Die Metafoor en die Bybel
Die Metafoor en die Bybel
ʼn Metafoor is die vergelyking van iets met iets soortgelyk, sonder om te sê dat dit ʼn vergelyking is. Iemand sal byvoorbeeld sê dat “die geitjie al weer gebel het”. Daarmee bedoel hy dan dat die vrou wat net soos ʼn geitjie optree, al weer gebel het. Met ʼn metafoor verwys ons dus na iets werkliks sonder om dit so eksplisiet ʼn werklikheid te noem. Dit is ʼn handige en kleurvolle stylfiguur waarmee ʼn mens die taal verryk. Ongelukkig kan die metafoor ook misbruik word.
In die dokter se spreekkamer tel ek die vorige jaar se Oktober uitgawe van die New Age tydskrif “Namasté” op om daarin te blaai en daar pryk ʼn artikel: “Metaphors for a Creative Spirituality”. Die skrywer trek daarin verskillende godsdienste se simbole, soos die spiraal, lotusblom, die roosknop wat oopgaan en die doolhof, byeen as geestelike sinonieme. Hy sien in die verskillende simbole een uniforme geestelike sentrum wat alle godsdienste met mekaar deel en dit is die bereiking van geestelike volwassenheid via die vernietiging van die eie ego. Hy gebruik ook die apokriewe en gnostiese Evangelie van Thomas en sê:
Die stelselmatige verdwyning van die ego … en die ontplooiing van die Self, is die onderwerp in verskeie van die logiae (uitsprake) van die Evangelie. In logion 7 sê Jesus: geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal ʼn mens word, vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal ʼn mens word.
Die onderwerp van die heel enigmatiese logion … is niks anders nie as die triomf oor die eie ego. ʼn Onoorwonne en ongetemde ego is inderdaad in staat om die lewe van ʼn mens te verorber. Logion 48 maak die saak nog duideliker:
As die twee vrede maak in die huis, sal hulle in staat wees om vir die berg te sê ‘verwyder jou van hier’ en hy sal gehoorsaam.…
In Logion 98 sê Jesus:
Die Koninkryk van die Vader is soos ʼn vrou wat ʼn emmer vol meel op haar skouers dra. Op pad na haar huis toe breek die handvatsel af en die meel sif uit die emmer; maar sy het dit nie agtergekom nie. Toe sy by die huis kom, sit sy die emmer op die grond neer en merk vir die eerste maal dat die emmer leeg was; en sy was verheug.
In logion 13 maak Jesus dit duidelik dat hierdie:
Koninkryk van die Vader nie bloot ʼn belofte is van die lewe hierna nie, maar iets wat werklik en bruikbaar is vir hier en nou, ʼn manier van kyk na die wêreld om jou. Die Koninkryk van die Vader is jou sentrum en alles om jou. Dit is inderdaad die Koninkryk van die hemel wat kinders reeds het en waarin volwassenes kan tree as hulle ‘soos kinders' word.
Vir die skrywer is hierdie Koninkryk van die Vader, waarvan hy praat, vergelykbaar met die verligting in die leer van die Buddisme, waar die totale eenheid in en van die skepping raakgesien word eerder as die eie belange. Hy koppel dan ʼn uitspraak van Jesus uit die Bybel hiermee:
…dit gooi meer lig op Jesus se opmerking (volgens Lukas) dat; Die Koninkryk van God is in julle. Sedert die vierde eeu was die manier van kyk na die lewe en skepping verwerp deur die ‘literaliste’ en ‘ortodokses’ van die vroeë kerk – wat die politieke stryd gewen het om die siel van die kerk, en nadat die Romeinse Keiser, Konstantyn, bekeer was. Die Evangelie van Thomas, saam met ander gnostiese tekste, was gevolglik verban en gnostiese gelowiges verban as ‘dwaalleraars’. ‘Gnostiese Christendom’ (van gnosis wat werklike kennis beteken) is eers onlangs herontdek en waardeer.
Wat sê die skrywer dus vir ons? Hy reken dat die Evangelie van Thomas, die Bybel, die Buddistiese leer en die insigte van alle godsdienste metafore is wat na dieselfde waarhede wys. Hulle is, om self ʼn metafoor te gebruik, verkykers van verskillende make wat na dieselfde maan kyk. Die “verkykers” (godsdienstige inligting) is sekondêr, die “maan” (God self) is ook, dit is die lig in ons wat bepalend is, wat die werklikheid “raak”-sien. Verder is die “waarheid” verdoesel deur magsugtige Christene, soos ons gereformeerdes!, wat die Bybel letterlik interpreteer en net vashou aan eie leerstellinge.
Die skrywer is eerlik deur te erken dat die Evangelie van Thomas “gnosties” is, d.w.s. hy onderskei dit in karakter van die Evangelies van die Bybel. Dit is presies waarom ons deur die getuienis van die Heilige Gees die Bybel onderskei van alle ander geskrifte en menslike leerstellinge. Die Bybel en die gereformeerde Christelike geloof is geen metafoor nie! Dit nie ʼn doolhof, ʼn lotus of ʼn spiraal nie. Dit is nie ʼn vergelyking van die waarheid nie. Dit is die waarheid, die openbaring van God, nie wat deur ons harte verlig word nie, maar waardeur ons verduisterde harte verlig word! Dit vertel, heel anders as die Evangelie van Thomas (wat die waarheid in die self soek) dat die waarheid en die kennis (gnosis) bo en buite ons is. Dit is op aarde in sy volheid geopenbaar in Christus die Seun van God, ʼn liefdevolle en regverdige Jesus, wat nie soos Thomas se Jesus van ʼn sondaar verwag om homself te help en eiehandig na waarheid te tas nie.
Hy is die Een wat die hemele vir ons oopskeur. Hy word verskeur deur die leeu in die mens, Hy word gekruisig en verwerp, sodat ons moet erken dat daar in ons niks goeds woon nie. Maar Hy verskeur ook die leeu, deur die dood te oorwin, sodat ons kan leef. Hy vertel van Gods liefde en trou aan verduisterde sondaarmense. Dit is Hy wat my bereik en nie ek wat Hom bereik nie. Thomas is ’n doolhof; Jesus is die Weg, die waarheid en die lewe.
Opvallend hoe bekend Thomas met die Evangelies van die NT se inhoude is, maar dit anders gebruik … dit verdraai. Die “soos kinders”, die “sê vir die berg” en die “Koninkryk” is by Thomas bekend uit die NT. Dit is egter dinge wat alle mense inherent het. Jesus sê egter in die NT dat die Koninkryk buite ons is en nie sonder geloof en bekering bereik kan word nie:
22. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
23. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see – en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur – hy sal verkry net wat hy sê.
14. EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig
15. en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
Wanneer Jesus in Luk 17:20-21, waarna die skrywer verwys, sê:
20. EN toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.
21. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Praat Hy nie met “ons” as huidige lesers nie, maar met die ongelowige Fariseërs wat na tekens soek terwyl Hy reg tussen hulle staan! Die uitdrukking “in julle” kan ook vertaal word met “tussen julle”. Die woordkeuse “in julle” word deur Lukas gebruik in kontras met die woorde “sigbare tekens” en “kyk hier of kyk daar” in die vorige sin. Jesus verwys na Homself as die Koninkryk tussen hulle, terwyl hulle Hom nie “sien vir wie Hy is” nie (vgl. Jesaja 53). Hy bedoel sekerlik nie dat die ongelowige Fariseërs reeds die Koninkryk in hulle het nie! Net in die vorige hoofstuk sê Hy:
13. Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
14. En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom beskimp.
15. En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.