Semper Reformanda
Semper Reformanda
Ons glo en bely ’n enige, katolieke (algemene) kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in Sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ’n ewige Koning wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God bewaar teen die woede van die hele wêreld, alhoewel dit soms ’n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab 7000 mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig.
Dit is opvallend dat ons belydenis aangaande DIE KERK ’n geloofsbelydenis is op dieselfde vlak as waarop sake soos Christus se opstanding en die vergifnis van sonde bely word. Ook wat die KERK aanbetref, is daar nie ruimte vir eie opinies nie, maar word daar in gehoorsaamheid gebuig voor die duidelike leer van die Skrif. Dit is nie ’n geloofsartikel wat ondergeskik gestel mag word aan die “essensiële” sake soos byvoorbeeld Christus se werk van verlossing nie. Déél van Christus se werk is júís Sy kerkversamelende werk. Dít is wat ons so klinkklaar in Art 27-29 bely.
In Art 27 bely ons dat Christus slegs EEN kerk het (Mat 16:18 – enkelvoud, Ef. 4:4, Joh. 17:23)(ten spyte van die praktyk van vele kerke), ’n kerk wat KATOLIEK is. “Katoliek” (algemeen) beteken die kerk is versprei oor die wêreld en nie beperk tot sekere persone (charismatiese figure?), lande of kulture nie (Gen 22:18, Jes. 49:6, Ef. 2:19). Die kerk is ook nie beperk tot enige tydvak in die geskiedenis nie. Daarby is hierdie kerk (deur alle eeue) gebou op die EEN ware geloof – die leer van die apostels (Ef. 2:20). Deur die eeue bely hierdie kerk DIESELFDE apostoliese geloof en handhaaf nie afwykende of eksklusiewe beskouings nie.
Ongelukkig is daar soveel wanopvattings oor hierdie klinkklare belydenis. Die eerste denkfout is om te dink dat hierdie een katolieke (algemene) kerk alle gelowiges op aarde is. Die sogenaamde onsigbare kerk. So asof ’n gelowige kragtens sy geloof outomaties tot hierdie kerk behoort. Die katolieke kerk (wat in Art 27 bely word) is dus die “eintlike volk van God” – alle gelowiges wêreldwyd. Hierdie siening lei onvermydelik tot die konklusie dat dit nie regtig soveel saakmaak tot wátter kerkverband ’n individu behoort nie – al wat saakmaak is of hy/sy ’n gelowige is? Behoort hy/sy tot die EINTLIKE onsigbare kerk wat alle sigbare kerke omvat.
Die tweede wanopvatting is dat die enige katolieke kerk ’n onsigbare/anonieme “modelkerk” of “ideale kerk” is en dat álle sigbare kerke “iets” van hierdie ideale kerk vertoon – sommige meer, ander minder. Hierdie idee is geskoei op die filosofie van Plato. Volgens Plato is daar iets soos ’n ideale perd. Alle fisiese perde bevat iets van hierdie ideale perd. Daarom is alle perde werklik pérde, al is die een mank, die ander blind ensovoorts. Waarom? Almal besit iets van die ideale perd. Hierdie filosofiese begrip word soms op die kerk toegepas. Namate ’n kerk iets van die ideale kerk besit, is dit kerk van Christus. Sommige kerke is net minder suiwer en ander meer suiwer. Die egte kerk is dus – volgens hierdie siening - verspreid oor alle sigbare kerke. Alle sigbare kerke besit immers “iets” van die egte kerk. Hierdie opvatting lei onvermydelik tot die konklusie dat dit nie régtig saakmaak tot watter kerk die individu behoort nie. Dit maak ook nie saak hóé ver ’n bepaalde kerkverband van die Skrif wegdwaal nie, want daar is tog wel nog “iets” van die ideale kerk in hom!
