Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

350 jaar Gereformeerde Godsdiens in Suid-Afrika

Jan van Riebeeck

Driehonderd-en-vyftig jaar gelede, op 6 April 1652, het Jan van Riebeeck en sy geselskap in Tafelbaai voet aan wal gesit. Hulle is gestuur om vir die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie 'n halfwegstasie op die seeroete tussen Europa en die Ooste te kom vestig. Om vir die verbygaande skepe vars kosvoorrade te voorsien, het hulle groente, vrugte en graan kom plant. Uit hulle koms het egter twee ander belangrike bome gegroei: die Afrikanervolk en die Gereformeerde godsdiens in Afrika.

Dat die Afrikanervolk uit hulle nageslag sou voortspruit, het hierdie groepie nedersetters kwalik kon dink. Maar dit was wel hulle voorneme dat die Gereformeerde godsdiens hier in Afrika gevestig sou word. Dit merk ons duidelik uit die dankgebed van Jan van Riebeeck nadat hulle aan wal gestap het. In sy gebed het hy onder andere gebid dat as dit moontlik is "onder hierdie wilde, brutale mense u ware Gereformeerde Christelike leer mettertyd mag voortgeplant en versprei word tot lof en eer van u heilige Naam".

Deeglik Toegerus, het hulle die Kerk Geplant🔗

Hierdie volksplanters was uitnemend toegerus om juis die Gereformeerde Christelike godsdiens met hulle uit Europa saam te bring. Die Sinode van Dordtrecht, waar die Gereformeerde godsdiens as 't ware sy beslag gekry het, het 'n skrale 33 jaar tevore plaasgevind (1618-1619). Die Belydenis van Dordt was dus vars uit die oond en die gees van die Gereformeerde leer het nog helder in Nederland geleef. Hierdie gees is deur die manne en vroue wat daardie dag in Tafelbaai aan wal gestap het, saamgedra, net soos hulle die Statebybel en die Gereformeerde belydenisskrifte van Dordt met hulle saamgedra het.

Met die koms van die Franse Hugenote 35 jaar later (1688) is die Gereformeerde godsdiens nog stewiger op Afrikaanse bodem geanker. Teen 1700 was daar drie selfstandige Gereformeerde gemeentes aan die Kaap: in die Kaap self (1665), in Stellenbosch (1687) en die Franse gemeente van Drakenstein (1691). Tussen 1700 en 1800 het die Vryburgers al verder die binneland ingetrek.

Die Kompanjie was nie baie ingenome met die uitbreiding diep in die binneland nie en wou nie dat nuwe gemeentes daar gestig word nie. Tog kon hulle dit nie verhoed nie, en so is kerke al verder die binneland in gestig, tot so ver as Swellendam (1794) en Graaff-Reinet (1797).

Bewaar te Midde van Godsdienstige Verval🔗

Hierdie uitbreiding na die binneland het op die lang duur tot die behoud van die egte Gereformeerde godsdiens in Suid-Afrika gedien. Die lang afstande het die pioniers tot 'n groot mate van die Kaap geïsoleer. Toe daar in die 18de eeu verkeerde godsdienstige elemente soos die rasionalisme en die piëtisme uit Nederland na die Kaapse kerk begin oorspoel, het dit die pioniers onaangeraak gelaat. Daar in die verre binneland het hulle steeds maar hulle geloofstoerusting gehaal uit die Statebybel met sy kantaantekeninge, uit die Psalmboek met die Gereformeerde Belydenisskrifte en uit die godsdienstige geskrifte van ou skrywers soos a' Brakel, Comrie, Hellenbroeck en Smijtegelt.

