­ling kragtig toeslaan (2 Thess. 1:3). Paulus werp die gemeente dan nie terug op haar geloof of op haar geloofsbelewing nie, maar op die oorgelewerde geloofsinhoud (2 Thess. 2:15). Daarmee wys hy die doodloop-paaie aan en maak hy hulle bewus van die naderende gevaar. So bind ook Judas sy lesers aan "die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is" (Judas 1:3). Dit doen hy vanweë die gevaar van valse leraars wat die genade van God as 'n vrybrief vir 'n losbandige lewe sien.

Dit bly vandag baie belangrik om jou betyds deur die leer wat op betroubare wyse oorgelewer is, te laat waarsku. Juis as die geloofslewe kragtig bloei, moet ons dankbaar, maar ook op ons hoede wees. Satan hou ons juis dan dop. Hy loop soos 'n brullende leeu rond, op soek na prooi (1 Pet. 5:8). Dit beteken nie dat jy hom altyd maklik kan herken nie. Hy stel homself graag voor as "'n engel van die lig" (2 Kor. 11:14). Hoe dankbaar mag ons dan wees dat die kerk in die verlede bepaalde weë as dwaalweë leer ken het en daarby 'n waarsku­wingsbord geplaas het. Die lewende geloof verag dit nie, maar dank die Here daarvoor. Ons weet dat die Woord van God nie by ons begin het nie (1 Kor. 14:36). So is 'n mens tog ook dankbaar vir die waarskuwings wat jou ouers vir jou gegee het, tensy jy eiewys is en wil verongeluk?

Noteskrif🔗

Die noteskrif is nog nie die musiek nie. Tog stuur dit wel die musiek en sang. Dit gee rigting aan die musiek en bly daarin herkenbaar. Vanweë die lis van die dwaling moet die belydenis dikwels die waarheid baie noukeurig formuleer. Ook in die nougesetheid kan ons die liefde vir God se gemeente hoor. Tog is die weloorwoë formulering nie alles in die lewe van die geloof nie. Die vreugde oor die heil soek meer weë om die lof van God te uit, as slegs die taal van dogma en konfessie. Daar is die persoonlike en gemeenskaplike gebed. Daar is die lied. Die geloof dring ons ook tot dade. So is daar 'n groot verskeidenheid in die uiting en bele­wing van die geloof. God se volk is geen grys massa nie, maar liggaam van Christus. Alle lidmate het hul eie plek en funksie. Tog is dit een liggaam, een Gees en een geloof (Ef. 4:4,5). Soos die noteskrif stuur en rigting aan die musiek gee, so gee die kerkli­ke leer aan die geloofsbelewing die nodige struktuur. Dit word op so 'n wyse gedoen dat die struk­tuur in die persoonlike geloofsuitinge in haar eie skoonheid herkenbaar bly.

Die koorsang van die gemeente🔗

Die geloof en die belewing van die geloof bly 'n persoonlike saak. Ons het persoonlik omgang met God of ons het geen omgang met Hom nie. God gaan persoon­lik en vertroulike met ons om (Ps. 25:14). Dink ook aan Christus se persoonlike aandag vir Petrus (Luk. 22:60; vgl. Luk. 15:5,6). Die Apostoliese Geloofsbelydenis spreek ook juis van "Ek glo".

Een van die diepste geheime van die Christelike geloof is egter dat die 'ek' wat glo, een is met die 'ons' wat glo. Die Skrif benadruk die eenheid van die gemeente. In Christus word die geheim van ons eenheid bekend gemaak. Hy is die wynstok, ons is die lote (Joh. 15). 'n Loot leef nie op homself nie en slegs 'n paar lote vorm nog geen wynstok nie.

Tog is die eenheid geen gryse eenvormigheid nie. Die liggaam het allerlei lidmate. So het ons in die eenheid ons eie plek. So sing ons in die koor met ons eie stem. Maar ons sing die een lied, dit is die een belydenis. Ook met betrekking tot die inhoud en kennis van die geloof is daar tussen God se kinders onderskeid. Maar by alle onderskeid vind ons mekaar in wat ons saam uitspreek as die een geloof. Is die dogma 'n belemmering vir die geloofsbelewing? 'n Persoon wat dit geniet om te sing, gaan tog koor toe en wil tog in die koor veelstemmig die een lied sing? Die verskillende stemme klink saam as een stem: die stem van Christus se bruid.

