Aardskuddings en Lugverskynsels
Aardskuddings en Lugverskynsels
Totius skryf na aanleiding van 'die uitbarsting in die Andes (Suid-Amerika)' in 1932 twee artikels in Die Kerkblad. Hy sluit sy eerste artikel soos volg af: 'Ons vrees dat dit by menigeen net bly by 'n uitwendige waarneming – iets wat dikwels ook maar swak is – en dat nie deurgedring word tot die werklike betekenis van die verskynsels nie. Hoe anders is die lering wat ons uit die Skrif opvang!' Totius se skriftuurlike besinning volg in sy tweede artikel. Hierdie besinning bly aktueel, ook na die onlangse aardbewings in die nabye en verre Ooste.
Die ontploffings en uitbarstings in die Andesgebergte, Suid-Amerika, het ons opnuut laat besef watter geweldige kragte wegskuil in die aardbodem onder ons voete.
Vulkane, honderde myle van mekaar verwyder, het tegelyk soveel stof en as uitgeblaas dat die hoeveelheid by wyse van kubieke myle geskat word. En die rookkolomme het so geweldig hoog in die lug gaan staan, dat hulle lengtemaat met myle bereken is. Tewens word ons vertel hoe die stof en as donkerheid en skemering versprei het oor 'n wye omtrek en dat hulle verder in die hoër luglae voortgedra is teen 'n snelheid van 70 myl per uur. Almal saam natuurverskynsels wat ons laat voel dat die binneste van die aarde nie altyd so stil lê nie maar soms gevaarlik in beroering kan kom.
Wat moet ons van dit alles sê?
Die man van wetenskap beskrywe die verskynsels; hy dink daaroor na; hy gaan in die geskiedenis terug om van soortgelyke natuurrampe te verhaal; hy kom ook tot sekere gevolgtrekkinge. Maar dit alles kan ons nie bevredig nie. Ons hart bly vra: Waarom? En as die wetenskap probeer om dié vraag te beantwoord, dan ontstaan daar pynlike konflikte. Ons as gelowiges kan ons nie versoen met die gedagte dat dit bloot natuurverskynsels, sonder meer, is nie; dat dit al vroeër so was en dat dit verder so sal bly tot in die oneindige. Altans, dat niemand kan sê 'Hoe lank?' nie.
Die Naderende Einde⤒🔗
Die eerste hoofpunt wat ons moet vashou, is dat ons alléén deur die geloof kan weet dat daar 'n naderende einde is.
Alleen deur die geloof weet ons dat God hemel en aarde geskape het. Geen man van wetenskap kan ons dit vertel nie, want hy was nie daarby nie.
Alleen deur die geloof weet ons dat ook dieselfde hemel en aarde deur die oordele van God uit dié geskape toestand sal uitval en deur die oordele van God sal omgewentel word totdat met die nuwe hemel en nuwe aarde 'n ander toestand sal intree.
Om te glo dat God alles geskape het is swaar. Luther selfs het daarmee so lank en bang geworstel. Maar om te glo dat alles vir die oordeel en ontwrigting bestemd is, is net so swaar. Die ongeloof in ons eie hart wil ons aldeur wegtrek uit ons vastigheid deur ons toe te fluister: Dit wás so en dit bly so. Na hierdie lokstem mag ons nie luister nie. Ons geloof omvat deur Gods genade begin en einde, en is nie tevrede met 'n sukkelbestaan in die teenswoordige nie. Ons geloof oorspan die ganse vloedgolf van die tyd, al wat daar lê tussen skepping en herskepping in.
Natuurrampe en Sonde←⤒🔗
Maar nie alleen dit nie. Die tweede hoofpunt waar ons die aandag op wil vestig, is dat die strafgerig van God nie beperk is tot die mensewêreld nie. Dit lyk so vanselfsprekend, en tog is dit 'n punt waarmee die geloof dikwels worstel.
In sy profetiese rede vestig Jesus ons aandag nie net op maatskaplike beroeringe, omwentelinge wat in die mensewêreld plaasvind nie, maar ook op geweldige skuddinge in die ryk van die natuur. Nie net hongersnode en pessiektes sal daar wees nie maar ook groot aardbewings; en daar sal ook verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom (Matt. 24:7; Mark. 13:8; Luk. 21:11).
Hiermee stem ooreen wat die siener op Patmos aanskou het. Die eerste vier seëls het hoofsaaklik betrekking op die mensewêreld; maar die sesde, wat die uitvoerigste beskrywe is, laat ons sien 'n aardbewing hieronder en 'n hemelbeweging daarbo wanneer die sterre uit die hemel sal val soos onryp vye van 'n vyeboom afval (Openbaring 6:12-17). En wanneer die siener op Patmos die geluid van die stormbasuine hoor, dan verneem hy deur middel van die eerste vier basuinstote dat dit juis die verskillende terreine van die natuur is wat aangetas word: aarde, see, drinkwaters en hemelliggame (Openbaring 8:7-13).
