Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

J.S Bach (1685 - 1750)

Bach

Drie groot komponiste van die Westerse musiekkultuur, J. S. Bach, G. F. Händel en D. Scarlatti, is vanjaar presies 300 jaar gelede gebore. Verder is die belangrike komponis van Lutherse kerkmusiek, Heinrich Schütz, in 1585 gebore. Die Europese Parlement het hierdie feite van soveel belang geag dat hulle 1985 as Europese Musiekjaar geproklameer het. In reaksie hierop is tientalle gedenk- en huldigingskonserte in Europa en ook oor die hele wêreld gehou en het net soveel artikels wêreldwyd in tydskrifte verskyn. Hierdie artikel oor Bach staan in die teken van die internasionale huldiging van vier grootmeesters van die toonkuns.

Johann Sebastian Bach is op 21 Maart 1685 in Eisenach gebore as die jongste seun van die hofmusikus Ambrosius Bach. In die geslagsregister van die Bachs word hy aangegee as die twee-en-dertigste van vier-en-vyftig lede van hierdie geslag wat gedurende meer as twee eeue die belangrikste betrekkings in die musieklewe van die Middel-Duitse provinsie Turinge beman het. Dit was dus eintlik 'n vanselfsprekendheid dat hy dieselfde professie sou kies as sy vader, broers, neefs, ooms en grootvaders.

Sy eerste betrekkings was dan ook die van orrelis in die Turingse kleinstede Arnstadt, Mühlhausen en Weimar. Daarna was hy vir 'n aantal jare hofkonsertmeester in Weimar en kapelmeester in Cöthen, waarna hy in 1723 kantor geword het van die Thomaskerk in Leipzig, waar hy tot met sy dood in 1750 gebly het.

Baie Produktief in Kerkmusiek🔗

Dit was destyds gebruiklik dat 'n musikus as uitvoerende kunstenaar in 'n betrekking benoem is, maar verder was hy ook verantwoordelik vir die komposisie van die musiek wat uitgevoer moes word. Hy het 'n verskeidenheid betrekkings beklee en dit het gelei tot sy buitengewoon omvangryke oeuvre van by die 1100 (behoue) werke. Dit sluit al die gangbare werkstipes van sy tyd in, behalwe opera. Van besondere betekenis is veral die geweldige hoeveelheid kerkmusiek – of musiek wat doelbewus gekomponeer is vir gebruik gedurende die Lutherse erediens.

Van hierdie kerkmusiek is die kantates, passies en koraalvoorspele vir orrel sekerlik die belangrikste. Van kantates het hy vyf volledige jaargange voltooi — dit is vyf verskillende kantates vir elke dag van die sogenaamde "kerkjaar", wat onder andere die vier Advent-Sondae, die drie Kersdae, Nuwejaarsdag (oorspronklik die dag waarop die besnydenis van Jesus herdenk is), Driekoningefees, die Lydensweke en Paasfees insluit. Van die ongeveer 350 kantates wat hy dus gekomponeer het, het egter slegs ± 200 behoue gebly. Benewens die volledige Mattheüs- en Johannes-passie bestaan daar nog enkele dele van 'n Markus-passie. Van die waarskynlik meer as 250 koraalvoorspele het ongeveer 170 bewaar gebly.

Teksbetekenis en Musiek🔗

In die werk van geen ander komponis van kerkmusiek is die teksbetekenis van die musiek so innig met mekaar verweef as in die genoemde drie groepe werke van J. S. Bach nie. In sy toonsetting van die tekste het Bach die betekenis daarvan feitlik in musiek vertaal, en hierdie vertaling bowendien nog aangevul met 'n musikaalsimboliese voorstelling en verduideliking daarvan.

