Begrawe of verbrand? Die keuse van 'n graf of kremasie
Begrawe of verbrand? Die keuse van 'n graf of kremasie
Wanneer ʼn geliefde sterf, is dit vir ʼn Christen die regte ding om te doen om vir hom of haar ʼn verassing te reël eerder as ʼn begrafnis? Wanneer ʼn begrafnis beplan word, is kremasie ʼn opsie? Is die vraag of begrawe of verbrand moet word bloot ʼn saak van voorkeur wat deur faktore soos koste bepaal word? Hierdie en verwante vrae kom meer en meer voor, ook in (gereformeerde) kringe.
Die gewone manier⤒🔗
Daar is geen twyfel dat die Bybel die ter aarde bestelling van die oorledene in ʼn graf as die gewone manier beskou nie. Daar is menige voorbeeld. Die eerste en enigste stukkie vaste eiendom wat Abraham besit het, was die graf vir sy vrou en later vir homself (Genesis 23; 25:9-10). Die ander aartsvaders is ook daar begrawe (Génesis 49:29-33; 50:13). Toe Moses op die berg Nebo gesterf het, was dit die Here Self wat hom begrawe het, en daarmee wys dat dít die manier is om na gestorwenes om te sien (Deuteronómium 34:6). Die Here het in sy wet inderdaad opdrag gegee dat selfs aan diegene wat aan oortredings wat die doodstraf verdien, skuldig is, ʼn behoorlike begrafnis gegee moet word (Deuteronómium 21:22-23). Gaan ons na die Nuwe Testament, was Lasarus begrawe (Johannes 11:17), nie veras nie, hoewel die Romeine en Grieke in daardie dae dit by voorkeur gedoen het. En ten laaste is dit insiggewend dat, nadat die Here Jesus gesterf het, Hy begrawe is (Matthéüs 27:59-60). Dit was in ooreenstemming met sy eie verwagting. Toe ʼn vrou Hom met kosbare olie in Betánië gesalf het, het Hy die besware met die volgende woorde weerlê: “...sy het ʼn goeie werk aan My gedoen... Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis” (Matthéüs 26:10, 12).
Begrafnis was dus die gebruiklike wyse. Dit is nie verrassend as ons onthou dat die Here God die eerste mens uit die stof van die aarde geskape het nie (Génesis 2:7) en na die sondeval verorden het: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (Génesis 3:19).” Dit is die situasie tot die wederkoms van Christus. Begrafnis vorm ’n integrale deel van dié situasie.
Verbranding as straf←⤒🔗
Hoewel begrafnis van die gestorwenes die norm is, lees ons ook in die Skrif dat die Here in bepaalde situasies die verbranding van mense beveel het. Ons lees in die wet van God dat “as ʼn man ʼn vrou en haar moeder neem, is dit ʼn skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie” (Levítikus 20:14). Soortgelyk “as die dogter van ʼn priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word” (Levítikus 21:9; vgl. Génesis 38:24). Dit is duidelik dat verbranding tot as ʼn uiterste vorm van straf vir gruwelike misdade was. Dit beteken dat die liggaam nie ʼn behoorlik begrafnis kon kry nie. Net so het God, na die neerlaag van Israel by Ai, beveel: “En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en ʼn skanddaad in Israel begaan het” (Josua 7:15). Agan het van die bangoed van Jérigo, wat God vir Homself opgeëis het, geneem en daarom is hy én sy familie gestenig en met vuur verbrand (Josua 7:26). Weereens wys hierdie uiterste straf op die vloek van God wat op hulle rus.
Daar is nog ʼn voorbeeld van verbranding, maar in dié geval is dit uitsonderlik weens omstandighede en nie deur God beveel nie. Ek verwys na die verbranding van Koning Saul en sy seuns om verdere verguising deur die Filistyne te voorkom (1 Samuel 31:10-12). Dit was ʼn besondere optrede in besonder omstandighede. Ons kan ook daarop let dat hulle hul beendere geneem en begrawe het (1 Samuel 31:13). Daar was dus ʼn begrafnis, want die gebeente is begrawe.
In besondere gevalle het God ook mense direk gestraf deur hulle te verbrand en só van ʼn gewone begrafnis ontneem. Toe Nadab en Abíhu “vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie... het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE” (Levítikus 10:1-2). Die Here het ook vir Korag, Datan en Abíram en hulle volgelinge wat die priesteramp begeer het, met vuur gestraf: “Toe het ʼn vuur van die HERE uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het” (Númeri 16:35).
In die lig van die voorgaande is dit duidelik dat die laaste ding wat ʼn Ou Testamentiese gelowige sou wou hê na sy dood met hom moet gebeur, ʼn verassing sou wees. Nie ʼn verbranding nie, maar ʼn begrafnis was die eerbare weg. Waarom? Bykomstig tot wat reeds hierbo gesê is, moet ons ook kortliks let op die plek van die liggaam by ʼn begrafnis.
