1 en 2 Tessalonisense - Die Briewe oor die Wederkoms
1 en 2 Tessalonisense - Die Briewe oor die Wederkoms
⤒🔗
Die Gemeente van Tessalonika←⤒🔗
Tessalonika was die hoofstad van Masedonië, die land ten noorde van Griekeland. Dit was 'n belangrike hawestad, in die tyd van Paulus reeds drie eeue oud. Te meer belangrik was dit as 'n stad geleë op die hoofweg tussen Rome en die Ooste (die sg. Via Egnatia).
Die Ontstaan van die Gemeente←↰⤒🔗
Paulus het die gemeente persoonlik gestig op sy tweede sendingreis (ongeveer 50 n.C.). Die eerste prediking aldaar word beskryf in Handelinge 17, waarvolgens Paulus na hoogstens 'n maand of twee uit die stad moes vlug. Dit blyk inderdaad ook uit die twee briewe dat Paulus sy werk daar nie kon afhandel nie, en juis daarom hierdie briewe skryf (vgl. 1 Tessalonisense 3:4, 10).
Tyd en Plek van Ontstaan van die Briewe←↰⤒🔗
Op Galasiërs na, is 1 en 2 Tessalonisense die twee oudste briewe van Paulus en dus ook saam met Jakobus en Galasiërs die vier oudste boeke van die Nuwe Testament!
Die tyd van ontstaan van die twee briewe moet gestel word op 50 of 51 n.C. — dus baie kort na Paulus se stigtingsprediking in Tessalonika.
Die redes hiervoor is:
-
In 1 Tessalonisense 2:17 lees ons: "Maar nadat ons, broeders, 'n kort tydjie van julle geskei was…". Paulus self sê dus dat hy slegs 'n kort tydjie tevore nog in Tessalonika was.
-
Volgens 1 Tessalonisense 3:1-2 het Paulus vir Timoteus teruggestuur na Tessalonika om hulle te versterk en te bemoedig in die geloof, en volgens 3:6 skryf hy die brief sodra Timoteus weer by hom terugkom met rapport oor die gemeente. Dit stem ooreen met die gegewens van Handelinge 17 waar Paulus na sy haastige vertrek 'n kort rukkie in Berea vertoef en dan ook daarvandaan moes vlug na Atene. Hy gaan alleen en laat Timoteus en Silas agter met die opdrag om so gou moontlik na hom te kom waar hy in Atene vir hulle wag (vgl. plek van skrywe hieronder).
-
Paulus skryf 1 Tessalonisense terwyl hy nie kan wag om sy werk onder die Tessalonisense af te rond wat kort geknip is deur sy gedwonge vertrek nie: "om te voltooi wat aan julle geloof ontbreek" (1 Tessalonisense 3:9-10).
-
Die ooreenkoms en aansluiting van 2 Tessalonisense by 1 Tessalonisense is so groot dat by diegene wat die egtheid (outentisiteit) van 2 Tessalonisense aanvaar vry algemeen eenstemmigheid is dat die twee briewe baie kort na mekaar geskryf is (vlg. o.a. 1 Tessalonisense 1:1-2 Tessalonisense 1:1-2; 1 Tessalonisense 2:9 en 2 Tessalonisense 3:8; 1 Tessalonisense 3:4 en 2 Tessalonisense 3:10; 1 Tessalonisense 5:12 en 2 Tessalonisense 2:1; 1 Tessalonisense 2:1 en 2 Tessalonisense 3:7).
Die plek van skrywe moet in die lig van die datering en volgens Handelinge 18:1 en 5 gestel word as Korinte, waar Timoteus en Silas weer by Paulus, na sy vertrek uit Atene, aangesluit het.
Die Eerste Brief←⤒🔗
Doel van die Brief←↰⤒🔗
Waar Paulus weens die Joodse vyandskap veel vroeër uit Tessalonika moes padgee as wat sy plan was en dus sy prediking daar nie na sy bevrediging kon voltooi nie, het hy Timoteus teruggestuur om te verneem hoe dit daar gaan met die gemeente (1 Tessalonisense 3:5) en om hulle verder te bemoedig in die geloof te midde van die Joodse vervolging (1 Tessalonisense 3:4 5). Nadat hy van Timoteus verneem het hoe dit daar gaan, skryf hy hierdie brief, duidelik met tweërlei doel:
-
Om sy dankbaarheid teenoor God aan hulle voor te hou, dat God hulle so laat vasstaan in die geloof; en om hulle daarin te bemoedig (1:9 en 3:6).
-
"Om te voltooi wat aan julle geloof ontbreek" (3:10), deur 'n brief, terwyl hy nog nie persoonlik na Tessalonika kan terugkeer nie. Daarom gaan Paulus in die tweede deel van die brief dieper in op sekere geloofsprobleme.
Tema van die Brief←↰⤒🔗
Die brief dra 'n duidelike tweeledige karakter volgens die doel van Paulus:
-
Die eerste drie hoofstukke word beheers deur vreugde en danksegging oor die geloofsywer en -trou van die jong gemeente van Tessalonika. Kernverse is 1:23-3: "Ons dank God oor … die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop…"
-
Die tweede deel, hoofstukke 4-5, is meer leerstellig van aard en handel na 'n kort woord oor sedelike heiligheid, hoofsaaklik oor die wederkoms van Christus.
Die hele brief word egter beheers deur een enkele motief wat as refrein dwarsdeur die brief loop, naamlik die salige troosryke en inspirerende hoop op die wederkoms van Jesus, as Here (Koning) en Regter.
Let ook daarop hoe die bekende "geloof, hoop en liefde"-motiewe van Paulus, in 1:3 die brief inlui, maar nou in die opvallende gewysigde volgorde: "geloof, liefde, hoop" – waardeur die Christelike hoop (d.i. leef in die vertroue op Jesus se belofte dat Hy weer kom) hier as die belangrikste saak aangewys word.
So wil Paulus hierdie baie jong en vervolgde gemeentetjie troos en bemoedig en verder onderrig deur hulle oë te vestig op Jesus wat kom!
←⤒🔗
Die Tweede Brief←⤒🔗
Doel van die Brief←↰⤒🔗
Die doel van hierdie brief, wat weer feitlik uitsluitlik oor die wederkoms van Christus handel, vind ons uitgedruk in 2:1-2: "Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms … om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is."
Daar het dus in die gemeente verwarring of dwalinge ontstaan moontlik deur valse leraars bewerk – dat die wederkoms van Jesus so op hande is dat daar nie meer tyd is vir enigiets anders as om na die hemel te staan en tuur nie. Om God se openbaringslig te laat val op hierdie verkeerde wederkomsverwagting skryf Paulus nou 'n tweede brief aan die Tessalonisense.
Tema van die Brief←↰⤒🔗
Ewe sterk as in die eerste brief beheers die vraagstuk van die wederkoms hierdie brief: die wederkoms staan sentraal in al drie hoofstukke, die klem val hier op:
-
Volharding (onder vervolging) in die hoop dat Jesus kom;
-
die afwysing van 'n verkeerde verwagting van die wederkoms;
-
die waarskuwing voor die groot afval onder die Antichris voor die wederkoms.
Dus: Die wederkoms – eers ná verdrukking en groot afval onder die Antichris.