Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Aan die Einde van Pinksterdag...

koringveld

Waaraan dink ons as ons Pinkster herdenk? Verseker aan Jesus Christus wat die belofte van Johannes die Doper waar gemaak het — Hy doop met meer as net water. Hy doop met die Gees. Hy stort die Gees as oorvloedige gawe uit die hemel. En dit gebeur alles op eg dramaties en goddelike manier. Heeltemal vergelykbaar met die Here se neerkom op die berg Sinaï. ‘n Stormwind waai deur die huis waarin die gelowiges bymekaar was. Daar kom vuur uit die hemel, maar steek nie ‘n berg aan die brand nie. Dit kom neer op elkeen van die gelowiges. 

Die Oes van Pinkster🔗

Maar wat bly oor nadat die stof aan die einde van daardie Pinksterdag gaan lê het? Die rukwind is nie meer daar nie. Die vuurtonge is ook nie meer te sien nie. Wanneer dit alles verdwyn, bly daar wel iets baie spesiaal oor in Jerusalem. Blykbaar is dit waaroor alles gegaan het op hierdie spesiale dag.

Daar het iets blywends in Jerusalem agtergebly. ‘n Gemeente. Die hele Pinksterverhaal loop uit op die beskrywing van … ’n gemeente! Die vervolg op die gebeure die oggend van Pinksterdag, is nie ‘n herhaalde rukwind en onuitblusbare vuurtonge nie. Wat wel gesien en gehoor kon word, is ‘n gemeente wat sigbaar eendragtig was en hoorbaar gebid en gesing het. Dít is die groot wonder van Pinksterdag!! Die groot oes van Pinksterdag is ‘n gemeente vergader in die Naam van Jesus, die Messias van Israel. Op hierdie dag word drie duisend siele toegevoeg. 

Dít wat agterbly aan die einde van Pinksterdag is iets nuut. In Jerusalem was daar nog altyd die tempel. Dáár het die gelowiges gaan bid en dáár was die middelpunt van die volk van die Here. By die inwyding van die tempel het die wolk van God se heerlikheid oor die tempel gekom. Nou het daar iets gekom binne die volk Israel — ‘n gemeente onderskei van die volk Israel. 

Eie Kenmerke🔗

‘n Gemeente wat onderskei word van Israel, het haar eie kenmerke het. Teen die agtergrond van ‘n eeue-oue volk, Israel, met haar tempel, groei daar ‘n gemeente van gelowiges wat hulle laat red vanuit daardie mense wat Christus nie wil erken as die Een wat aan die regterhand van die Vader in die hemel gaan sit het nie.

Die antwoord op die vraag van die skare wat hulle moet doen, was: “Laat julle red uit die geslag wat hul boosheid laat sien in hul kruisiging en verwerping van Jesus Christus!” Pinksterfees wil ons leer om nie gering te dink van die bestaan van ‘n gemeente van Christus nie. Die gemeente is werk van die Gees van God. Die Gees wat mense bymekaar maak rondom die hemelse troon van Jesus Christus.

Pinkster wil vir ons nuwe verwagting en hoop gee. Daar gebeur vanaf Pinkster iets wat selfs nie eers gebeur het toe die Here Jesus nog op aarde was nie. Tydens sy lewe op aarde volg groot skares Hom. Maar hulle verdwyn ook weer soos mis voor die son.

Dit is duidelik dat baie Hom gevolg het alleen maar vanweë die wonderwerke wat Hy gedoen het. Sy kruisiging het hulle in elk geval ontnugter gelaat. Waar kom die nuwe hoop dan vandaan?

Die verklaring lê in wat ons op hemelvaartdag gehoor het.  Jesus het aan die regterhand van die Vader  gaan sit. Die geslagte Lam het in die hemel gekom. Hy was en is waardig om die boek van God se werk op aarde te neem uit God se hand. Hý is nou die een wat die seëls kan oopmaak en laat gebeur wat God só graag op aarde wil. ‘n Mensdom wat Hom weer aanbid en dien en loof. Op aarde kom daar mense met ‘n totaal nuwe lewensorïentasie. ‘n Nuwe fokuspunt.  Christus op die troon van God. Christus wat aanbid word.  Die nuwe bron en norm van lewe. 

kroon

Daarom kom daar op aarde iets nuut tot stand. Nie omdat die dissipels die wonder ontdek het van ‘n “missionêre gemeente” of hulle ‘n stewige dosis selfvertroue bygekry het nie. Die verklaring vir dit wat in Jerusalem oorgebly het na die son gesak en die stof van die dag gaan lê het, is nie ‘n menslike nie. Die kragbron vir die gemeente wat daar was, was Christus wat vanuit die hemel sy Gees hier op aarde vir sy gemeente kom gee het. 

Dit moet ons leer om met nuwe oë te kyk na die gemeente waarvan u lidmaat is. Wees heel versigtig hoe jy oor die gemeente praat en hoe jy jouself in die gemeente opstel. Wat bepaal jou verwagtings van die lewe in die gemeente? Wat is bepalend vir jou houding in en teenoor die gemeente? Dit wat in die eerste plek by elkeen van ons pas, is verwondering. Verwondering oor wat Christus ten spyte van ons eie swakhede gedoen het en steeds doen. Ons eerste houding moet ‘n diepe dankbaarheid teenoor Christus wees vir wat Hy hier op aarde deur sy Gees tot stand gebring het. Miskien moet ons ons veel ernstiger afvra of ons houding teenoor die gemeente bepaal word vanuit ‘n diepe besef dat die gemeente Gees-werk is. Die bestaan van die gemeente in Jerusalem aan die einde van die Pinksterdag, was Jesus se antwoord op die vraag van die dissipels of Hy in daardie tyd die koninkryk van Israel weer gaan oprig (Hand. 1: 6). Jesus rig as Koning van Israel uit die hemel ‘n gemeente op. En vanaf Jerusalem ook in Judea en Samaria en tot in Suid-Afrika. In plaas van die oprigting van die koninkryk vir Israel, stort Hy sy Gees uit om gemeentes tot stand te bring.