Saam met Hom begrawe deur die doop
Saam met Hom begrawe deur die doop
Waterbad?⤒🔗
Christus beloof deur die doop “dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is”. Dit moet ons vashou as ons belydenis oor wat Christus ons skenk in die doop. Hiermee bevestig ons dan ook van harte wat ons bely in Sondag 26 van die Heidelbergse Kategismus. Die doop in Christus se Naam wil vir jou ‘n vaste versekering wees dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom. Dit is vir elkeen wat gedoop word, ‘n bevestiging van dit wat in die evangelie verkondig word. Ons mag nie dink dat Christus se offer aan die kruis nie vir my is vanweë die grootheid van my sonde of die menige maal wat ek reeds ‘n spesifieke sonde begaan het nie.
In Sondag 26 gebruik die Kategismus die beeld vir hierdie doop asof die doop ‘n waterbad is. Die bedoeling van die Kategismus is duidelik. Dit bring die wegneem van ons sondes deur Jesus se kruisoffer in verband met die water van die doop. En dit moet ook, aangesien die water nie ‘n toevallige teken is nie. Jesus stel ‘n waterdoop in waarmee Hy sy kerk wil bemoediging gee in hulle geloof.
Dit is egter nie vir my duidelik dat die doop met water ‘n “waterbad” is, soos die Kategismus dit noem nie. Deur hierdie beeld te gebruik, wil die Kategismus ons laat verstaan dat die doop ‘n was-seremonie is. Die water vervul volgens die Kategismus ‘n rol as wasmiddel. Dat die Kategismus op hierdie manier na die water verwys, is verstaanbaar in die lig van die rol wat water dikwels speel as reinigingsmiddel. In die wetgewing van Moses is daar meerdere reëlings oor reinigingsgebruike. In Markus 7:3-4 kan ons lees dat die Fariseërs en die Jode nie eet sonder dat hulle nie eers die hande gewas het nie. Gedurig is die seremonie van reiniging herhaal.
Watergraf!←⤒🔗
Opmerklik genoeg is die Christelike doop nie iets soos die was-seremonies wat vir een persoon herhaal word nie (geen weder-doperse geloof nie!). Die doop is ook nie iets wat jy self doen soos met die seremoniële wassery nie. Dit is iets wat jou “aangedoen” word. Die doop word “bedien” (toegedien?). Die doop is nie iets wat jy self doen nie, maar wat jou aangedoen word!
Reeds by Johannes die Doper is dit duidelik dat die doop iets anders as ‘n was-seremonie is. Niemand kom na Johannes by die Jordaan, om gewas te word nie. Hulle wat gedoop word, gaan ‘n watergraf tegemoet. Johannes roep die volk op om hulle te bekeer aangesien die koninkryk van God naby gekom het. Dié wat hulle bekeer, moes heeltemal wegdraai van hulself en alles verwag van die Here self op pad was na sy volk. Om te laat blyk dat hulle heeltemal van hulself afsien, moes hulle dan ‘n watergraf ingaan. Markus laat dan ook in sy evangelie alle klem daarop val dat almal wat deur hom gedoop is in die Jordaanrivier, gedoop is met belydenis van hulle sondes. Hulle sien van hulself af! Hulle sterf ‘n waterdood om alle hoop te stel op die Een wat kom! Die water is geen waterbad nie, maar watergraf! Die een wat gedoop word, word nie gewas nie, maar word laat sak in ‘n watergraf.
Deur die doop begrawe in die dood←⤒🔗
“Weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?” Dit vra die apostel Paulus aan die gelowiges te Rome (Rom 6:3-4). Dit is in hierdie teksgedeelte reeds duidelik dat hierdie verband bestaan tussen die doop van Johannes en die Christelike doop, nl. dat albei dui op ‘n (af)sterwe. ‘n Afsterf van ons self om te leef in Christus. Daarom dat die doop in die Naam van Jesus só belangrik is. Dit is slegs die noem van sy Naam by die doop wat dit ‘n seremonie van hoop maak! Sonder die noem van sy naam, is daar geen vreugde by die doop nie, maar net ‘n geween soos by ‘n graf!
Ook die apostel Petrus bring die doop in verband met ‘n waterdood. Die sondvloed (1 Pet. 3:20-21) was ‘n watergraf vir al die ongelowiges. Net ‘n paar word uit die watergraf gered. Agt siele “word deur water heen gered”. Die teëbeeld van hierdie waterdood waarvan Noag en sy gesinslede gered is, is die doop!! Dit is juis deur die opstanding van Christus dat daar vir ons hoop is (1 Pet. 3:21b!). Die graf kon Hom nie vashou nie; daarom is ons doop nou ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete. Deur geloof in Jesus se Naam, hoef ons nie deur die water te vergaan soos die ongelowiges in die tyd van Noag nie. Ons verdien wel die waterdood, maar Christus se naam word oor ons uitgeroep.
Is dit nie ‘n ryk manier om te bevestig wat ons bely in Sondag 26 nie? In die doop word jy daarop gewys en daarvan verseker dat die enigste offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom! Glo in Hom wat gesterf en opgestaan het en jy sal leef!