Die vertaling: Die musiek-estetiese teorie van die Bachtyd het van 'n komponis verwag om menslike gevoelens en gemoedservarings (affekte), soos dit in die tekste gesuggereer is, so in die toonsetting na te boots dat dit ook weer in die luisteraar opgewek sal word. In aansluiting by hierdie teorie het Bach in sy musiek nie net nageboots nie, maar daarin geslaag om die musikale ekwivalent van 'n bepaalde begrip te vind. In die proses het hy die verskillende komposisiemiddele (melodie, harmonie, kontrapunt, ritme, toonkleur) op 'n hoogs oorspronklike en dikwels van die gangbare komposisiereëls afwykende manier gebruik om sy doel te bereik. Die resultaat was egter steeds musikaal oortuigend en van 'n uitnemende artistieke gehalte.

klavier viool

Bach se musikaal-simboliese verduideliking van die teksbetekenis het op drie maniere geskied. Die aanskoulike voorstelling van gebeurtenisse, styging, daling, dag en nag, verskeuring, navolging of van groot tonele, soos die optog van die konings in Kantate no. 65, kruisiging en begrafnis in die Passies, die grootse visioen van die omnes generationes (alle geslagte) in die Magnificat.

Hy het dikwels gedagtes wat met die teks verband hou, maar nie eksplisiet in die teks voorkom nie, veral met behulp van koraalsitate in die instrumentale begeleidings van die teks tot uitdrukking gebring. In die eerste deel van die Kantate no. 77 lui die teks: "Jy moet God, jou Here, liefhê", terwyl die begeleiding hiervan gebaseer is op motiewe van die koraalmelodie vir die beryming van die Tien Gebooie. Hierdeur eksegetiseer hy as 't ware die teks deur te herinner aan die verband tussen die liefde vir God en die Gebooie (kyk Mattheüs 22:37-40). In hierdie spesifieke geval word die verklaring van die teks nog verder verdiep deurdat Bach die begeleiding in die vorm van 'n kanoniese weefsel giet, waardeur die gedagte van "navolging" en van "gehoorsaamheid" op die voorgrond tree. (Bach het meermale die kanoniese of fugale skryfwyse met hierdie gedagte verbind.)

Daar lê in Bach se kerkmusiek 'n oorvloed van geheime getalsverbande verborge. Van talle voorbeelde volstaan ons met die volgende paar:

  • Drie-eenheid word soms met 'n drie-stemmige komposisie gesimboliseer (elke stem is volledig selfstandig, elk met 'n eie "persoonlikheid", en tog vorm hulle 'n skone, harmonieuse geheel);

  • 7 (melodienote, mate) word dikwels gebruik vir Skepper en skepping, of vir aanvang en einde;

  • 11 dissipels – 11 aantredes met die vraag: "Is dit miskien ek, Here?" (Mattheüs-passie);

  • 12 word vir kerk, apostels of gemeente gebruik;

  • aan die einde van die fuga op die woorde Patrem omnipotentem (Almagtige Vader) het Bach die betekenisvolle getal mate (84, of 7 x 12) self genoteer.

Neem mens dit alles in ag dan verstaan jy die volgende uitspraak: "Die Mattheüs-passie is die beste preek wat ek ooit oor die Evangelie volgens Mattheüs gehoor het". Dieselfde kan van baie van die kantates gesê word, omdat die teks van 'n kantate eintlik 'n kort preek is en Bach se toonsetting daarvan meestal diepsinniger betekenisse blootlê as wat die woorde alleen kan dra. Om egter die volle rykdom van so 'n werk te ervaar, is 'n gekonsentreerde beluistering van die musiek, voorafgegaan deur 'n grondige studie van die partituur (woorde) nodig.

Gegroei in Statuur🔗

Vanaf die vroeë negentiende eeu het die unieke artistieke kwaliteite van Bach se musiek geleidelik erkenning begin geniet. Dit het mettertyd 'n enorme invloed op die hele Europese musieklewe tot vandag uitgeoefen. Die totale ontwikkeling van die Westerse musiekkultuur tot met die Barok trek in sy musiek saam en word daarin tot 'n hoër vlak verhef as by enige komponis voor of na hom. Terselfdertyd open dit die poorte na die musiek van 'n nuwe eeu en word dit selfs een van die belangrikste voorwaardes vir hierdie jonger era.