Ware Eenheid is 'n Suigkrag na die Kerk
Ware Eenheid is 'n Suigkrag na die Kerk
In die kerke is daar groot bekommernis oor die dalende lidmatetalle. Die vraag wat in almal se gemoed woel, is: Wat moet ons doen om die dalende tendens te stuit?
Die antwoord op hierdie vraag moet ongetwyfeld in meer as een rigting gesoek word. So is die antwoord van meer en meer doelgerigte evangelisasie beslis geldig en uiters belangrik. Deur die evangelie aan buitekerklikes te verkondig, kan daar weer 'n stroom van buite die kerk binnevloei.
Keer die Stroom van Binne die Kerk na Buite⤒🔗
Met evangelisasie word egter aandag gegee aan net een stroom: dié van buite die kerk na binne. Daar is egter 'n ander stroom wat net soveel en selfs meer aandag van die kerke vereis, en dit is die stroom van binne na buite. Ons kan nie bekostig dat lidmate wat die kerk verlaat, 'n stroom word wat momentum kry nie.
Dat daar in ons tyd reeds 'n stroom is van lidmate wat van die kerk vervreem raak, is helaas 'n onbetwisbare feit. Dit is die ervaring van al die Afrikaanse kerke, ook van Gereformeerde kerke, veral in stedelike gebiede.
Wat kommerwekkend is, is dat jongmense deesdae baie makliker as vantevore die kerk verlaat. Daar word selfs gepraat van 'n groeiende buitekerklike Christendom onder die jeug.
Om hierdie tendens die hoof te bied, sal baie wysheid vra. 'n Enkelvoudige antwoord op die probleem is seker nie moontlik nie. Maar wat sekerlik wel van ons gevra word, is dat ons in die proses die hand baie diep in eie boesem sal moet steek.
Tot watter mate lê die oorsaak van die uitstromende jongmense by die kerk self?
Is die Kerk Geloofwaardig by Jongmense?←⤒🔗
Een boesemsaak wat ons in die proses onder oë sal moet neem, is ons geloofwaardigheid as kerk. As die kerk nie meer vir jongmense geloofwaardig is nie, kan ons die mees vindingryke strategieë aanwend, maar dit sal geen indruk op hulle maak nie.
Wat van die jong geslag waardeer moet word, is dat hulle opregtheid soek. Na sovele vertrouensskokke wat ons samelewing in die afgelope tyd geruk het, moet ons ook nie vreemd opkyk as die jeug nou meer as ooit na eerlike ongeveinsdheid en opregtheid soek nie. In die samelewing. Des te meer in die kerk.
In praktyk beteken dit dat jongmense nie na die kerk gelok word deur pop-orkeste, gospelsangers of loslit liedjies nie. Sulke dinge is in elk geval vir jongmense al van ver af deursigtig en maak die kerk vir hulle des te meer ongeloofwaardig. Dit skep immers die indruk dat die kerk selfvertroue verloor het in die krag van die boodskap wat hy verkondig en nou sy toevlug tot allerhande ander lokmiddels neem.
Doen Ons wat Ons Bely?←⤒🔗
Nog 'n wegstootkrag vir die jeug is 'n kerk wat in praktyk nie doen wat hy bely nie. Ons het 'n pragtige Gereformeerde belydenis waaraan ons sê dat ons vashou — maar wat wys die praktyk? Dit is tog so dat woorde wek, maar voorbeelde trek.
Waar volwasse gelowiges een ding bely, maar 'n ander ding doen, skok dit die vertroue van die jeug. Kan ons dan die jeug verkwalik as hulle na ander weivelde begin soek?
Diepgaande Verskille 'n Vertrouensskok←⤒🔗
Hiermee saam hang die verskynsel dat die kerk al meer vir die jeug na 'n verdeelde klomp mense begin lyk. Van ernstige meningsverskille in die kerk lees 'n mens deesdae al meer en sien 'n mens al meer tekens.
Na afloop van die jongste Sinode is daar selfs openlik verwys na diepgaande verskille tussen Gereformeerdes. Die beker/kelkie-kwessie is maar 'n enkele voorbeeld.
Die vraag is of Gereformeerdes in 'n tyd van kwynende lidmatetalle sulke verskille kan bekostig? Natuurlik moet ons daarmee rekening hou dat ons in 'n onvolmaakte bedeling is. Daarom was daar maar altyd verskille en sal dit altyd daar wees.
Maar as die verskille so diep begin raak dat dit 'n vraagteken oor die eenheid van die kerk plaas, kan die jeug met reg vra: Wat nou van ons belydenis van die eenheid van die kerk? Weet die kerk nog waarheen hy op pad is, of word in verskillende rigtings getrek? Waar is die hoogaangeskrewe samebindingskrag van die belydenis? As die Gereformeerde leer dan so 'n losse eenheid kan verdra, waarom kan ek nie maar ook losser van die kerk begin staan nie?
Terug na 'n Kinderlike Geloofsaanvaarding←⤒🔗
Ons is dit dus aan ons jeug verskuldig om weer "een van siel, een van sin" te wees, soos die apostel Paulus in Filippense 2:2 sê.
Miskien sal dit makliker wees as ons elkeen minder op ons eie geleerde slimmigheid wil steun en, soos van ouds, kritiekloos aan die waarheid en deursigtigheid van die Bybel vashou.
Miskien sal dit dan makliker gaan as ons ons slim interpretasies, waarmee ons die Gereformeerde belydenis relativeer, tersyde stel en weer ons belydenis met kinderlike geloof omhels.
Werklik, 'n kerk wat in die eenvoud van kinderlike geloof sy eie belydenis omhels en handhaaf, boesem vertroue in. So 'n kerk kan met vrymoedigheid en in geloofwaardigheid die evangelie van Jesus Christus verkondig.
So 'n kerk kan ook, met die geloofsoog gerig op Jesus Christus, vrug op sy arbeid verwag en met geloofsvertroue bid: "Here, bewaar en vermeerder u kerk..."