Adam se verhouding tot die mensdom
Adam se verhouding tot die mensdom
Omdat Adam, toe hy geskape is, in ʼn bepaalde verhouding tot die mensdom en sy eie nageslag te staan gekom het, het alles wat hy gedoen het vir ons gevolge gehad. Wat was hierdie verhouding?
Adam was ons hoof, of verteenwoordiger. Dit leer ons uit die feit dat ons verantwoordelik gehou word vir sy sondes (Rom. 5:12) net soos ouers soms vir die optrede van jonger kinders verantwoordelik gehou word, omdat hulle die kinders verteenwoordig. Ons weet dit ook hieruit dat Christus, die “laaste Adam” (1 Kor. 15:45), ons voor God verteenwoordig.
As ons verteenwoordiger het Adam in ons plek gestaan, sodat alles wat hy gedoen het, vir ons gedoen is. Daarom word ons vir wat Adam gedoen het, verantwoordelik gehou asof ons dit self gedoen het. Só word Adam se sonde gereken as ons sonde en ons word daarvoor verantwoordelik gehou en skuldig geag.
Mense kla dikwels dat dit onregverdig is, maar is dit? Sulke verhoudings is, byvoorbeeld, ʼn inherente deel van ons lewe hier op aarde. Ouers verteenwoordig hulle kinders en tree namens hulle op. Politici handel namens almal, sodat wanneer oorlog verklaar word, almal in ʼn staat van oorlog is, al stem sommige nie met die politici saam nie. Die belangrikste is egter dat as mens sou sê dat dit nie reg en regverdig is dat Adam ons verteenwoordiger is nie, dit ook nie reg en regverdig is dat Christus ons verteenwoordiger is nie. Ons moet nooit vergeet nie dat Christus Adam se plek inneem as verteenwoordiger van sy volk, sodat wat Christus gedoen het aan hulle toegereken word, en hulle om sy ontwil geregverdig en onberispelik voor God is.
Voorts is ons natuur dieselfde as dié van Adam, en syne was dieselfde as dié van ons. Ons kan dus nie sê dat ons anders of beter as hy sou gedoen het nie. Boonop was Adam voor die val volmaak en regverdig; nog ʼn rede waarom ons seker kan wees dat sy keuse ook ons keuse sou gewees het. Toe Adam in sonde geval het, is sy sonde met reg aan ons toegereken, en het sy val heeltemal tereg ons val geword.
Adam was ook ons vader, en ons erf ons verdorwe en gevalle menslike natuur van hom. Ons is in sonde en oortreding dood gebore, omdat Adam geestelik gesterf het toe hy in sonde geval het. Die kinders wat uit hom voortkom, is soos hyself (Gen. 5:3).
Waarom word ons in oortreding en sonde dood gebore, en dra ons die straf vir die sonde selfs voordat ons enige kwaad kon doen? Die antwoord lê by ons verhouding tot Adam as ons verteenwoordiger. Ons is reeds voordat ons gebore word en kwaad kon doen, verantwoordelik vir die sonde van Adam en word daarom gebore met die straf vir sy sonde, dieselfde straf wat oor hom gekom het. As straf vir sy sonde het hy geestelik gesterwe en volslae verdorwe geword. Ons is aan sy sonde skuldig en word onder dieselfde straf gebore.
Daar is niks wat die hopeloosheid van ons toestand so sterk by ons inprent nie as die feit dat ons in Adam skuldig is, reeds voordat ons geleentheid gehad het om kwaad te doen, en daarom as straf vir die sonde verdorwe gebore word. Alleen maar as ons dit begryp, kan ons oortuig wees dat genesing vir die sonde van God moet kom. So lank as wat ons dit nie begryp nie, sal ons aanhou dink dat dié genesing in ons eie vermoë, ons eie wil of ons eie kragte lê.