Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Beheks ...

hekse

‘Die moderne heks wedywer met vooroordele.’ So lui die begin van ’n onlangse artikel in ’n bekende Nederlandse koerant. In die onderhoud kom ’n jong vrou aan die woord wat soos sy self sê ’n toekomstige (nog in opleiding) heks is. Sy wil die slegte beeld wat hekse in die outyd gekry het, toe hulle as ketters verbrand is, vir eens en vir altyd laat verdwyn, want sê sy “hekse is gewone mense en daar is niks duiwels in wat hulle doen nie. Die duiwel is immers ’n uitvinding van die christendom.”

Volgens hierdie artikel speel hekse ’n belangrike rol in die maatskappy omdat hulle kennis van sake het wat nie vir elkeen begryplik is nie en in staat is om bepaalde prosesse te beïnvloed.

Dat ’n groot koerant ’n inligtingsartikel oor heksery publiseer sonder enige vrae of kanttekeninge, sê baie oor die tyd waarin ons lewe. Die God van die Bybel het vir baie mense geen betekenis meer nie en die Christelike erfgoed het nagenoeg uit ons midde verdwyn. Maar die religieuse gevoel en die soeke na spiritualiteit het gebly.

Die postmoderne mens heg baie waarde aan gevoel en ervaring; hy is ’n mens van ‘mix en match’: Hy ondersoek baie dinge en behou wat hyself as goed of aangenaam ervaar, hy vorm sy eie lewensbeskouing. Daarin kan elemente uit verskillende godsdienste wees, maar veral elemente uit daardie breë eklektiese (die beste uitgekies) terrein. Dit word “New Age denke” genoem. Daarby en soms daarmee vermeng herlewe heksery en wicca, sjamanisme en druïdisme.

Mense wat hulle met hierdie dinge besig hou, is nie vreemde, ingewyde enkelinge nie. Hulle is moderne, ontwikkelde en dikwels goed opgeleide mense. Hulle is wêreldleiers van formaat wat geestelike raadgewers (of ‘gidse’) aanstel wat hul wysheid in die okkulte wêreld soek. Hulle is die groot ondernemers wat by werkaansoekprosedures die horoskope van die aansoekers nagaan om te bepaal of die kandidaat geskik is vir die funksie. Dit is in die Weste, en veral in Brittanje, Duitsland en die VSA, waar duisende en duisende hekse aktief is. Hulle is moderne mense wat bome of rotse vereer, net soos hul heidense voorouers, lank gelede.

Hulle hou hulle onder meer besig met die beïnvloeding van prosesse (via wit en swart magie en rituele) en word geraadpleeg deur mense wat raad of aanwysings in hulle private lewe of werk soek. Hekse en sieners word bowendien ingeskakel deur mense wat op soek is na ’n kosbare verlore voorwerp of na ’n geliefde wat verdwyn het. Sjamane en Druïde is gesiene figure en word geraadpleeg vanweë hul toegang tot die esoteriese (verborge, geheime) wêreld. Die moderne mens het hulle blykbaar nodig om sy lewe en toekoms op allerlei maniere beheerbaar te maak.

Terug na vroeër🔗

Die geestelike toestand van die post-Christelike Europa kry steeds meer ooreenkomste met dié van die voor-christelike ou Europa. Dit het net ’n nuwe naam gekry: neopaganisme oftewel nuwe heidendom.

Neopaganisme ken vier stromings

  • Uit die ou heidendom is elemente uit religies van Kelte, Noormanne, Germane, Egiptenare en Sjamane oorgeneem.
  • Heksery en wicca met hulle rituele en magie.
  • Towenary in baie vorms.
  • Satanisme waarin die christelike geloof en sy tradisies vervals word (dit is ’n baie ekstreme kultus waarvan seksuele perversie en rituele moorde deel uitmaak).

satanisme

Die oorgrote deel van die neopaganiste hou hulle besig met die dinge wat genoem is onder heksery en towenary.

Ons Europese voorouers was heidene wat verskillende gode en godinne vereer het. Hulle het ’n animistiese wêreldbeskouing gehad. ’n Animis sien die aarde as ’n lewende wese. Hy gaan daarvan uit dat heuwels, rotse, bome, riviere, watervalle en bronne eie geeste besit. Daarom word hierdie elemente in die natuur geëer, net soos bepaalde plekke hierdie “kragte” besit: die gode is daar aanwesig. Deur meditasie, gebed, ritueel en seremonie kan mens toegang verkry tot die gode, tot die bo-natuurlike wêreld.

