Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Appelleer, Maak Beswaar ... of Konformeer

stop val van dominos

Een van die opvallendste sake in die agenda en aanvullende agenda van die jongste Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke was die feit dat daar nie minder as 'n volle dosyn appèlle en beswaarskrifte was nie (4 appèlle en 8 beswaar­skrifte). Dit het baie tyd op die sinode in beslag geneem en het dus ook baie onkoste veroorsaak. Almal was nie ewe belangrik en ewe goed gefundeer nie. Geen wonder nie dat heelwat stemme daarteen opgegaan het en die gedagte uitgespreek is dat een of ander plan gemaak moet word om 'n verdere vermeerdering in die toekoms te verhoed. Sodanige besware is alte seker geldig teen enige moontlike misbruik van die reg tot appèl en die reg om 'n be­swaarskrif in te dien. Maar ons moet baie sterk daarteen waak om nie die kind met die badwater weg te gooi nie. Met die beginsel en prak­tyk van konformasie wapen die Gereformeerde Kerkorde ons vol­doende teen enige misbruike in hierdie verband.

Art. 31 lui soos volg: Wat op 'n kerklike vergadering met meerder­heid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter 'n klagte het dat hy deur die uitspraak van 'n mindere vergadering verongelyk is, kan hy hom op 'n meerdere vergadering beroep.

Artikel 46 sê: Sake vir behandeling op meerdere verga­derings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voor­gaande sinodes oor die voorgestelde punte nagegaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie; tensy dit nood­saaklik geag word om iets te ver­ander. (vetgedruk van my, DM)

In art. 31 het ons die reg van appèl, in art. 46 die reg tot 'n beswaarskrif (Die Sinode van 1964 het die nodige prosedurereëls vir beswaarskrifte vasgestel.) Dus: kerklike besluite is bindend, maar nie onfeilbaar nie. Die finale en beslissende toets is die Woord van God en wat daaruit voortvloei in Belydenis en Kerk­orde. Hierdie toets kan gevra word, by wyse van appèl of beswaarskrif, deur enige wettige vergadering of deur enige individuele lidmaat, des­noods vingeralleen.

Drukgroepe Onnodig en Verkeerd🔗

In die Gereformeerde Kerke het niemand dus nodig om te organiseer om medestanders of/en ondersteu­ners vir sy saak te kry nie. Niemand het ook die reg om dit te doen en daardeur drukgroepe of partyskap­pe te veroorsaak nie. Waar hierdie reg van appèl en beswaar nie bestaan, of nie beoefen word nie, sien ons vandag volop dat verenigings in 'n kerk, of kerkverbande, as nood­saaklike euwels ontstaan en on­eindige en selfs bittere verdeeldhede veroorsaak. Om sulke ellendes te verhoed mag ons hierdie regte van mindere vergaderings of individuele lidmate geensins verminder, afskaf of as kanale van wettige beswaar toestop nie.

Dit is 'n kostelike kleinood wat ons moet vertroetel en versorg en handhaaf, ter ere van God en tot welsyn en groei van sy kerk.

Voorkoming van Ontaarding🔗

Hoe moet ons dit egter vrywaar van misbruik en ontaarding? Deur te let op die gees en grondbeginsels van die Gereformeerde Kerkorde en dit in die praktyk konsekwent en getrou toe te pas.

Konformasie. Prof. G. P. L. van der Linde skryf hieroor soos volg:

Nadat die meerderheid vasgestel is, is daar gedurende die sestiende eeu aanvanklik 'n tweede keer ge­stem om die minderheid geleentheid tot konformasie te gee. Later is aanvaar dat die minderheid hulle stilswyend aan die meerderheidsbe­sluit onderwerp as daar geen be­sware geopper is nie en is nie meer tweemaal gestem nie. Dit is egter nog altyd raadsaam om in gewigtige sake te vra dat die minderheid kon­formeer deur op te staan. So word besluite dan eintlik eenparig ge­neem."Die Kerkorde", p. 128

stemming

Ons kan gerus vandag meermale twee keer stem om dit baie duidelik te maak dat die uiteindelike besluit nie net 'n meerderheidsparty se besluit is nie, maar wel die kerkraad (of meerdere vergadering), s'n as geheel. Hierby moet ons baie sterk vashou dat hierdie meerderheid geen blote wêreldse meerderheid mag wees nie, maar 'n Bybelge­fundeerde meerderheid. Daarom kan en moet ek berus as ek in die minderheid is — konformeer. As ek dit om des gewetenswil nie kan doen nie, moet ek appelleer of 'n be­swaarskrif indien en sorg dat dit deeglik Skriftuurlik gefundeer is. Om hierin vir myself duidelikheid te kry moet ek baie ernstig bid dat ek vervul mag wees met die Heilige Gees (kyk Handelinge 15:28), sodat ek, hetsy in die meerderheid of in die minderheid, die voorbeeld van die Koning van die kerk ten volle mag volg deur te bid: "Nie my wil nie, maar u wil geskied".

Eie-Ek Kruisig🔗

Paulus waarsku baie skerp en duidelik teen partyskappe — waarin elkeen sy eie leier kies en volg, in plaas van om God en Christus alleen voorop te stel (1 Korintiërs 3). Selfs waar elkeen oortuig is van die reg van sy standpunt, moet hy aanvaar dat die ander ook so mag voel en dink (1 Korintiërs 10:23-33). Elkeen moet altyd daarteen waak om op sektariese wyse te dink dat hy alleen die Heilige Gees besit en dat hy alleen die vermoë besit om die Skrif te ver­staan en reg te verklaar. Hierin moet ons mekaar in liefde dra, on­dersteun en bearbei, want dit is voorwaar nooit maklik om die eie-ek te kruisig nie. Hierdie eie-ek­isme, wat my dwing om ten alle tye my eie standpunt en siening deur te dryf, maak my sektaries en van die Gereformeerde Kerk(e) 'n sekte. Daar kom selfs gevalle voor waarin 'n individu of minderheid wel reg is, maar dat die tyd nog nie aange­breek het dat die waarheid wat hulle raaksien en bepleit, algemene er­kenning sal ontvang nie. Volgens die raadsplan van God het elke ding sy bepaalde tyd, en is daar ook 'n tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat (Prediker 3, veral vs. 7). Ook hierin moet ek bid om die leiding van die Heilige Gees.

Dienende Getuienis🔗

Volgens bloot menslike en wêreldse maatstawwe is die Gereformeerde Kerke 'n baie klein geloofsgemeen­skappie. Dit maak die gevare van geestelike inteelt en eiegeregtigheid (eintlik sektarisme) des te groter. Maar dit is ook op sigself 'n bate en talent, wat alleen tot sy reg kan kom as ons met liefde en geduld luister na diegene wat wettige besware het, deur appèl of beswaarskrif. Alleen só kan ons steeds-reformerend Ge­reformeerd bly. In die veertiger jare het ds. J. V. Coetzee op Vryburg op 'n klassisvergadering gesê dat juis ons kleinheid ons roep om modelkerk te wees. Dit beteken nie om volmaak en daarop hoogmoedig te wees nie, maar om dienend te getuig tot voorbeeld van ander, ter ere van God en ter bevordering van die koms van sy koninkryk.

Met Gereformeerde ordening van appèl, beswaarskrif en konformasie kan Gereformeerde Kerke, deur die genade van God, 'n Skriftuurlike pad aandui vir die oplossing van bin­ne-kerklike verskille en geskille.