"... dat Christus meer dissipels maak en doop as Johannes" - Johannes 4:1
"... dat Christus meer dissipels maak en doop as Johannes" - Johannes 4:1
Die waarde van die doop (en nagmaal!) is totaal en al afhanklik van die feit dat ons Here self dit vir ons ingestel het. In die vorige uitgawe het ons reeds gesien hoe hierdie uitgangspunt funksioneer in die Heidelbergse Kategismus se bespreking van die doop (Sondag 26 en 27). Vir die verstaan van die betekenis van die doop (en daarmee ook die belangrikheid daarvan), sal ons moet gaan kyk wanneer Christus die doop ingestel het. Tereg verbind die Kategismus in vr. & antw. 71 (Sondag 26) die belofte van die vergifnis van ons sonde aan die instelling van die doop deur Christus. Die waarde van die belofte word onlosmaaklik verbind aan die Een wat die belofte maak.
Instelling by Johannes die Doper?⤒🔗
Daar word vervolgens na twee tekste verwys waarin die doop dan ingestel word, t.w. Matt. 28:19 en Mark. 16:16. Opmerklik genoeg verwys ‘n noukeurige dogmatikus soos Bavinck ons na Johannes die Doper se doop as instelling van die christelike doop: “Daarom stelde God reeds vóór het openbaar optreden van Jezus door Johannes den waterdoop in” [Geref. Dogmatiek iv, 4’e druk : p. 475]. Enkele paragrawe later bevestig hy hierdie oortuiging soos volg : “De Goddelijke instelling van den doop valt dus reeds bij Johannes, maar Jezus heeft hem, na hem zelf ondergaan te hebben, overgenomen, door zijne jongeren laten bedienen…en in Matth. 28:19 voor alle geloovigen uit alle volken verplichtend gesteld” [GD iv : p. 478]. Bavinck is goed bewus van die doop wat die dissipels van Jesus bedien het naas die doop van Johannes die Doper (Joh. 3:22-23 en 4:1), maar maak geen onderskeid tussen hierdie twee nie : “…maakte Hij tusschen den doop, door zijne jongeren bediend, en dien van Johannes hoegenaamd geen onderscheid” [GD iv : p. 476]. Tussen Johannes se doop en die bediening van die doop ná Christus se opstanding (Matt. 28:19), sien Bavinck ook geen onderskeid nie.
Jesus maak dissipels / leerlinge←⤒🔗
Uit die evangelie van Johannes kry ons egter tog ‘n baie skerp beeld van die begin van die Christelike doop en ook die (belangrike) onderskeid met die doop van Johannes die Doper. Die standpunt van Bavinck word tog weerspreek deur die Skrifgetuienis. In Johannes 4:1 lees ons : “Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes, alhoewel Jesus nie self gedoop het nie, maar sy dissipels-…”. Die dissipels doop hier in onderskeid van Johannes die Doper! Daarvan lees ons reeds in die vorige hoofstuk : “…Hy het daar met hulle vertoef en gedoop. En Johannes was ook besig om te doop in Enon…” [Joh. 3:22-24]. Hierdie doop was ook deur die mense onderskei van die Doper se doop. Die Jode begin selfs kritiese vrae daaroor te vra [Joh. 3:25). Johannes se dissipels wou van die toedrag van sake ‘n verduideliking hê : “Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe” [ Joh. 3:26].
“Hy moet meer word en ek minder”←⤒🔗
Johannes die Doper se antwoord gee vir ons ‘n duidelike aanwysing dat sy doop van dié van Jesus verskil : “Hy moet meer word, maar ek minder” [Joh. 3:30]. Johannes laat sy dissipels sien dat hulle nou nie meer in die eerste plek na hom moet kom nie. Hy is slegs die Bruidegom se vriend [ Joh. 3:29]. Die vriend van die Bruidegom verbly hom as die bruid nou regstreeks na die Bruidegom sal gaan. Die aanvaarding van Jesus se doop beteken dat Hy herken word as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem – dit was immers Johannes se getuienis oor Jesus.
Die Christelike doop beteken in die eerste plek dat ‘n regstreekse verhouding met Jesus van Nasaret bestaan. Die doop van Jesus beteken dat daar ‘n verbintenis met ‘n lewende Persoon bestaan. Die een wat deur Jesus (se dissipels) gedoop is, is hulle wat erken dat Hy wat van bo kom bo almal is. Die doop in Jesus se Naam, is ‘n belydenis dat Hy nie uit die aarde is nie, maar “van bo” [Joh. 3:31-36]. Die (geloofs-)verbintenis met Jesus is ‘n belydenis dat Hy deur God gestuur is. Alle mag is aan Hom gegee [ Joh. 3:35]. Ook die mag om sonde te vergewe. Daarom kan ons weet dat hy wat in die Seun glo, die ewige lewe het; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom [Joh. 3:36]. Die doop in Jesus se Naam maak Hom tot middelpunt van die kerk en koninkryk van God. Sy dissipels dra hierdie kenmerk – hulle glo in Hom en is in sy Naam gedoop. Die doop van Johannes wat oproep tot bekering in afwagting op die koms van die Here self, word deur Jesus vervang wanneer mense tot geloof in Hom kom en sy leerlinge word.