Die kerk bemark?
Die kerk bemark?
"Hoe kan die kerk bemark word?" is die vraag wat die afgelope tyd druk in akademiese kringe bespreek is en ook deur die media ons huise ingedra is. Hierdie vraag roep weliswaar om besinning. Dadelik kom die wedervraag: "Kan die kerk bemark word?" en selfs: "Durf die kerk bemark word?"
Dit klink ongetwyfeld noodsaaklik dat die kerk van moderne bemarkingstegnieke gebruik maak. Dit is ten ene male so dat ons in 'n era lewe waarin geen produk sonder goeie bemarking sukses kan behaal nie. Daarom moet die kerk in ons tyd met die mees moderne en effektiewe tegnieke bemark word. So nie gaan die kerk leegloop en straks doodloop, so word geredeneer. Maar in hierdie redenasie is daar 'n hele paar slaggate waarop ons bedag moet wees.
Die eerste slaggat word duidelik wanneer 'n mens vra na die inhoud van wat bemark word. Is dit werklik die taak van die kerk om "die kerk te bemark"? Wie "die kerk wil bemark", verraai iets van 'n kerksentriese benadering. Die kerk staan in die middelpunt en daarom is dit belangrik dat die kerk bevorder word. Vanuit hierdie benadering moet die kerk bemark word sodat die kerk se getalle en ook die kerk se invloed in die samelewing kan uitbrei.
Hierteenoor is dit in die Skrif duidelik dat die Here nie sy kerk (= die gelowiges) roep om hulleself te bemark nie! Hy gee aan die kerk die opdrag om die evangelie van Jesus Christus uit te dra. In Handelinge 1:8 sê Jesus vir sy dissipels: "julle sal my getuies wees...". Die kerk moet van Christus getuig. Daarom skryf Paulus ook aan die Korintiërs: "Ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus...". In plaas van 'n kerksentriese benadering moet die kerk dus 'n Christosentriese benadering hê. Christus moet die middelpunt wees. Die kerk durf dus nie "die kerk bemark" nie, maar moet die evangelie van Jesus Christus in die wêreld uitdra ("bemark").
Ook in die gedagte van die "bemarking van die evangelie" is daar 'n yslike slaggat. In wese is bemarking daarop gerig om die produk aantrekliker vir die leserspubliek te maak. Wie egter die evangelie aantrekliker vir die mens wil maak, moet die evangelie verander. Want die evangelie is nie net 'n boodskap van heil en verlossing nie. Die evangelie se beginpunt is immers die sonde en ellende van die mens. In Sondag 1 van die Kategismus bely ons dat die mens ten eerste moet weet hoe groot sy sonde en ellende is. Eers dan maak die boodskap van verlossing sin en lei dit tot dankbaarheid.
Inderdaad, die Bybel gee nie 'n goeie getuigskrif van die mens nie. In Romeine 3:10 hoor ons: "Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie een nie". Vir die sondige mens, aangevuur deur die mensverheerliking van die humanisme, is hierdie getuigskrif verwerplik. Daarom sal die evangelie van Jesus Christus, solank as wat dit die mens met sy eie boosheid konfronteer, nie vir die mensdom aanloklik wees nie. Al manier om die evangelie vir die mens aanvaarbaar te maak, is dan om dit by die mens se behoefte en selfbeeld aan te pas. Die apostel Paulus waarsku in 2 Timoteus 4:3: "Daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hulle gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels". Hierdie waarskuwing kom ook tot die kerk aan die einde van die twintigste eeu wat dalk, in 'n poging om homself gewild te maak in die samelewing, die evangelie wil aanpas om by die mense se smaak te pas. Daarom moet ons duidelik vir mekaar sê: dit is nie die taak van die kerk om die evangelie so aan te pas dat dit "bemarkbaar" is nie.
Daar is egter 'n ander kant van die saak wat die kerk tot selfondersoek dwing. Hoewel die kerk nie mense moet aanlok ter wille van die kerk self nie, moet die kerk tog 'n lewende getuienis in die wêreld wees om ander na die evangelie toe te lok (1 Pet. 3:1). Die ware kerk is soos 'n lamp op 'n staander wat sy lig in die wêreld laat uitgaan (Matt. 5:15), nie tot sy eie voordeel of aanhang nie, maar sodat hulle “julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik". In plaas daarvan om na nuwe bemarkingsmetodes van die kerk te soek, is elke gelowige dus geroepe om hom- of haarself te ondersoek: lewe ek so dat andere op grond van my lewe my hemelse Vader sal verheerlik en die toevlug na Hom sal neem?"
Hoewel die kerk nie die evangelie na die mens se smaak mag aanpas nie, is ons roeping steeds om die onvervalste waarheid van die Woord immer helder, duidelik, treffend en aktueel aan die wêreld te verkondig. Algemene waarhede wat in die lug bly hang, kan die moderne mens nie aanspreek nie. Die Woordbedienaars moet hulle dus inspan om reg te preek en tegelyk raak te preek.
Wanneer ons as kerk van die Here ons roeping nagekom het om die evangelie van Jesus Christus in leer en lewe uit te dra, sal God die resultaat nie laat uitbly nie. Op ons gebed: "Laat u koninkryk kom", sal Hy deur die krag van sy Gees sy kerk bewaar en vermeerder (Kategismus Sondag 48). Die uitbreiding van die kerk kan uiteindelik slegs gebeur in die krag van God.