Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Palliatiewe Sorg

sieke

Die Christen-dokter en -verpleegster het binne die postmoderne wêreld van vandag 'n pragtige versorgingstaak gekry, wat die eer aan God wil gee deur die sterwende pasiënt optimaal te versorg. Daarin kan ons verskeie tegniese en menslike hulpbronne gebruik wat die HERE vir ons gee. Ons mag verder bely dat God die kwaliteit van lewe bepaal en die uur van sterwe.

Die Doel van Palliatiewe Sorg🔗

Die versorging van sterwendes staan vandag bekend as palliatiewe sorg. Dit is 'n term wat kom van die Latynse woord pallium. Dit beteken 'n kleed of 'n skild. Dit is dus die bedekking en beskerming van die sterwende pasiënt. Versorging wat as 'n skild dien om die sterwende pasiënt te beskerm teen die simptome van die sterwensproses. Palliatiewe sorg wil dus die simptome van pyn, angs en die staking van liggaamsfunksies soos o.a. urinering beheer.

Die sterwende het op sy sterfbed 'n profetiese, priesterlike en koninklike taak. Dit is dan ook die doel van palliatiewe sorg om dit sover moontlik vir die sterwende pasiënt moontlik te maak om hierdie taak te kan uitvoer. Sodat die sterwende pasiënt ook op sy sterfbed sy God kan dien.1

Die basis van palliatiewe sorg lê daarin dat die genade van die HERE vir ons genoeg is, ook op ons sterfbed. Al die hulpmiddele t.o.v. tegniese en menslike hulpbronne is deur God se genade moontlik.

My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.2

Ja, Jesaja het reeds gepraat van Christus wat ons benoudhede gedra het.

In al hulle benoudhede was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos.3

Dit is net God wat ons rustig kan maak en die kommer kan verjaag. Ja, Hy leer ons om op Hom alleen te vertrou. Hy wat beloof het is getrou.

Palliatiewe Sorg is 'n Priesterlike Taak🔗

Palliatiewe sorg is vir die versorger deel van sy priesterlike taak.

Almal van ons word een of ander tyd geroep om 'n sterwende familielid by te staan en te help versorg. Dit beteken eerstens om naby die sterwende te wees. Om nie van hierdie taak weg te loop nie. Saam met die versorging van kundiges is dit belangrik dat die familie nie die pasiënt moet isoleer nie. Ons moet die pasiënt wil help, ook al kan ons oënskynlik niks uitrig nie.

Hierdie priesterlike taak behels:

  • Biomediese versorging

  • Geestelike versorging

  • Huislike versorging

Biomediese Versorging🔗

Die versorgers van sterwendes het op biomediese gebied 'n geweldige taak. Die uitvoering van hierdie taak is slegs moontlik gemaak deur die verlossingswerk van Jesus Christus. Hy het die volle beker van lyding gedra toe Hy gekruisig is en gesterf het. God het hom verlaat en die toorn wat teen ons moes ontvlam was op Hom. So het Christus dit moontlik gemaak dat ons agter Hom aan kan gaan. In ons sterwe volg ons dus ons Heer. Hy het die palliatiewe sorg ontbeer sodat dit vir ons moontlik sou kon wees.

Hierdie taak beteken konkreet dat die versorger goeie biomediese kennis en vaardighede sal leer bemeester en uitbou om die pasiënt optimaal te versorg. Die versorger moet byvoorbeeld goed op hoogte wees van die beste middele en dosisse om pyn te bestry. Daar is dikwels onder versorgers baie misverstande en onkunde oor die gebruik van pynmedikasie soos bv. morfien. Dit is die versorger se taak om hierdie middel goed te ken. Dit verg kennis en praktiese ervaring om die beste balans tussen pynverligting en mobiliteit te verkry in die gebruik van 'n middel soos morfien.

pille

Ander biomediese aspekte in die palliatiewe sorg, wat vir die versorger belangrik is in die uitvoer van sy taak, is o.a.:

  • Bv. vaardighede om die tegniese hulpmiddele soos die "syringe drive" te kan gebruik om pynverdowende medikasie toe te dien,

  • die newe-effekte van middels te ken,

  • simptome soos naarheid en braking, spierpyne, droë mond, hardlywigheid en lomerigheid voldoende te kan bestry.