Die antwoord van die geloof🔗

Die dogma is ondergeskik aan die Woord van God. Die belydenis mag dus nie 'n selfstandige plek naas en teenoor God se Woord inneem nie. Dit bly onder­geskik en altyd toetsbaar aan die Woord van God.

Die Here kom sprekend my lewe binne. Dit het Hy reeds by my doop gedoen. God het gespreek. Daarom wag Hy op 'n antwoord. Hy verwag dit. Hy eis dit. Die ant­woord kan daar ook wees. Sy woord gee ons die vrymoedigheid om te antwoord; om ons persoonlike geloofsantwoord te gee.

Die persoonlike geloofsbelydenis is egter ingebed in die belydenis van die kerk van alle eeue. Sien die derde vraag van die Formulier vir die aflegging van belyde­nis van geloof. God het tot ons gekom binne die gemeenskap van die Verbond. Vanaf die paradys tot nou toe. God het sy liefdeswoord tot sy volk van alle tye gespreek. So verstaan ek dat die bruid van Christus, die kerk van alle tye, in een belydenis wat die eeue verduur, die antwoord van haar wederliefde gee.

Ons het 'n geskrewe Bybel en as antwoord daarop 'n geskrewe belydenis. As Gereformeerdes het ons die drie ekumeniese belydenisskrifte en die drie formuliere van eenheid. Wat is die eie aard van die belydenisskrifte? Dit is die liefdesantwoord van die bruid aan haar Bruidegom. Hy het aksie geneem. Sy gee haarself in haar reaksie. Dis die wonder van liefde en wederliefde wat die eeue omspan.

Woord en antwoord behoort by mekaar. Dit wil sê: jy behoort die belydenis met 'n oop Bybel te lees. As jy die belydenis los van die Woord lees, dan doen jy die belydenis onreg aan. Dit is ewe dwaas as wanneer ons die ja-woord van 'n bruid gaan analiseer los van die soekende en kiesende liefde van die bruide­gom. Daarmee pleeg jy moord op die jawoord. Die belydenis kan slegs goed op haar eie plek, nl. in die Verbondsomgang met die lewende God, gelees word. Dan ontdek jy hoe langer hoe meer hoe springlewendig die antwoord is. Dit is immers die liefdesantwoord van die kerk op die liefdeswoord van die lewende God.

Die amen van die kerk🔗

Die antwoord van die kerk is haar amen op die beloftes van God. Die Kategismus bind die geloof onvoorwaardelik aan die belofte van die evangelie. Die Heilige Gees werk die geloof deur die evangelie in ons harte. Geloofsbelewing moet dus nie verwar word met

gevoelens en gevoelsuitinge nie. Ware geloofsbelewing is die uiting van dit wat die Gees in ons gewerk het. Maar Hy werk deur midde! van die evangelie. Daar­om moet die geloof ook volstrek op die evangelie gerig wees. Die Kategismus sê dit so: 'n Christen moet "alles wat in die evangelie aan ons beloof word" glo.

Ons kan die geloof tipeer as die amen op die belofte. Paulus vertel aan ons hoe dit in die kerk van die eerste eeu toegegaan het: in die erediens het die gemeente die prediking van die evangelie beantwoord met haar amen. Die beloftes wat in Christus se bloed bevestig is, is gepredik. Toe het die amen gekom: "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons" (2 Kor. 1:20). Amen, dit is waar en seker. In ons amen val ons nie terug op die vastheid van onsself of van ons geloof nie, maar op die vast­heid van God se genadige belof­tes. Ons sê amen saam met Adam, Abraham, Thomas, Augustinus, Calvyn, ja, met die gelowiges van alle plekke en tye. Wat maak ons dan met die dogmas? As dit menslike uitvindings is, sê ons hartgrondig 'nee' daarteen. Maar as dit uit die betroubare Woord van God geneem is, dan sê ons met vreugde 'amen' daarop. Dit beteken geen verhindering vir jou persoonlike geloofsbelewing nie. In die gemeenskap met die Here is ons mos geen enkelinge nie. Ons is gemeenskaplik op pad na die vervulling van God se beloftes "totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus" (Ef.4:13).