Die liggaam in die begrafnis←⤒🔗
ʼn Begrafnis is nie ʼn geringe saak nie. ʼn Lyk is nie net ʼn naamlose stuk materiaal wat in die grond begrawe word, soos materialiste wil beweer nie. Dit is inteendeel die liggaam van ʼn besondere persoon wat begrawe word. Inderwaarheid word ʼn geliefde ter aarde gelê. Hoewel die siel by Christus is (Filippense 1:23) is die liggaam steeds die liggaam van die persoon wat begrawe word. Toe ons saligmaker vir Lasarus uit die dood gewek het, het Hy nie vir die dooie liggaam gesê: “Lyk, staan op” nie, maar Hy het geroep: “Lasarus, kom uit!” (Johannes 11:43). Na die Here Jesus se sterwe was dit nie net sy liggaam nie, maar Hyself wat begrawe is. Dit was nie net ʼn lyk wat lewend geword het nie, maar Christus self wat lewend geword het (Matthéüs 28:6, 1 Korinthiërs 15:4).
Die liggaam is ʼn baie belangrike deel van ons persoonlikheid. Toe God die eerste mens gemaak het, het “die HERE God … die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ʼn lewende siel geword” (Genesis 2:7). Eers is die liggaam gemaak en daarna is lewe gegee. Liggaam en siel hoort bymekaar. Vir ʼn siel om sonder die liggaam te wees, is nie normaal nie. In die hemel is die siele in ʼn sekere sin nakend, wagtend op die dag wat die hemelse verheerlikte liggaam aan hulle gegee sal word. (2 Korinthiërs 5:1-10). Maar hierdie verheerlikte liggaam is die opstandingsliggaam wat uit die graf opgewek sal word net soos Christus, die eersteling van dié wat lewe, uit die graf opgestaan het (1 Korinthiërs 15:1-34).
As diegene wat die opstanding van die liggaam bely behandel ons die liggaam wat begrawe word met groot sorg. Tensy die Here binnekort weer kom, sal die liggaam tot stof terugkeer. Maar ons saai dit vir die dag van die opstanding! Om die liggaam te verbrand en heeltemal te vernietig, is nie in ooreenstemming met die hoop op die opstanding nie. Die dood is oorwin. ʼn Nuwe onbederflike liggaam sal opstaan!
Kremasie←⤒🔗
Die gedagtegang wat kremasie onderlê, is heeltemal anders. Histories is kremasie in heidense gedagtegang gegrond. Die gedagte sou wees dat verbranding van die liggaam sou bydra tot die bevryding van die siel. Dit is nie toevallig dat die algemene gebruik van kremasie in die Romeinse Ryk met die verbreiding van die Christendom opgehou het om die keuse van voorkeur te wees nie. In die agtste eeu het Karel die Grote kremasie in die Heilige Romeinse Ryk verbied.
In die daaropvolgende geskiedenis is kremasie net in buitengewone omstandighede gebruik, soos tydens die dodelike plae wat groot dele Europa gedurende die Middeleeue geteister het.
Soos wat Christelike invloed in ons gemeenskap hedendaags kwyn en sekulêre en neo-paganistiese denke meer en meer mense beïnvloed, wen verassing al hoe meer veld. Opnames dui inderdaad aan dat ongeveer vyftig persent van gestorwenes in Kanada nou veras word. In stedelike gebiede is die persentasie ongeveer sestig tot tagtig persent. Ons moet versigtig wees dat ons nie deur wêreldse denke beïnvloed word wanneer ons besluit hoe ʼn ter aarde bestelling moet geskied nie.
Die groot dag←⤒🔗
Op die groot dag van Jesus Christus sal al die dode voor die troon van God verskyn. En die see sal die dode gee wat daarin was, en die dood en die doderyk (Openbaring 20:13). Dié wat opgewek word sal die martelare insluit wat op die brandstapels in vlamme opgegaan het. So ook die kinders van God wat in vurige ongelukke gesterf het en wie se oorblyfsels uitgebrand het. Die gelowiges sal op dié groot dag in onverganklikheid met verheerlikte liggame opstaan. Onse God laat Hom nie hinder deur die wyse van afsterwe of van die verbreking van die liggaam nie.
Die Bybel skryf nie ʼn bepaalde manier van begrafnis voor nie en die Skrif veroordeel ook nie verassing as sonde nie. Dit is ewewel duidelik uit wat die Bybel wel sê dat die begrawe van die liggaam en nie verbranding nie, met die Bybelse perspektief ooreenstem. Die liggaam wat eens so sorgvuldig deur God uit die aarde gemaak is, wat deur Christus gered is en deur Hom as tempel van die Heilige Gees gebruik is, is nie iets wat vernietig kan word nie. Dit moet eerder met sorg en respek en waardigheid te ruste gelê word in afwagting van die opstandingsdag. Die Skrif leer ons so mooi: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ʼn Natuurlike liggaam word gesaai, ʼn geestelike liggaam word opgewek” (1 Korínthiërs 15:42-44).