Hou Christus self sy kerk in stand!
Hou Christus self sy kerk in stand!
“Hou Christus self sy kerk in stand - vergeefs die hel se woede!...en waar die vyand kom, stuit Hy die bose woede” (Lied 477).
Is dit nie geweldig troosvolle woorde nie?! As ons enigsins die troos van hierdie woorde wil geniet, sal ons moet leer om te let op ons kerktaal. Ek bedoel daarmee : hoe praat ons oor die kerk? Die neiging is ongelukkig gevestig om oor die kerk te praat vanuit wat ons met ons oë sien. Laat ek my haas om onmiddellik by te voeg dat ek geen pleidooi wil voer vir ‘n sogenaamde “onsigbare” kerk nie, want dit bestaan nie! Die kerk is die heel konkrete gemeenskap van gelowiges wat saam deel aan al die skatte en gawes van Christus. Die slordigheid in ons kerktaal waaroor ek dit het, is die onbybelse gewoonte om oor die kerk te praat vanuit die mens en sy godsdienstigheid. Ons sien dan die kerk (en sommer baie kerke ook!) oral waar ons gelowige mense sien, inkluis ons “eie” kerk.
Die Bybel praat in ander taal oor die kerk. Dáár leer ons om oor die kerk nie vanuit ons ervaring nie, maar vanuit die geloof te praat, met ander woorde ons bely oor die kerk en praat nie “onder ons” oor die kerk nie. Die Skrif leer ons om ons oog op Jesus Christus te hê óók wanneer ons oor die kerk praat. Die kerk is immers niks anders en minder as die gemeente van God wat Hy vir Hom deur sy eie bloed vrygekoop het (Hand. 20:28).
Ons kan net sinvol oor die kerk praat, wanneer ons Christus in die oog het met geredde sondaars wat leef uit (geloof)gemeenskap met Hom. Die hele Skrif deur word daar gedurig weer oor die kerk gepraat vanuit hierdie noue band tussen Christus en sy gemeente. Ek noem enkele voorbeelde. Christus word geken as die Hoof van sy gemeente wat sy liggaam is, vervul met Hom wat alles in almal vervul/vervolmaak (Ef. 1:23). Christus is die Bruidegom en sy kerk is sy bruid (Ef. 5:25). Die gemeente as kudde het Christus as die goeie Herder (Joh. 10:11).
In Sondag 21 van die Kategismus bely ons daarom dat Christus vir Homself uit die hele menslike geslag ‘n gemeente tot die ewige lewe verkies het. Hierdie gemeente vergader Hy deur sy Woord en Gees in die eenheid van die ware geloof. Praat ons oor die kerk, dan is ons besig om ons geloof te bely in die werk van Christus. Ons praat oor iets wat Chrístus doen – Hý vergader, Hý beskerm en Hý onderhou sy gemeente hier op aarde. Op elke plek waar ‘n gemeente vergader word deur die Gees van Christus deur sý Woord. Daarom moet ons nie in die eerste plek raaksien wat mense doen nie (ervaring) , maar kyk met geloofsoë na wat Christus doen.
“Wat en waar is die kerk van Christus?” Dikwels antwoord mense dit soos volg : die kerk is ‘n groep mense wat gemeenskaplike geloofsbelange het, hulle vrywillig onderwerp aan die bestuur van ‘n kerkraad wat hulle verkies het en waar hulle hul finansiële bydraes gee. Dan sou die kerk niks anders wees as ‘n godsdienstige vereniging nie. ‘n Vereniging van godsdienstige mense. Die kerk sou dan oral wees waar gelowige mense bymekaarkom. Dit is egter ’n leuen. Die kerk is ‘n saak van Christus. Christus deel verlossing aan ons uit in sy kerk sodat mense weer in hulle hele lewe met Hom kan leef soos God dit van die begin wou hê. Die kerk red niemand, en tog deel Christus sy verlossing nie buite die kerk uit nie. En dan moet ons maar ophou om te praat van “my kerk” en “ons kerk”. Daar is net een Hoof van die kerk en dit is Christus. U en ek mag wel hoort by die kerk, maar dit behoort nie aan ons nie – dit is nie ons s’n nie! Die kerk is Christus se eiendom. Hý is die Hoof van sy kerk. Daarom gaan ons in geen hoogmoedige taal praat oor “ons/my kerk” wat ‘n “saligmakende” kerk is nie.
Geen hoogmoedige taal nie, maar wel die taal van verwondering dat die Here tóg aan my sy genade uitdeel daar waar ook ek ‘n plek gekry het in die vergadering. Uit genade alleen. Daarom praat ek nie ligtelik oor die kerk asof elke samekoms van mense kerk van Christus is nie. Ook nie asof die kerk van Christus vir my nie belangrik is nie. Asof dit ‘n vereniging is wat deur ‘n vorige geslag bymekaar geroep is nie. Maar ek is dankbaar dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, vergader, beskerm en onderhou. Dat ek daarvan ‘n lid mag wees en ewig mag bly. Dáár wil Hy ook vir my sy verlossing uitdeel. As dit die plek is waar Christus sy verlossing uitdeel en in gemeenskap met Hom geleef word, is dit gebiedend noodsaaklik dat ons nie dit wat in opstand teen Christus is, in verwarring aansien as sy bruid en wederregtelik (teen Christus se wil in!) daarmee gemeenskap onderhou nie.