Die doop as teken van ontmagtiging
Die doop as teken van ontmagtiging
In Titus 2:11 - 12 staan daar die volgende: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenwoordige wêreld te lewe”. En in Titus 3: 3-7: “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewens in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en Sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van Sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas (die bad van die wedergeboorte – OAV) en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. Só is ons dan deur Sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag”.
Van nature is die sondige mens ‘n manipuleerder. Dink maar aan die magshouding van klein kindertjies. Van kleins af ken die mens die kuns hoe om ander mense se ingesteldheid teenoor hom/haarself te bepaal. Indien ‘n kind lus is vir aandag en iemand naby wil hê, is hy vriendelik, oulik en fraai. Daarmee trek hy ‘n ander persoon aan en ervaar nabyheid. Dit is die magshouding wat eie is aan die gevalle mens. Wie bepaal die ingesteldheid van ander mense teenoor myself? Ek doen dit self!
Hierdie magshouding handhaaf die mens ook teenoor God. Die mens dink hy is bemagtig om God nader te trek of weg te stoot en Sy ingesteldheid te bepaal. Die bemagtigde mens reken dat hy God nadertrek deur oulik en fraai te wees. Wanneer die méns besluit om die Here aan te neem, neem Hy die mens aan. Die teenoorgestelde is net so waar. Wanneer die mens negatief is teenoor God en besluit om Hom nie te kies nie, is Hy ver, afsydig en toornig.
Die evangelie verbreek hierdie magshouding by die mens. In die evangelie maak God Homself die Persoon wat die mens se ingesteldheid bepaal en bewerk. God die Vader stort die Heilige Gees oorvloedig op ons uit deur Jesus Christus. Hy verbind Homself om die Een te wees wat sondaarmense daagliks innerlik nuut naam. Dit is die verrassende wending wat die evangelie bring. Wíé sorg dat die mens se ingesteldheid teenoor God rég is? Gód sorg self daarvoor! Sy genade veroorsaak dat die mens sy goddelose ingesteldheid laat vaar (Tit 2:12). Die genade is ‘n aktief-werkende heerskappy wat die mens van sonde bevry. Die uitstorting van die Gees doen dit. Hierdeur verbreek Hy die mens se gewaande magshouding waardeur hy God se ingesteldheid wil bepaal. God sluit die mens gewoon net by Sy barmhartigheid as Vader in – slegs op grond van Sy eie ontferming! God betrek nie die mens by Sy liefde op grond van die méns se ingesteldheid nie, maar slégs op grond van Sy eie ontfermende besluit. Tewens, juis ten spyte van die mens se positiwiteit óf negatiwiteit, sluit God hom by Sy barmhartigheid in en sodoende word die mens ontmagtig om God se ingesteldheid te kan bepaal. Deur geen vroom handeling – nie gebede, sondebelydenis of bekerings – kan die mens die Here se ingesteldheid bepaal nie. Hý laat die mens in Sy liefde deel – of die mens wil of nie. Dit is die wedergeboorte. Dit is nie die mens wat sy eie innerlike nuutwording bepaal nie. Dit is God wat vrymagtig die mens se ingesteldheid teenoor Hom bepaal en die mens by Homself insluit en Homself die Persoon maak wat die mens verander - dit is die wedergeboorte. Dit doen Hy deur die Gees uit te stort. Christus red deur Sy offer (2:14) – sonder om die mens se instemming te vra. Daardeur skep Hy vrymagtig nuwe gesindhede, gedagtes, gevoelens en gedrag by die mens. Wie kan dieselfde mens bly wanneer God so werk? Nee, die mens kom dan kragdadig tot geloof en bekering. Dit is die ommeswaai wat God se vrye genade by die mens veroorsaak. Eers maak Hy die mens deel van ‘n liefde wat die mens nie eens wil hê of begeer of vra nie en dan begin daardie liefde die mens innerlik vorm en buig. Dit skep nuwe gedagtes, gevoelens en gedrag waaroor die mens nie altyd eens beheer het nie. Dit skep geloof. Die mens word nie nuut vanuit sy eie gewaande bemagtiging nie, maar juis deur ontmagtiging. Dit is die wonder van die evangelie - wat indruis téén die mens se logika. Volgens die menslike logika word die mens innerlik verander vanuit ‘n houding van bemagtiging. Volgens die evangelie word die mens innerlik verander vanuit God se daad van ontmagtiging. Dit is die bad van die wedergeboorte – ‘n term wat in die ou kerk op die doop gedui het.
