Bekering en Doop
Bekering en Doop
Nog ʼn argument wat deur Baptiste aangevoer word vir die sogenaamde ‘geloofsdoop’ is dat nie net geloof nie, maar ook bekering aan die doop moet voorafgaan. Ons het reeds tot ʼn mate op die argument geantwoord, maar daar is ʼn paar verdere aspekte waarop gewys moet word.
Laat ons eerstens kyk na Markus 1:4 wat van die doop van bekering praat: “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig”. Baie wil hieruit aflei dat bekering die doop moet voorafgaan.
Dit is ewenwel alles behalwe voor die hand liggend. Die woord van kan beteken “die doop wat sy oorsprong in die bekering het” en kan daarop dui dat die doop op bekering behoort te volg. Die woorde van bekering kan ook beteken dat doop en bekering by mekaar hoort, sonder om enigiets oor die volgorde waarin dit moet plaasvind, te sê.
Ons glo dat die woorde niks oor die volgorde waarin die twee dinge gebeur, sê nie, maar eerder beteken dat bekering en doop altyd saam hoort — dat doop bekering eis (hetsy voor die doop of daarna, of albei).
As daar enige volgorde tussen doop en bekering is, leer die Skrif dat bekering op die doop volg. Die paralelle Skrifgedeelte, Matthéüs 3:11, wys hierop. Ons lees daar van ʼn doop tot bekering, waar die woord tot die begrip van “beweging na iets toe” weergee die gedagte synde dat die doop bedien word met die oog op daaropvolgende bekering, of selfs as ʼn vorm van oproep tot bekering.
Die gedagte in Matthéüs 3:11 dat die doop vooruit kyk, en nie terugkyk na bekering nie, dui op ʼn belangrike verskil tussen die Baptistiese en Gereformeerde beskouings van die doop. Die Baptistiese beskouing is dat die doop ʼn teken of merk is van wat ons deur bekering en geloof gedoen het. Die Gereformeerde stanpunt is dat die doop die teken of merk is van wat God gedoen het deur ons wedergeboorte. Dit is nie ʼn teken van ons reaksie op genade nie, maar van die genadewerk self.
Die handeling van die doop met water is uiteraard ʼn voorstelling van die afwassing van sondes deur die bloed van Jesus. Dit is wat God doen, en Hy doen dit eerste. Hy doen dit wanneer ons nog nie in staat is om op sy genadewerk te reageer nie. Bekering volg daarop.
As ons dit verstaan, sal kinderdoop nie as iets vreemds gesien word nie, maar as volkome van pas. Per slot van rekening is daar nie een van ons, gered as volwassene of as kind, wat nie die koninkryk van die hemel soos ʼn kindjie ingaan nie — deur ʼn genadewerk wat alle aktiwiteit en reaksie van sy kant voorafgaan. Dit is daardie genadewerk wat deur kinderdoop beteken en herdenk word.