Versoening met God en jou medemens - 'n Bybelse perspektief
Versoening met God en jou medemens - 'n Bybelse perspektief
In die jongste tyd word daar oraloor van "versoening" gepraat. Vergaderings word gehou en allerlei "versoenings-inisiatiewe'' word geloods. Feitlik deurgaans met 'n appèl op Christene om daaraan deel te neem, op grond van die feit dat versoening deel van die boodskap van die Bybel is.
Dit is inderdaad so dat "versoening" 'n belangrike deel van die boodskap van die Bybel is. Trouens, "versoening" is 'n eg Bybelse begrip. Maar dit is ook so dat Bybelse begrippe maklik op nie-Bybelse maniere gebruik kan word. Daarom is dit die gelowige se verantwoordelikheid om oral waar iemand hom vir 'n saak op die Bybel beroep of iets in "Bybelse terme" inklee, duidelikheid te kry oor wat die werklike Bybelse bedoeling met die saak of begrip is. Dit geld ook vir die begrip "versoening".
1. Die Bybel se unieke versoeningsboodskap⤒🔗
Uit die staanspoor het die begrip "versoening" in die Bybel 'n baie bepaalde betekenis gehad wat nie in ander geskrifte van daardie tyd bestaan het nie. In ander ou geskrifte, byvoorbeeld die ou Griekse en Latynse dramas en geskiedenistekste, word daar wel na "versoening" verwys, maar dan deurgaans met die betekenis van versoening tussen mense: twee persone (faksies, partye, state) wat om een of ander rede in vyandskap met mekaar gelewe het, kom tot versoening deur die vyandskap ter syde te stel. Die gevolg is dat hulle in vrede met mekaar begin saamlewe. In die Bybel word daar egter 'n ander en unieke dimensie aan die begrip "versoening" verleen: "versoening" word naamlik in verband gebring met die mense se verhouding tot God. So word dit in die Ou Testament en die Nuwe Testament aangetref.
2. Versoening met God←⤒🔗
In wese gaan versoening daaroor dat die oorsaak van die vyandskap of die verwydering weggeneem word. Die oorsaak van die verwydering tussen God en die mens is die mens se sonde. Daarvan getuig die versoeningsboodskap van die Ou Testament reg van die begin af. Na die sondeval het God die mens weggestuur uit die tuin van Eden (Genesis 3:23). Daarom is geen versoening moontlik nie tensy die mens se sonde voor God weggeneem word. Dit is dus nie vreemd nie dat die Hebreeuse woord waarmee die gedagte van versoening in die Ou Testament aangetoon word (kaphar), inderwaarheid die gedagte van "wegneem" of "wegwas' of "wegvee" bevat.
2.1 Die soenoffers in die Ou Testament←↰⤒🔗
In aansluiting hierby word die boodskap van versoening in die Ou Testament feitlik konsekwent verbind aan die offers, wat as simbool gedien het dat die mens se sondeskuld voor God weggeneem word. Op die groot versoendag, waarvan ons onder andere in Levitikus 16 en 23 en Numeri 29 lees, moes die soenoffer gebring word, vooraf gegaan deur verootmoediging van die hele volk voor die Here (Levitikus 23:29,32). Die versoening waarvan die soenoffers spreek, berus daarop dat die mens sy sondeskuld voor God bely en dat God sy sondes vergewe. Die soenoffers het dan daarvan getuig dat God die sonde, wat verwydering tussen Hom en die mens bring, wegneem. So is die mens met God versoen.
2.2 Die Soenoffer van die Nuwe Testament.←↰⤒🔗
Uit die Nuwe Testament, en veral uit Hebreërs 9, is dit duidelik dat die soenoffers van die Ou Testament inderwaarheid heengewys het na Jesus Christus: die gekruisigde Jesus Christus was soenoffer wat God self voorsien het. Hy was die enigste en ware en eenmalige en finale soenoffer deur wie God ons sondes wegneem (Hebreërs 9:24-28). Buite Christus om is daar dus geen versoening met God nie.
In die Bybel maak God dit dus vir ons duidelik: ware versoening bestaan daarin dat die mens in Jesus Christus met God versoen raak.