Die neopaganis of moderne heiden glo ook hierdie dinge. Ons sien dat steeds meer mense hul heil in die verborge kragte van die kosmos soek. Hulle is bewus van die natuursiklusse en probeer dit te volg deur byvoorbeeld op die stand van die maan te let. Hulle skryf kragte toe aan edelgesteentes, het belangstelling vir voorheen genoemde “heilige plekke” en sogenaamde leikliplyne of spirituele “kraglyne” wat deur die aarde loop. Sommige mense laat ’n wiggelroede bepaal of hulle huis op die “regte plek” staan. Kommunikasie met bome is in Nederland ’n fenomeen sedert prinses Irene daar­mee vorendag gekom het.

Leeggevee🔗

Europa is soos ’n huis wat leeg gevee is op soek na vastigheid. Moeder Aarde word deur neopaganiste vereer as die Godin-Moeder. Iemand het eenkeer gesê dat hulle die “Onse Moeder wat die aarde is” verkies bo die “Onse Vader wat in die hemel is”.

Die nuwe heidendom manifesteer homself in allerlei vorms en sal steeds toeneem namate die God van die Bybel vir baie ’n groot onbekende word en herinneringe aan ons christelike erfgoed vervaag.

Volgens Rob Matzken, outeur van ’n okkulte sakwoordeboek wat onlangs verskyn het, is die huidige maatskappy vol van die okkulte. Wat tot onlangs nog tot die terrein van die primitiewe kulture behoort het, word nou in die onderwys en gesondheidsorg, (kinder)boeke en jeugmusiek, in boukuns en sakebetrekkinge geïntegreer.

Volgens Jeff Foutain, ’n historikus en direkteur van Jeug met ’n Opdrag Europa, staan dié kontinent wat betref wêreldbeskouing op ’n unieke punt in die geskiedenis. Die geskiedenis in Europa het begin met die veelgodedom (politeïsme). Dit was ’n wêreld van animisme, offerstene en heilige plekke waar mens in kontak kon kom met die wêreld "aan die ander kant van die lewe”.

Die christendom, waarin een persoonlike God, die Skepper, sentraal staan, het ’n groot ommekeer in Europa gebring. Die Evangelie het rasendsnel versprei. Veral Keltiese boodskappers het daarin ’n belangrike rol gespeel. Meer as ’n duisend jaar later het die Verligting en die Rasionalisme die religieuse gevoel op ’n sylyn gestoot. Materialisme en Modernisme het in die plek daarvan gekom. Maar aan die einde van die 20e eeu is ook dit deur baie verwerp omdat dit nie meer bevredig nie.

Die unieke van die huidige tyd is dat al die opsies uitprobeer en afgewys is: soos politeïsme, teïsme en materialisme. In die laaste paar dekades het ons bowendien afgereken met fascisme, kommunisme, en verskillende ander -ismes. Europa is ’n huis wat leeg gevee is op soek na vastigheid. Waar moet Westerse mens nou sy heil soek?

Verlore saak?🔗

As ons om ons heen kyk, sien ons dat daar geen sprake is van ’n terugkeer na die geloof in God die Skepper nie. Dit wil nie sê dat die christendom ’n verlore saak is nie. God se koninkryk gaan deur, ook in Europa. Daar is ook baie tekens wat hoop gee en baie bid vir ’n opwekking. Maar oor die algemeen neig die Weste tans na die politeïsme in ’n moderne vorm, ’n nuwe animisme. Met opnuut ’n verering van die kosmos en die aarde, van son, maan en sterre en die magte en geeste in riviere, rotse, bome en diere.

aarde

Hierdie ontwikkeling is voorspel deur Leslie Newbigin, ’n bekende biskop in Indië. Hy het aangetoon dat die etniese, religieuse en taalkundige wortels van Europa oosters is. Die koms van die Evangelie het in Europa ’n koerswysiging teweeg gebring. As Europa “die Boek” verwerp, sê Newbigin, sal daardie vasteland terugkeer na sy oosterse wortels.

Foutain sê: “Die terugkeer na oosterse wortels kan ’n mens in allerlei vorms sien. Ek sien dit in films soos Star Trek, Stargate, the Matrix en dergelike, waarin sprake is van ’n oorgaan na ’n ander dimensie of wêreld. Die film Green Mile, wat gebaseer is op ’n verhaal van Stephen King, het duidelik bo-natuurlike dimensies en ken parallelle wêrelde.”

Ook in ander boeke, vir alle leeftydgroepe, is voorbeelde te vinde: heksery en okkultisme word voorgestel as normaal, aantreklik selfs. Steeds meer dik nuwe romanseries oor oervolke word gretig gelees; die natuurgodsdiens van die “eerste mense” word daarin uitgebreid beskryf. Die verandering van mens in dier, ook ’n tema wat in baie films en boeke voorkom, is ’n sjamanistiese verskynsel.

Hierdie voorbeelde is anders as die fantasieë van christelike outeurs soos C.S. Lewis of J.J.R. Tolkien – post-Christelike skeppings teen die agtergrond van ’n heidens, okkulte wêreldbeeld.