Verskeie boeke is geskryf oor hierdie aspekte van die versorging van die sterwende, soos onder andere die boekie van prof Alberts, "Kennis klop kanker", wat baie nuttige inligting gee oor die basiese versorging van sterwende pasiënte. Verder is daar internasionale wetenskaplike tydskrifte oor palliatiewe sorg, soos die "European Journal of Palliative Care", wat die nuutste ontwikkelinge en navorsing op die gebied publiseer.

Geestelike Versorging🔗

Palliatiewe sorg wil nie alleen die biomediese aspekte behandel en versorg nie. Palliatiewe sorg wil ook omsien na die geestelike nood van die sterwende. Dokters en verpleegsters kan saam met die pasiënt of vir die pasiënt uit die Bybel voorlees. Dink maar aan psalm 23 en 42. Ook die eenvoudige gebed met die pasiënt, om te bid vir seën van die behandeling, ja selfs vir die klein dingetjies wat in die versorging belangrik is, werk bevrydend en verlig angs en kommer.

Al gaan ek ook deur 'n dal van doodskaduwee, U is met my.4

Saam met die pasiënt mag die versorgers wys op die geloof wat uitstyg bo die subjektiewe ervaring van pyn en lyding.

Want ek weet dat die lyding van die teenwoordige tyd, nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.5

Dit is 'n konkrete belofte van ons Verbonds­god. Dit het ook konkrete betekenis vir die palliatiewe sorg. Soos ons geleef het uit die beloftes van die HERE toe ons nog gesond was, so mag ons ook daaruit lewe noudat ons sterwend is.

Die vraag kom dikwels na vore of versorgers oor die geloof moet praat met die pasiënt. 'n Bekende outeur oor sterwensbegeleiding, Kubler-Ross, vertel dat sy toe sy met haar werk met sterwendes begin het, nie in God en in 'n lewe na die dood geglo het nie. Deur haar werk met sterwendes het sy baie meer godsdienstig geword en glo nou vas aan 'n lewe na die dood. Dit is duidelik dat veral in ons gesekulariseerde wêreld, sterwendes graag oor die geloof wil praat.

'n Bekende postmoderne etikus in Nederland, Kuitert, beweer dat mens nie sterwende mense met die boodskap van die evangelie moet lastig val nie. Dit is volgens hom 'n gebrek aan respek vir die medemens. Hierdie visie oor die neutrale klinies wetenskaplike omgaan met sterwendes het baie invloed in ons wêreld vandag. Selfs huise vir sterwendes (hospices) in Nederland met 'n dui­delik christelike agtergrond deel hierdie mening.

Dit is natuurlik nie so dat ons die evangelie aan mense moet opdring nie, maar dit beteken nie dat ons ons mond hou oor die hoop van Jesus Christus wat in ons is nie. Ja, selfs teenoor ongelowiges kan ons dit bely. Liefde vir ons naaste hou in dat ons ook bekommerd is oor sy saligheid. 'n Goeie dood sterwe (soos die term eutanasie oorspronklik na verwys) is om in volledige oorgawe aan Jesus Christus, ons Goeie Herder, te sterwe.

Huislike Versorging🔗

Die pasiënt is deel van 'n huisgesin. Daarom is die ideale plek vir palliatiewe sorg by die huis as dit moontlik is. Hier is die sterwende tog nog deel van die aktiwiteite van die huis soos die huisgodsdiens, gesamentlike gebed, sing van psalms ens.

tuissorg

Die sterwende hoor hoe die kinders en miskien kleinkinders skool toe gaan, werk toe gaan of in die kombuis besig is. Dit tel hom of haar uit bo die gedagtes wat dikwels om sy of haar eie behoeftes sentreer. Dit mag selfs blydskap gee om te sien dat die werk van die HERE voortgaan by die kinders en kleinkinders. Hulle is besig in diens van die HERE. So kan die sterwende ook baie beteken vir die mense om hom of haar in die huis. 'n Belangstellende, stimulerende en onderwysende woord aan die kleinkinders kan baie vir hulle beteken. Ook as ons gaan lê bly die onderwysende taak daar, ook as ons op ons sterfbed gaan lê.6

Verder kan die pasiënt geniet van die tuin indien moontlik of uitsig uit sy kamervenster. So kan hy/sy ook sien dat God trou is aan sy beloftes. Hy onderhou die skepping, die blou lug, die verandering van die seisoene, die voëls op die vensterbank ens. God is aan die werk. Dit werk bevrydend.