3. Versoening met jou naaste←⤒🔗
Versoening tot God lei onvermydelik tot versoening met jou naaste (net soos die liefde tot God sigbaar word in die liefde tot jou naaste). Die direkte verband tussen versoening met God en versoening met die naaste word in Efesiërs 2:11-22 baie duidelik bekend gemaak. Terselfdertyd toon hierdie verse aan dat versoening met ander mense onmoontlik is tensy die versoening in 'n versoening met God berus. Kom ons gaan kortliks na wat daar staan.
3.1 Ver van God, ook ver van jou naaste←↰⤒🔗
In Efesiërs 2:13 staan daar: "Maar nou in Christus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Jesus". Ver van wie af was julle? Eerstens: ver van God af. Aldus vers 12: "was julle sonder God in die wêreld”. Tweedens: ver van mekaar af, dit is: daar was verwydering tussen Jode en nie-Jode. In vers 15 word gepraat van vyandskap wat daar vroeër bestaan het. Vers 14 noem die oorsaak van die vyandskap, naamlik 'n "middelmuur van skeiding" wat die Jode opgerig het. In vers 15 word gesê wat die middelmuur van skeiding was, naamlik "die wet van gebooie en insettinge", oftewel die Joodse beskouing van die wet. Die Jode wou die wet buite Christus om handhaaf en gevolglik het hulle die wet verhef tot rede om op alle nie-Jode neer te sien en in vyandskap met hulle te lewe.
3.2 Versoening met mekaar slegs moontlik vanuit versoening met God←↰⤒🔗
Maar nou het julle naby gekom, sê vers 13. Die bedoeling is duidelik: naby aan God en naby aan mekaar. Ook in dieselfde volgorde. In vers 16 word gesê dat albei - Jode en nie-Jode - met God versoen is deur die kruis. Aan die kruis is Jesus Christus geoffer om al sy uitverkorenes se sondes weg te neem en sodoende met God te versoen. Almal wat deur die geloof in Christus met God versoen is, is herskep tot "nuwe mense" (vers 15). Dit is mense wat met God versoen is, wat nie meer ver van God is nie maar wat toegang tot die Vader het (vers 18).
As nuwe mense wat in Christus met God versoen is, het ons ook naby aan mekaar gekom, want "deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader" (vers 18). Wie saam in 'n nuwe, herstelde verhouding tot God staan, staan ook in 'n nuwe herstelde verhouding tot mekaar - dit is: versoening! Daarom lees ons ook in vers 14: "Hy (Jesus Christus) is ons vrede". Hieruit is dit duidelik: Net soos versoening met God buite Christus om onmoontlik is, is ook versoening met mekaar buite Christus om onmoontlik.
4. Samevatting←⤒🔗
In die lig van hierdie Skrifgetuienis, is dit dus moontlik om alle oproepe tot versoening te beoordeel. Elke versoeningspoging wat nie die versoening met God as 'n onmisbare voorvereiste stel nie, is gedoem tot mislukking. So 'n versoeningspoging gaan immers uit van 'n heidense (wêreldse) versoeningsbegrip en nie van 'n Bybelse versoeningsbegrip nie. As die vertrekpunt nie reg is nie, kan die eindpunt ook nie reg wees nie. Net soos Christus sy vrede onderskei van die wêreld se valse vrede (Johannes 14:27; 1 Tessalonisense 5:3), so moet ook die versoening van Jesus Christus onderskei word van die wêreld se valse versoening. Slegs daar waar die versoening met God in Jesus Christus eers 'n werklikheid geword het, dit wil sê slegs daar waar alle partye in ootmoed voor God staan en aan Jesus Christus as enigste soenoffer vasgryp, slegs daar waar alle partye in Jesus Christus eers die toegang tot God soek, en dan die toenadering tot mekaar, slegs daar is ware versoening tussen mense moontlik. In hierdie verband geld ook Jesus se woorde in sy Bergpredikasie (Matteus 6:32): "Soek eers die koninkryk van God, en al die ander dinge sal vir julle bygevoeg word."
As versoendes met God is ons dus geroep om valse versoening af te wys maar ook om op die voorpunt te staan wanneer dit by ware versoening kom.