Nie een van hierdie denkbeelde word in die Skrif en die belydenis aangetref nie. Dit is belangrik om raak te sien dat ons in Artikel 27 bely dat die enige katolieke kerk VERGADER is (Ps 111:1, Joh. 10:14, Efes 4:4, Hebr. 12:23)! Dit is geen anonieme ideale kerk wat uit alle individuele gelowiges bestaan nie, want hy is konkreet vergader deur die Herder! Die katolieke kerk bestaan nie uit anonieme losse individue nie. Kyk goed na Artikel 27 en sien hoedat DIESELFDE enige, katolieke wêreldkerk konkreet plaaslik VERGADER is. Individue wat langs mekaar in ’n bus sit, is geen vergadering nie. “Vergader” beteken fisies saamgebind wees en saamkom met ’n bepaalde doel. Dit is ’n konkrete kudde wat gehoor gegee het aan die Herder se roepstem.
Die enige katolieke kerk is egter nie vanselfsprekend oral waar gelowiges vergader is nie! Die vraag is deurslaggewend: Is ’n spesifieke vergadering werklik deur die HERDER vergader? Is dít wat die vergaderde kudde konstitueer uit die Hérder, of uit die mens? Word slegs die enige katolieke geloof daar geleer en bely? Word die gesag van die Skrif in alle opsigte eerbiedig of word afwykings toegelaat? Kry waarheid en leuen albei ’n staanplek? Word die skape se gewetens gebind aan afwykende leer of kerklike besluite? Is die kudde vry in die Waarheid of heers daar gewetensdwang? In kort: Is dit die HERDER wat die vergaderwerk verrig of heers die méns en dwaalleer? Word dwaalleer getolereer onder die dekmantel van deernisvolle “luister na mekaar”? Is dit dan die HERDER wat besig is met Sy vergaderwerk wanneer ’n kerk ten alle koste samelewingsrelevant wil wees en ’n “teologie van relevansie” die Skriftuurlike verantwoording van die kerk vervang? Word die Herder se oppergesag gehonoreer wanneer die bediening van die Woord vervang word met liturgie? Word die Herder nie juis só uitrangeer nie?
Dát nie alle gelowiges outomaties tot die enige katolieke kerk behoort nie en dát nie alle vergaderde gemeentes vanselfsprekend die wettige kerk is nie, blyk uit dít wat ons in Artikel 28 NGB bely:
Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos word, en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand of status ook al is, in selftevredenheid hom van hierdie vergadering afsydig mag hou nie. Inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar, deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie en hulle by die vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regeerders en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.
Die katolieke kerk is nie oral waar gelowiges is nie. Daar is vele gelowiges wat hulle – a.g.v. onkunde of ongehoorsaamheid - nie deur Christus LAAT versamel dáár waar Hy die wettige kerk vergader nie! Hulle is VAN die kudde, maar BUITE die kudde (vgl. Joh. 10:16, Luk 15: 4). Dit is kerklike ongehoorsaamheid. Daarmee word geen oordeel gevel oor die legitimiteit van hierdie gelowiges se geloof nie. Die Skrif roep hulle egter om hulle gehoorsaam by die wettig- vergaderde kerk te gaan voeg.
Hoe moet die gelowige weet wáár die enige katolieke kerk deur die Herder vergader is? Die ware kerk van Christus is dáár waar Hý heers deur Sý juk (Mat 11:29) en waar daar onder Sy juk gebuig word. In die konteks van die Reformasie beteken dit die afwerp van die valse juk van die Roomse Kerk waar die méns heers deur vervalste ampte en dwaalleer. Jesus se juk beteken Sý heerskappy. Hoe heers Hy? Deur die ware leer van die Apostels (katolieke geloof) wat verkondig word en beskerm (omhein) word deur die ampte en tug. Dwarsdeur alle eeue was daar slegs een apostoliese geloof en die ware kerk het altyd hierdie leer verkondig. Die Here verbind die uitdeel van die heil aan Sy wettige kerk. Daarom is die gelowige slegs in die wettige kerk veilig. Buite hierdie kerk is die mens onveilig en onbeskerm waar menslike heerskappy en dwaalleer teenwoordig is. Dit beteken nie dat daar nie ware gelowiges buite die wettige kerk is nie. Maar die roeping is altyd dat ‘n gelowige hom/haar in gehoorsaamheid moet gaan voeg by die ware kerk wáár hierdie kerk ookal konkreet aanwesig mag wees en geëien word – selfs al kos dit opoffering en lyding.
