Barmhartigheid en Verlossing
Barmhartigheid en Verlossing
Saam met al die heiliges.
⤒🔗
1. Die Hele Mens←⤒🔗
Al hoe meer word dit nou vir ons duidelik wat dit inhou dat “Christus sy volk van hulle sonde red”:
Hy betaal vir die sonde en verwerf die vergewing van sonde by God;
Hy sorg vir die bediening van die vergewing, “pas dit toe” wat Hy verwerf het;
Hy verdien en skenk die Heilige Gees, deur wie ons nou ook al meer afstand gaan neem van die sonde en “heeltemal anders” word;
Hy maak die wil van God weer bekend en leer ons, teen die sonde in, om die koninklike wet lief te hê;
Hy gaan ook die gevolge van die sonde wegneem:
-
die versteuring in God se skepping, waar die vloek immers indertyd gekom het;
-
ook die versteuring in die mensewêreld, waar elkeen vanuit homself geneig is om sy naaste te haat;
-
die versteuring in ons eie liggaam: siekte en duiwelsmag.
“Sy volk red van hulle sonde”: ons het hierbo maar net enkele voorbeelde gegee, maar dit is allesomvattend. Op ’n pragtige manier praat die belydenis van die kerk hieroor: by niemand ander is daar enige heil te soek of te vinde nie — heil en welvaart is alleen by Hom en ten volle by Hom (Son 11 HK).
Hierdie belydenis moet ons uitgangspunt wees. Hierdie besef moet in ons agterkop wees by alles wat ons doen. Buiten die naam Jesus kan ons, as daar nood op ons afkom, niks goeds sê of doen nie.
(JJ Arnold, 1986)
-
Is ons (ook as kerke) nie geneig om die werk van Christus te versmal tot “verlossing van die siel” nie?
-
Gaan hierdie volle verlossing alles oor die hier en die nou? Wat beteken dit vir ons werk van barmhartigheid?
2. Woord en Daad←⤒🔗
Ons kan dus onder die indruk kom van al daardie groot aksies wat op die oomblik onderneem word, en die feit dat mense steeds meer oog kry vir die nood in die wêreld. Ek sou wou sê: ons moet steeds méér oog kry vir die nood in die wêreld. Want dit is onaanvaarbaar dat die kerk introvert leef en die wêreld en sy nood ignoreer.
Maar dan sal ons hierdie nood egter nooit geïsoleerd mag sien nie. Wyle ds. J v d Wielen het dit tereg in sy referaat oor wêrelddiakonaat so gestel: “Ons kan nooit sê dat daar tweërlei nood is nie: ’n nood volgens die liggaam en ’n nood volgens die siel, nie. Op die eerste nood moet die praktiese christendom hom rig, die christendom van die daad, terwyl die nood van die siel net deur die woord weggeneem kan word...”
Die heil wat God in Christus aan ons skenk is immers ’n verlossing van die hele mens, na liggaam en siel. En daarom moet ons ook met barmhartigheid bewoë wees, nie slegs oor die “ewige sieleheil” van my naaste nie, maar ook oor die tydelike nood waarin hierdie selfde naaste verkeer. Die diensbetoon aan die naaste moet gerig wees op die komplete mens in sy één nood en ellende. Daarom kan sending ook nooit bedryf word sonder dat die barmhartigheid van Christus se kerk haar ook rig op die stoflike nood van die mense, nie. En die rede hiervoor is dan nie omdat dit moeilik is om “teen leë mae te preek” nie. Hierdie werk van barmhartigheid word nie gedoen omdat ’n mens vir die werk van die sending eers noodgedwonge die maag moet vul nie, maar die christelike barmhartigheid het juis as taak hierdie vul-van-die-maag.
Maar dan moet ons ook die ander kant ingedagte hou: Die diens van barmhartigheid mag nooit losgemaak word van die evangelie nie. En dit is natuurlik omdat só die barmhartigheid wat betoon word, openbaar sal word as die barmhartigheid van Christus; maar dit mag veral nie sonder die evangelie gaan nie, omdat die christelike barmhartigheid nooit kan funksioneer sonder die bewoënheid oor die ewige sieleheil van die naaste, nie.
(K Deddens, 1989)
-
Die groot barmhartigheidsaksies in die wêreld kan die kerk soms beskaam. Maar hoe moet ons die werklike waarde daarvan beoordeel (ook aan die hand van vorige gedeelte: Die hele mens)?
-
Op watter manier dink u om die heil in Christus na vore te bring die volgende keer as daar vir u onverwags hulp gevra word?