Neopaganiste is mense wat elemente uit die ou heidendom op ’n moderne manier invul.

Hierdie denkbeelde val op vrugbare grond en sluit aan by ander gedagtes en gevoelens in ons tyd. Vir byvoorbeeld mense wat milieubewus is, is die nuwe heidendom aantreklik vanweë die geloof in die aarde as ’n lewende planeet, ’n wese met ’n siel.

Nuwe belangstelling🔗

Daar is in ons eeu ’n nuuskierige belangstelling vir die natuurlike, die magiese, die verre en primitiewe. Daar is ’n toenemende belangstelling vir alles wat met milieu en die natuur te doen het (soos kruie, vegetarisme, makrobiotiek, spesiale toere en ekskursies). Daar is ’n duidelike drang na avontuur en die ontdekking van ander wêrelddele (ingesluit besoeke aan grafheuwels of heilige plekke soos Stonehenge in Engeland, piramides, die Incakultuur, die verre Ooste).

Daar is ook nuuskierige belangstelling vir die magiese, vir rituele, vir die okkulte (dink aan die paranormale tentoonstellings en die Harry Potter-kultus), en vir die liggaamlike, seks en geweld. Die individualistiese mens soek na die goddelike in sy alter ego (sy eie waarheid, vryheid en lewenskader).

Daarby is daar ’n algehele betowering (of is dit angs?) vir die toekoms, vir baie ’n rede om hul in die estoteriese (of verborge wêreld) te begewe. Hulle hoop om so die toekoms te kan voorspel en wat te wagte is, te kan beheer en te manipuleer.

By al hierdie dinge val die algemene en groeiende belangstelling vir man- en vrouverhoudings (inklusief die vraag of God ’n ‘Hy’ of ’n ‘Sy’ is) op.

Dit verbaas ook nie dat die neopaganisme sekere feministiese groepe aanspreek nie, omdat die nadruk op Moeder Aarde lê en (dus) vroulike spiritualiteit.

Volgens Foutain bestaan die kans dat ook kerkmense oop staan vir hierdie nuwe denke. Op sekere terreine het die kerk in sy verlede kanse laat verby gaan en leemtes laat ontstaan, wat gevul word deur hierdie nuwe denke. So is oor die algemeen weinig sorg bestee aan die milieu; die vrou is ondergewaardeer of is baie onreg aangedoen; die gevoelskante van die geloof was onderbelig, die christendom het sterk op die Griekse tradisie geleun waarin die rasionele belangrik was, en nie op die Hebreeuse tradisie nie, waarin die ervaring - waaraan die postmoderne mens so ’n behoefte het - sentraal staan (lees maar 1 Kor 1:22).

Stonehenge🔗

Skepper🔗

Die groot vergissing is dat die skepping verwar word met die Skepper. Daarom kan mense sê dat die neopaganisme ’n ‘uitdaging’ is, waar christene kreatief, skerpsinnig en onderskeidend mee te werk moet gaan.

Maar die groot mistasting van die nuwe heidendom is dat hulle met skepping en Skepper verwar raak. Die aarde word as ’n godheid aanbid. Dit is ’n ontkenning van die persoonlike God soos Hy Hom in die Bybel openbaar. ’n Groot gevaar skuil ook in die opvatting dat die enigste god wat ons nodig het, die god is wat ons binne in ons het. Dis die god wat ons persoonlik ervaar. Dit is 'n kort en fatale tree na die bevestiging van die ou leuen dat ons self God kan word.

Christelike benadering🔗

Christene moet selfondersoek doen soos Dawid gedoen het in Ps 139:24 (“kyk of daar by my ’n weg van smart is”). Christene is nie immuun vir die gees van die tyd nie. Dit is so verleidelik om saam te gly met die paganistiese denke (en okkulte) en normaal te begin vind dit wat die Bybel afwys. Maar baie van hierdie dinge is ’n gruwel in God se oë (Deut 18:10 e.v. en Josua 24:15).

Die Christen staan voor ’n uitdaging om hierdie denkbeelde van die nuwe eeu te ondersoek en te toets aan God se Woord ( dit vra dat die Bybel gelees moet word).

Die verkeerde en goeie elemente in hierdie denkbeelde moet ons leer onderskei en aanknopingspunte vind om in gesprek met ongelowiges oor die Evangelie te gaan. Wanneer ons ons net toespits op die gevare van die heidendom, mis ons die aansluiting.

Die Bybel het ontstaan teen dieselfde animistiese agtergrond. Wat nou gaande is, is vir God geen verrassing nie. Die Ou Testamentiese profete het al die konfrontasie met heidense gode en denkbeelde aangegaan. Ook Paulus het die Evangelie in en aan ’n heidense wêreld gebring. Met ander woorde: dit is alles al gedoen.