Calvinisme - 'n Godsdiens van Roeping
Calvinisme - 'n Godsdiens van Roeping
Daar kan kwalik oor Calvinisme gepraat of geskryf word sonder dat die onderwerp van roeping ter sprake kom. Roeping en Calvinisme is so nou met mekaar vervleg dat die een nie sonder die ander genoem kan word nie. En juis omdat roeping te doen het met die praktiese uitlewing van ons godsdiens, raak dit elke gelowige se lewe persoonlik en kan ons nie daaroor uitgepraat raak nie.
Wat is Roeping?⤒🔗
In 'n vorige keer het ons roeping gedefinieer aan die hand van 1 Korintiërs 7:17: “Elkeen moet wandel net soos God hom toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het". God roep mense om te doen wat Hy hulle gee om te doen.
Om beter te begryp watter belangrike plek "roeping" in die lewe van die gereformeerde gelowige inneem, kan die leser gerus gaan lees wat dr. JD du Toit (Totius) in 1909 oor Ons roeping en toekoms geskryf het (Versamelde Werke 2, p. 363-375). in hierdie besielende stuk bring Totius die volgende belangrike insigte na vore:
Roeping Eie aan die Gereformeerde Godsdiens←⤒🔗
In die eerste plek beklemtoon Totius dat die begrip roeping eie is aan die gereformeerde godsdiens en daarom ook aan die Calvinisme in geheel. Waarom juis aan die gereformeerde godsdiens? Omdat die werklik gereformeerde belyer nie aan die "vrye wil" glo nie.
Mense wat die "vrye wil" van die mens aanhang, praat liewer nie van "roeping" nie. Vir hulle is roeping iets wat 'n mens se vryheid aan bande lê, iets wat dwingend is. 'n Soldaat wat deur sy offisier geroep word en van hom dan 'n opdrag ontvang, is nie meer 'n vry man nie. Hy moet gaan, al is dit dwarsdeur die koeëls. Mense wat 'n hoë premie plaas op die mens se persoonlike vryheid wil hom nie laat bind nie. Hy wil sy eie heer en meester wees wat hom deur eie insig en eie gevoel laat lei. Hy wil self kies wat en waarheen hy wil. Dit is die Pelagiaan, die Remonstrant en die Metodis wat 'n keuse wil hê.
Die ware Gereformeerde het egter nie 'n keuse nie. Hy het 'n roeping. Hy streef nie daarna om sy lewenstaak volgens sy eie opvatting na te kom nie, maar volgens die wil van Hom wat roep, volgens die wil van God. Hy doen die opdrag wat hy van God as sy Here en Koning ontvang.
Roeping en Beroep←⤒🔗
God, ons Skepper en Here, laat elkeen gebore word met 'n bepaalde doel. Hy wys vir elkeen sy eie werk aan, stel elkeen op aarde om 'n werk te doen wat deur Hom uitgekies is. So bolangs mag dit lyk of dit die mens self is wat besluit watter beroep hy volg, maar alles gebeur volgens die Here se beskikking. Dit is Hy wat die talente en die aanleg gee, asook die belangstelling. Die Here gee ook werksgeleenthede. So lei Hy elkeen om te doen waarvoor God hom in die wieg gelê het.
Wie vanuit hierdie roepingsbesef sy werk doen, sal nooit laat slap lê nie. Totius skryf: "Om deur God geroep te wees en tog nog te slaap — is daar 'n groter teenstrydigheid denkbaar? Staan op! Julle wat slaap; kom uit julle slaapkamer en laat Christus oor julle lig: dan eers kan julle waardiglik van roeping spreek."
Roeping en Toekoms←⤒🔗
In hierdie of daardie beroepsrigting is daar 'n toekoms, sê ons dikwels, of: vir daardie man of vrou lê daar 'n blink toekoms voor. Daarmee bedoel ons dan gewoonlik dat so iemand groot rykdom of roem of albei kan verwerf.
So 'n manier van praat kom egter nie uit die gereformeerde oortuigings van die Calvinisme nie. Dit is eerder die taal van iemand "wat homself roep en sy lewenstaak eiewillig bepaal en wat, ewe aards en ewe menslik, sy toekoms meet aan die mate van sukses wat hy op aarde behaal, en die mate van grootheid wat onder die mense sy deel word," skryf Totius.
Wie egter roepingsbewus die toekoms ingaan, besef allereers dat elkeen se toekoms in Gods hand is. En daarby moet ons in gedagte hou dat wat God die Here vir ons elkeen as toekoms bestel het, in die oog van die wêreld dikwels nie 'n toekoms is nie.
As voorbeeld noem Totius Johannes die Doper. Watter toekoms het Johannes gehad? Sy werktyd was maar kort van duur. Spoedig het hy in die gevangenis gesit, verlaat deur sy dissipels en volgelinge, en in eensaamheid het hy 'n aaklige lewenseinde ontmoet. Nogtans hét hy 'n toekoms gehad, want hy het 'n roeping gehad, en daardie roeping was juis om minder te word. Sy roeping was om vir die kerk van God die Christus aan te wys. "Soos die bleek maan aan die Oosterse sonnehemel het hy altyd minder geword, totdat hy in die blou dieptes verdwyn het en die opgegane son — Jesus Christus — alles was," skryf Totius.
Daarom meet die ware gereformeerde belyer sy toekoms nie aan die erkenning of aansien wat hy onder mense ontvang nie, maar aan die vervulling van sy roeping, die roeping waarmee die Here sy God hom geroep het.
Die Roeping van die Kerk←⤒🔗
Totius skryf ook 'n paar baie belangrike dinge oor die roeping van die kerk. Met die totstandkoming van "die Gereformeerde Kerk" in 1859 het ds. Dirk Postma en sy medebroers en -susters nie in gedagte gehad watter pragtige of gemaklike toekoms daar vir hierdie kerk voorlê nie. Nee, dit was 'n roepingsdaad. Hulle wou net wees waartoe hulle oortuig was God hulle geroep het. Hulle wou Gereformeerd wees en bly. Net Gereformeerd en niks anders nie.
En dan voeg Totius daaraan toe: "Wie kan ons teenwerp dat dit nie ons roeping is nie? Nou ja, wees dan net Gereformeerd. Dan vervul u u roeping. Dan besit u 'n goeie gewete. Ons moet maak soos die blom wat sy roeping volbring as hy blom is en niks anders nie."
Om werklik gereformeerd te wees, beteken om te bou op die fondamente wat by Dordtrecht gelê is. Nie maar net by die fondamente stilstaan nie. Maar ons is geroepe om op daardie fondamente voort te bou. Nie op 'n ander fondament nie, ook nie 'n bouwerk wat nie op die fondament pas nie. Maar om met eg gereformeerde boustene voort te bou op die Skriftuurlike belydenisgrondslag wat ons vaders by Dordtrecht gelê het.
Dan is ons gereformeerd. Nie slapende gereformeerdes nie. Ook nie eiewillige gereformeerdes nie. Maar gereformeerdes wat doen waartoe God ons geroep het. En juis dit — om aktief, dinamies en roepingsgetrou in elke tydsgewrig met die bouwerk van die gereformeerde geloofshuis op die fondament van die gereformeerde belydenis voort te gaan — dit is waaroor die Calvinisme gaan.