Nou is dit nie so dat dié natuurrampe die beroeringe in die mensewêreld maar net vergesel nie. Nee, die Skrif leer ons duidelik dat daar 'n oorsaaklike verband tussen dié twee bestaan, en wel só dat die mens se sonde uiteindelik lei tot die ontwrigting van die ganse natuur.
Breed hoef ons op hierdie punt nie in te gaan nie. Jesaja sê dit baie duidelik dat die aarde eenmaal sal bewe, omdat sy oortreding te swaar op hom sal druk (24:20). Nou weet ons dat die aarde as sodanig, as stuk van die heelal, nie kan sondig nie. Dit is dus die oortreding van die mens wat eindelik te swaar word en die gewaggel van die aardbodem veroorsaak.
Dit is ook 'n punt waarmee die geloof te kampe het, veral in ons eeu, waarin die natuurvorsing sulke breë afmetings aangeneem het, 'n vorsing wat eintlik net rekening hou met wat sienlik en tastelik is.
Alreeds by 'n droogte of sprinkaanplaag is dit so swaar om ten volle en diep te besef dat ons sonde die oorsaak daarvan is. Wie voel in hierdie opsig so sterk soos Amos? Hy sien die verwoesting van die sprinkaanplaag en bid onmiddellik, sonder enige uitweiding: 'Here, Here vergeef tog!' Dadelik dus die sondebesef (Amos 7:2).
Werk die gevoel van die sonde alreeds swak by die meer gewone natuurplae, te minder sal dit openbaar word as die verskrikkinge van die voleinding deurbreek. Vrees en angs sal daar wees, maar dit is iets anders as 'n nugter besef van wat gaande is. Skriktonele op sigself kan ons nie tot verootmoediging en geloof bring nie. Dit kom alleen deur werksaam te wees met die Woord van die Here en werksaam te wees deur die Heilige Gees.
God Gryp In←⤒🔗
Die derde hoofpunt wat ons moet vashou, is dat God self die eerste oorsaak van al dié strafgerigte is. Dit is nie so dat die natuur en die mensewêreld vanself oud word en naderhand inmekaarsak, om dan vir nuwe formasies plek te maak nie. Dit is die geloof van die ewolusionis; dit is die troostelose leer van die ewigdurende herhaling, sonder dat daar 'n einde aan die wêreld-ellende kom.
Om ons van hierdie dwaling terug te hou leer die Openbaring dat God by die eindoordeel regstreeks ingryp.
Natuurlik gebruik God daarby ook, as tweede oorsaak, die kragte wat alreeds in die natuur aanwesig is. 'n Lokomotief wat van die spoorwegstawe afgly, vernietig homself deur die geweld van die stoomkrag wat in sy binneste skuil. So is daar ontsettende kragte alreeds in die skepping aanwesig wat God by sy gerigte sal aanwend tot sy doel.
Maar God sal ook regstreeks sy almag openbaar. Lees maar net wat van die eerste vier basuine beskrywe staan. Telkens word veronderstel of duidelik gesê dat van Bo af ingegryp word in die lewe van die natuur. By die eerste basuin teken Kuyper al dadelik aan: 'Het bloed waarvan hier sprake is, was bloed dat God zelf uit zijn hemel op deze aarde liet afdalen om zijn oordeel over het menselijk leven scherp te doen uitkomen'. Skerper toon hy dit nog aan by die ander drie basuine.
Die strafgerigte kom dus op die aarde om die raad van God te vervul, nie te vroeg nie en nie te laat nie. Dit is ons plig om daarin sy stem te beluister en sy naderende voetstappe te verneem.
Wees Sterk in die Here←⤒🔗
Hierdie geloof ten opsigte van die voleinding, wat ons in enkele hoofpunte geskets het, maak ons sterk teenoor die dag van onheil wat aanstaande is. Ons sien dan ook in alles die beskikking van die almagtige Vader.
As dit verkeerd gaan in die mensewêreld, as lande bankrot gaan en ander lande dreig om bankrot te gaan en geen mens of konferensies van mense meer raad weet nie, dan bely ons ootmoedig: Dit is ons sonde! En ons bid met Amos: 'Vergeef, Here!'
Maar ook as dit in die natuurwêreld verkeerd gaan, aardbewings ons verskrik en lugverskynsels ons verbaas, dan bely ons weer ootmoedig: Dit is ons sonde! En ons bid weer met Amos: 'Vergeef, Here!'
En as God nie meer wil vergewe nie, omdat 'die genade dor gebloei het', dan laat ons alles met stille berusting in sy hande. Hy het vantevore bepaal hoe Hy sy kinders gaan staande hou in en gaan red uit die verskrikkinge wat oor die hele wêreld sal kom.
Nou al bewe die aarde, en die mense is buite hulleself van skrik (soos nou weer in Suid-Amerika); nou al word die lug bo ons geheimsinnig gekleur teen sonsondergang. Wat sal dit nie wees as honderde vulkane tegelyk uitbars nie!
Maar ons hart is vas in die Here. Ons sal nie wankel nie.