’n Mens se sig op die manier waarop die evangelie werk, bepaal jou sig op die doop. Dit is wat in Titus 3 gebeur. Die struktuur van die evangelie bepaal die inhoud en werking van die doop. Die doop – as bad van die wedergeboorte – is ‘n teken van die ontmagtiging wat die evangelie bewerkstellig. Met die doop onderstreep God die belofte van die evangelie. Watter belofte? Die belofte dat Hy Hom op só ‘n manier daartoe verbind om die God van die gedoopte te wees dat die gedoopte nie Sý ingesteldheid gaan bepaal deur gedrag, keuses, houdings, bekerings, oorgawes, belydenisse en vroomheid nie. Dit word deur die doop onderstreep. Dit is belangrik om op die struktuur van Titus 3: 3-7 te let. God het ons vrygespreek (v 7) IN ons verslawende sondes (v 3) m.a.w. terwyl ons nog daarmee besig was. Hoe? Slegs op grond van Sy ontferming (v 5) en sonder dat ons enigiets gedoen het (v 5) het Hy ons ingesluit by Sy goedheid en liefde (v 4) deur Sy Gees oorvloedig op ons uit te stort (v 6). Hierdie genadedaad van God skep in ons ‘n nuwe lewe van geloof en bekering (2: 11-12). Só is die doop (die bad) ‘n teken van die ontmagtiging wat die evangelie bewerk. Met die doop sê God as’t ware aan die dopeling: “Ek verbind My aan jou net omdat Ek wil en vanuit My ontferming. Ek maak jou deel van My genade. Jy bepaal nie my aanvaarding van jou deur jou belydenis of oorgawe nie. Ek stort My Gees op jou uit en Ek gaan sodoende jou houding bepaal. Só is Ek jou God.” Só verstaan, is élke doop ‘n kinderdoop – ook die doop van volwassenes – want dit is altyd ‘n teken van ontmagtiging. En waar word hierdie ontmagtiging duideliker sigbaar as dáár waar ‘n baba deur God by Sy genade ingesluit word – slegs op grond van Sy ontferming?
Word die struktuur van die evangelie egter omgedraai, word die doop ‘n teken van bemagtiging. Dan loop dit uit op die sogenaamde “bekeringsdoop”. Dan staan die doop in die lig van: “Ek as mens sal God se ingesteldheid teenoor my bepaal.” Die filosofie ten grondslag van die bekeringsdoop is min of meer die volgende: “God kan nie Homself aan my verbind alvorens ék nie besluit hoe en waar ek Hom in my lewe wil hê nie. Wanneer ek my ingesteldheid teenoor Hom verander en besluit dat ek lus is om Hom as my Verlosser te wil hê, sal Hy naderkom na my toe en my as Sy kind aanneem. Die doop is die teken dat ék Sý ingesteldheid teenoor my verander het – dáárom behoort ek aan Hom.” Dit is die grondslag van die bekeringsdoop – wat die Bybelse struktuur van die evangelie vernietig en ‘n streep deur Titus 3: 4-7 trek.
Dit is egter belangrik dat ‘n mens se doopbeskouïng nie wrywing veroorsaak met die algemene struktuur van die evangelieboodskap nie. Dit is wat gebeur in die geval van die “bekeringsdoop” en die herdoop van persone wat reeds as kinders gedoop is. Die struktuur van die evangelie word dan vernietig. Die oplossing is om die doop te plaas binne die breëre kontoere waarin die Bybel as geheel die heil as “menslike ontmagtiging” verkondig. Dán staan die doop en die struktuur van die evangelie nie meer op gespanne voet nie en word die doop ‘n heerlike waarborg van God se genade in Christus – ‘n waarborg wat die wankelrige mens hélp om in daardie genade te glo.