Die godsdienstige afstand tussen die Kaapse kerk en die Gereformeerdes in die binneland het onvermydelik kerklike spanning laat ontstaan. Die spanning is verhoog toe die Kaap in die 19de eeu onder Britse bewind gekom het en die Britse goewerneurs as deel van hulle verengelsbeleid Engelse en Skotse predikante in die kerke ingevoer het. Die metodisme wat hierdie predikante met hulle saamgebring het, is deur die Kaapse kerk, wat toe al vir 'n geruime tyd op 'n godsdienstige laagtepunt was, sonder meer aanvaar. Vir die Gereformeerdgesinde pioniers, wat as "Doppers" bestempel is, was dit egter totaal onaanvaarbaar. Uit die botsings wat gevolg het, is die Gereformeerde Kerk in 1859 gebore, om weer as 'n vrye kerk te bestaan "ooreenkomstig die leer, diens en tug van die vaders soos wat dit te Dordtrecht in die jare 1618 en 1619 geopenbaar is".

So 'n terugblik oor die afgelope 350 jaar van kerkgeskiedenis in Suid-Afrika laat 'n mens weer besef watter hoogtepunte en laagtepunte die Gereformeerde godsdiens tot hier toe in ons land deurgemaak het. Op sigself is die op-en-af deining van die grafiek nie vreemd nie. Die grafiek van die kerk se geskiedenis oor sy bykans tweeduisend jaar van bestaan lyk ook maar so. Dit is 'n geskiedenis wat wissel tussen deformasie en reformasie, hervorming en agteruitgang. As gevolg van sy sondige begeertes beur die mens maar gedurig weg van die Skrifwaarhede in 'n poging om die kerk al meer na sy eie smaak in te rig (vgl. 2 Tim. 4:3). Dan beskik God dit so dat daar weer reformasie kom, terug na sy Woord.

Statebybel

Geen wonder nie dat van die Gereformeerde kerke gesê word dat dit 'n altyd reformerende kerk is — telkens maar weer terug na God se Woord.

Met Dankbaarheid Aanhou Reformeer🔗

Dat die Gereformeerde godsdiens in Suid-Afrika ten spyte van die op-en-af deining tussen hoogte-en laagtepunte kon bly voortbestaan tot vandag toe, is rede vir groot dankbaarheid teenoor die Here. Ons besef immers dat, al is dit die mens se verantwoordelikheid om die kerk in stand te hou, dit tog die Here is wat dit bewaar en versorg. As die Here nie sy hand oor die Gereformeerde godsdiens in Suid-Afrika gehou het nie, sou ons nie nou hier gewees het nie. Daarvoor moet ons Hom loof en dank.

Terselfdertyd is die geskiedenis altyd soos 'n spieël waarin 'n gemeenskap homself moet sien. Die spieël wat die afgelope 350 jaar se geskiedenis voor ons hou, is die vraag: Is die Gereformeerde godsdiens tans in Suid-Afrika op 'n hoogtepunt of 'n laagtepunt? 'n Mens hoef nie ver te gaan soek vir 'n antwoord nie. Die dagblaaie was die afgelope weke weer daarvan vol: 'n oor-en-weer gestry (selfs tussen gereformeerdes) oor die vraag of dit wat in die Bybel staan, werklik die waarheid is en of die Bybel enigsins met gesag kan praat. Daar word openlik gepraat van 'n nuwe reformasie wat vir die kerke voorlê — weg van die Bybel af! Wat 'n toestand! Daar is kennelik 'n groot wanbegrip van wat reformasie werklik is. Dit geld ook vir veranderings wat mense na hulle eie smaak in die kerke wil invoer en dit dan probeer goedpraat met die feit dat die Gereformeerde kerke tog altyd bereid moet wees om te reformeer.

Wat die toekoms vir ons inhou, weet nie een van ons nie. Dalk wag daar werklik 'n nuwe reformasie vir die kerke in Suid-Afrika — 'n egte reformasie, terug na God se Woord toe. Wat die Gereformeerde Kerke betref, moet ons bly werk en bid vir so 'n reformasie, want die Gereformeerde Kerke is 'n altyd-reformerende kerk. Daarmee saam moet ons bid dat die Here sy hand van bewaring en versorging oor die Gereformeerde godsdiens en die kerk in Suid-Afrika sal hou. Solank as die kerk sy kerk bly, weet ons dat sy belofte bly staan: "Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie" (Matt. 16:18).