Hoe moet ons nou oordeel oor die verskillende kerke wat vandag bestaan? Almal is so ernstig en daar gebeur wonderlike dinge en die Here se seën rus oënskynlik op talle. Hoe moet ‘n mens weet wanneer daar in ‘n bepaalde kerk werklik onder Christus se juk gebuig word? Is sigbare seën, groeiende getalle, wonders & tekens en belewenisse ‘n aanduiding dat Christus daar heers deur Sy juk? Die Kerk van Rome kon aanspraak maak op geweldige getalle en asemrowende liturgiese eredienste. Tog het die Reformatore geoordeel dat Christus nie dáár heers nie – al is daar talle gelowiges te vinde. Waarom? Omdat daar afgewyk word van die een ware leer van die Apostels en dwaalleer toegelaat/verdra word. Ook heers die mens deurdat ampte en kerkvergaderings en onskriftuurlike kerklike besluite oor gemeentes heers en bó die Woord staan en die erediens vervals word met mens-ontwerpte seremonies wat die bediening van die Woord vervang.
Die roeping tot die gelowige om hom/haar daadwerklik te gaan voeg by die wettige kerk, is terselfdertyd ‘n roeping om hom/haar af te skei van die onwettige kerk omdat die heil daar versluier word en dit vir die skape lewensgevaarlik is. Vergelyk die baie sterk appèl in Openb. 18:4, waar Babilon ‘n simbool van die onwettige kerk is. Hierdie afskeiding is iets totaal anders as kerkskeuring. Dit is afskeiding juis ten einde die eenheid van die wettige kerk te bewaar!! Dit is afskeiding met die doel om die eenheid-in-die-een–ware-geloof te behou. Dit is ook geen afskeiding in vyandskap nie, maar met die pleitrede dat die onwettige kerk sal reformeer sodat daar weer eenheid met daardie kerk kan wees. Die wettige kerk se soeke en begeerte is altyd dat daar slegs een sigbaar-vergaderde kerk op aarde sal wees, verbonde in die ware leer van die Apostels, want die Herder het slegs een kudde. Die afgeskeide kerk soek dus voortdurend weer eenheid met die onwettige kerk, mits die onwettige kerk weer buig onder die juk van Christus. Vandag sien ons ook die desperate soeke na eenheid tussen verskillende kerke (ekumene), maar dit is ‘n “eenheid” ten koste van die enige katolieke Waarheid (vgl. die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke). Dit is geen Bybelse eenheid nie. Eenheid te midde van dwaalleer (en daarom geen belydenisskrifte nie of slegs minibelydenisse!) is onmoontlik. Die voorwaarde vir ware eenheid is bekering. Dít is ten diepste wat met die uitdrukking “semper reformanda” (voortgaande reformasie) bedoel word. Hierdie beginsel geld oral in die Bybel waar sprake is van kerkhervorming. Byvoorbeeld Esra 4: 1-3, Nehemia 9: 38- 10: 39, Nehemia 13. Sien ook 2 Kron. 23: 14-21: Atalia word gedood en die Baälaltare afgebreek. Daarna gee Jojada weer die toesig oor die huis van die Here aan die priesters en Leviete wat deur Dawid aangewys is. Hulle bring weer brandoffers soos Moses dit aangedui het. Hier sien ‘n mens die katolieke verbondenheid met die kerk van alle eeue (Moses en Dawid). Sien ook die aangrypende 2 Kron. 29 & 30 (Hervorming onder leiding van Hiskia) en ook 2 Kron. 34 (Josia: Terug na die Woord).