Nabetragting oor die 20ste eeu
Nabetragting oor die 20ste eeu
In die afgelope tyd het verskeie publikasies die lig gesien waarin op een of ander manier nabetragting gehou word oor die 20ste eeu. Daar is glansryke foto-publikasies en geskiedenisboeke, daar is politieke kommentare en dan ook pogings om die laat-twintigste-eeuse Afrikaner in 'n soort filosofies-etiese weegskaal te plaas. Oor laasgenoemde is die koerante die afgelope weke deur kwaai boeties aan die brand geskryf.
Wat veral opvallend is, is dat die Afrikanerdebat keer op keer uitloop op 'n aanklag teen die kerk. Dat by nabetragting oor die twintigste-eeuse Afrikaner die kerk so herhaaldelik in die prentjie kom, moet beslis positief gesien word. Dit sê dat die deursnee-Afrikaner, hoewel onvolmaak en vol gebreke, ten minste kerklik betrokke is.
Nie is nie, maar was, sou baie doemprofete sê. Die tyd toe Afrikaners met die kerk geassosieer het, is verby. Met ander woorde: die einde van die twintigste eeu was die begin van die einde van die Afrikaanse kerke. Net soos jong Afrikaners van die 21ste eeu niks meer met hulle eie volk te doen wil hê nie, wil hulle ook niks meer met die kerk te doen hê nie. Hierdie bewering hoor 'n mens tydig en ontydig opduik.
Ek is egter daarvan oortuig dat dié stelling niks meer as 'n bewering is nie. Dit is 'n bewering wat op 'n aanname berus, gevorm vanuit onvolledige statistieke. Natuurlik is daar jongmense wat teen volk en kerk gekant is, en waarskynlik baie van hulle. Soos daar maar altyd was.
Maar daar is ook jongmense wat anders dink. Daar is, deur die genade van die Here, duisende jongmense wat baie, baie ernstig is oor hulle Christelike geloof en die diens van die Here. Sulke jongmense is ook oor die kerk ernstig. Trouens, hulle is deel van die kerk.
Natuurlik berus so 'n stelling ook op onvolledige statistieke. Maar dit berus ook op 'n baie belangrike beginsel, wat die Here vir ons self in sy Woord gegee het. Dit is naamlik die beginsel dat God self sy kerk deur die eeue heen vergader, versorg en beskerm. Dit is immers sy kerk, soos die naam "kerk" ook aandui ("wat aan die Here behoort"). In sy welbehae voeg God by sy kerk hulle wat Hy daartoe uitverkies.
Aan God se uitverkiesing kan geen mens iets verander nie. Nie die owerhede nie, nie die kerk nie, ook nie die doemprofete nie, al probeer hulle ook hoe hard.
Natuurlik is dit so dat ons nie in God se uitverkiesing kan insien nie en dat ons daarom die evangelie aan alle mense moet bring (Dordtse Leerreëls 3,4:9). Dit is egter nie nou die punt van bespreking nie. In die vraag na die voortbestaan van die kerk is dit belangrik om te onthou dat dié wat God uitverkies het, nie verlore sal gaan nie. Hy laat vaar nooit die werk van sy hande nie. Hulle almal, en net hulle, sál Hy by sy kerk voeg.
Ons weet ook dat daar onkruid tussen die koring is (Matteus 13:30). Maar hulle was in die 20ste eeu ook maar daar gewees. Daarom is die uiteindelike getalle in die kerk nie van deurslaggewende belang nie. Want uiteindelik gaan dit oor 'n saak wat vir ons verborge is: dit gaan oor die ware gelowiges, hulle wat werklik in die geloof op die rots van die geloof gebou is.
Oor die toekoms van die kerk durf ons dus nie neerslagtig of negatief raak nie. Of doemprofesieë daaroor uitspreek nie. Want die toekoms van die kerk is – genadiglik – nie in die hande van mense nie. En wat sy kerk betref, sê Hy self: "Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie" (Matteus 16:18). Hou jy maar net "vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie" (Openbaring 3:11). Daarom: "Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou" (Hebreërs 10:23).
Hierdie woorde het gegeld vir die kerk van die twintigste eeu. Dit bly egter ook geld vir die kerk van die 21ste eeu. Dit bly geld vir die kerk in Afrikanergeledere, én vir die kerk in die geledere van elke ander volk.
En, wanneer ons aan die einde van die tyd by wyse van nabetragting oor die kerkgeskiedenis sou kon terugkyk, sal ons moet sê: Dit was waar van die kerk orals en altyd, soos die Here vir Hom uit alle volke, tale en nasies geroep het, reg deur alle eeue. Aan God alleen die eer!