Alternatiewe aanbidding?
Alternatiewe aanbidding?
'n Artikel in die Sondagblad Rapport van 8 Oktober vertel van 'n verskeidenheid van alternatiewe bedieningspatrone wat besig is om in gereformeerde Afrikaanse kerke pos te vat Omdat mense se smaak en behoeftes verskil, wil hulle ook op verskillende maniere aanbid. Party mediteer, ander klap hande, hou hande omhoog en wieg op die maat van polsende musiek. Hoe ookal, dit lyk of daar vir die kerklike aanbidding soos ons dit ken, 'n paar alternatiewe op die horison verskyn het. Hoe gemaak met hierdie nuwe verskynsels?
Hoe langer 'n mens oor hierdie (en ook ander) "alternatiewe" aanbiddingswyses nadink, hoe meer stapel die vrae op:
- As dit maar net 'n kwessie is van smaak wat verskil, moet die kerk dan werklik vir elke smaak voorsiening maak?
- Indien wel, moet daar binne dieselfde kerkverband 'n klomp "alternatiewe" voorsien word, sodat ons op die uiteinde met 'n modaliteite-kerk sit waarin daar van eenheid al minder oorbly?
- Indien die doel is om mense se smake en behoeftes te bevredig, wanneer tree ons oor die waarskuwingslyn wat in 2 Timoteus 4:3 getrek word: "Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hulle gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars versamel volgens hulle eie begeertes?"
- Gaan hierdie "alternatiewe" aanbiddingswyses maar net oor smaak wat verskil, of sit daar meer agter?
Hierdie laaste vraag doem voor 'n mens op wanneer jy die opmerkings lees van persone wat baie opgewonde oor die "alternatiewe" is. Die redes wat hulle aangee waarom hierdie nuwe ontwikkeling nodig geword het, word in die artikel soos volg weergegee:
- "Mense laat hulle al minder voorskryf deur hoër gesag."
- "Binne die kerk is daar nou 'n groter mate van demokrasie."
- "Mense kan nou sê wat vir hulle nodig is om hulle godsdiens te kan beoefen en daar word na hulle geluister."
- "Dit geskied in die post-modernistiese tydsgees waarin daar nie meer aan absolute voorskrifte en idees vasgeklou word nie."
Hierdie opmerkings en verduidelikings versterk die vermoede dat dit oor meer as net individuele voorkeure en smake gaan. Dit is die produk van 'n "tydsgees". Dit is opvallend dat daar in die gees van ons tyd blykbaar 'n versugting na die "alternatiewe" bestaan. Ons kry nie net met "alternatiewe" aanbiddingspatrone te doen nie. Ons word ook gekonfronteer met "alternatiewe" geneeskunde, "alternatiewe" onderwys, "alternatiewe" sielkunde en 'n swetterjoel "alternatiewe" motiverings- en ontspanningskursusse.
Nog 'n vraag wat al hierdie "alternatiewe" verskynsels by 'n mens laat opkom, is: Waarom word dit juis "alternatief genoem? Waarvoor bied dit 'n alternatief? Wil dit werklik net die tradisionele, gevestigde manier van doen in die "establishment" vervang? Of is daar besliste gereformeerde beginsels wat in gedrang kom?
Om op al hierdie vrae verantwoordelike antwoorde te gee, is nie altyd maklik nie.
⤒🔗
Reformasie – die enigste geldige alternatief←⤒🔗
Terwyl die "alternatiewe" beweging allerhande veranderings op kerklike gebied vra, is daar 'n ander kerklike verandering wat ons in hierdie dae helder voor die gees staan: Ek praat van die Reformasie van die 16de eeu, wat ons vandeesmaand weer saam met alle ander reformatoriese kerke wêreldwyd herdenk.
Maar die herdenking van die Reformasie is in 'n sekere sin ook ons Gereformeerdes se antwoord op die "alternatiewe" beweging. Hoe so?
Wanneer ons die Reformasie van die 16de eeu herdenk, is ons nie net besig om in herinnering te roep nie, maar ons is ook besig om positief standpunt in te neem. Tot so 'n mate dat die viering van Hervormingsdag eintlik 'n openbare belydenis word. Ons bely dat ons onsself op dieselfde beginsel-grondslag as die Reformasie stel. Dit sluit onder andere in dat ons bereid is om die gevestigde, tradisionele manier van doen te bevraagteken en te verander. Daar is egter 'n voorwaarde aan verbonde. Dit moet verandering wees wat ons terugbring na die Bybelse waarhede en nie daarvan af wegstuur nie. Altyd terug na die Woord van God, is ons slagspreuk.
Daarmee bely ons 'n hele paar dinge wat deurslaggewend is vir ons hele godsdienstige en sedelike lewe:
- Ons bely dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is waarin Hy onfeilbaar en met goddelike gesag Homself en sy wil aan ons bekend maak en ook die verlossing wat Hy ons skenk.
- Daarom bely ons ook dat die Bybel vir ons normatief is vir alle fasette van ons lewe. Bowenal leer die Here ons in die Bybel hoe Hy wil hê ons Hom moet dien.
- Verder is ons daarvan oortuig dat alles wat die Bybel ons leer, die waarheid is omdat dit van God afkomstig is, van Hom in Wie alle waarheid is. Ons roeping as gelowiges is om hierdie waarheid in liefde te betrag en dit met volle oortuiging te handhaaf en te verdedig.
- Juis daarom is ons bereid om in geloofsgehoorsaamheid voor Hom te buig en is dit ons strewe om ons hele lewe so in te rig dat dit aan die eise van sy Woord beantwoord.
Om hierdie uitgangspunte te onderskryf, word deur sommige mense as "fundamentalisme" bestempel. Fundamentalisme is dan per definisie deel van die tradisionele, gevestigde manier van dink wat deur die "alternatiewe" denke vervang moet word.
Ons sê egter "nee" vir "alternatiewe" denke en ook vir "fundamentalistiese" denke. Ons sê "ja" vir Skrif-gefundeerdheid en Skrifgefundeerde veranderings. Dit is die weg waarin die hervormers by die Reformasie ons voorgegaan het.
En daarin volg ons hulle na. Daarom dink ons in dankbare herinnering terug aan die Reformasie.