Pasiënte kan tuis goed versorg word deur verpleegsters wat bv. daagliks op besoek kom. Soms mag kort periodes nodig wees vir hospitalisasie. Naby die sterwe kan 'n verpleegster permanent die familie help en ondersteun.

Soms kan die pasiënt egter weens sy eie siekte of omstandighede nie by die huis wees op sy sterfbed nie. Dikwels geskied die laaste versorging in 'n hospitaal of hospies.

'n Hospies is dikwels so na as moontlik aan die tuissituasie ingerig. Die woord hospies, tehuis, gastehuis of in Engels "hospice" kom van 'n Latynse woord wat beteken gas (hospes) of vriendelikheid teenoor 'n vreemdeling (hospitalis). Hiervan kom ook die hedendaagse woorde hospitaal, hostel en hotel. Ook in die hospitaal of hospies is dit belangrik dat die versorgers die pasiënt sien as deel van 'n gesin.

Veral in Engeland is daar baie werk gedoen op die gebied van palliatiewe sorg. Daar is 'n sterk hospiesbeweging. Dit is nie 'n nuwe ding nie. Van die vroegste eeue na Christus het die christene reeds begin om hospiese en hospitale op te rig vir sterwende pasiënte. Hierdie werk was gebaseer op die bevel van Christus:

Sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.7

In die Hippokratiese tradisie van daardie tyd het die dokters nie sterwende pasiënte behandel nie. Dit is as oneties beskou omdat die dokter die gevaar sou loop om met die natuur en die gode gekonfronteer te word as hy sou inmeng met die sterwensproses.

Die taak in die palliatiewe sorg betrek ook ander vakterreine soos predikante, sosiale werkers, tandartse, ander spesialiste en veral ook vrywilligers.

Ook na die dood van die pasiënt is dit die taak van palliatiewe sorg om die familie by te staan in die fases van rou.

Drie Vlakke van Versorging in Palliatiewe Sorg🔗

Dr Z Zylicz, onkoloog van die Rozenheuvel Hospies in Nederland, het drie vlakke van versorging geïdentifiseer soos toegepas in palliatiewe sorg.

  • Vlak een beskou hy as die voorkoming van verdere verliese indien moontlik. Bv., 'n pianis sou graag ook in sy terminale fase van siekte sover moontlik nog klavier wou speel. Dit beteken dat die versorging fokus om dit te probeer behou. Sy dosis van morfien sal daarom so aangepas word dat hy nog genoeg mobiliteit het om klavier te kan speel. As christene kan ons hierdie vlak so verstaan dat ons sover moontlik die pasiënt in staat stel om met sy gawes die Here te kan dien.

  • Die tweede vlak is die beheer van simptome soos pyn, angs en depressie.

  • Die derde vlak wat Zylics identifiseer is die geestelike versorging. Volgens hom slaag die versorging op vlak een en twee dikwels nie omdat vlak drie oor die hoof gesien word. Dit moet integraal saam met die ander twee vlakke aangespreek word. Algemene praktisyns versorg dikwels net op vlak twee. Om sonder pyn te wees is egter nie die eindpunt nie.

voëltjie🔗

Die Profetiese Karakter van Palliatiewe Sorg🔗

Palliatiewe sorg het 'n profetiese karakter. Te midde van 'n wêreld wat outonoom wil beskik oor die lewe en die dood, mag ons bely dat God die uur van ons sterwe weet en dat ons die middele van God mag inspan sodat die sterwende pasiënt soveel moontlik tot op die sterwensuur sy God kan dien.

In Suid-Afrika is palliatiewe sorg geweldig aktueel. Die groot hoeveelhede terminaal siek Vigspasiënte is steeds aan die toeneem. Christene sal teenoor 'n postmoderne samelewing waar eutanasie as oplossing gesien word, die priesterlike en profetiese taak moet opneem om ook hierdie terminale pasiënte te versorg.

Endnotes🔗

  1. ^ (NGB art. 12)
  2. ^ 2 Korinthiërs 12:9
  3. ^ Jesaja 63:9
  4. ^ Psalm 23     
  5. ^  Psalm 23:4
  6. ^ Deuteronomium 6:7
  7. ^ Mattheus 25:40