Tot Vryheid Geroep
Tot Vryheid Geroep
"Julle is tot vryheid geroep" lees ons in Galasiërs 5:13. Hierdie woorde het die apostel Paulus aan die gelowiges van Galasië geskryf om hulle te waarsku teen die Joodse dwaalleraars van hulle tyd. Ons weet egter dat die Heilige Gees hierdie woorde ook vir die gelowiges van alle tye bedoel het. Ook ons, vandag, is tot vryheid geroep.
Maar wat behels hierdie vryheid? Hoe moet ons die vryheid wat ons in Christus ontvang het, uitleef? Die pad na 'n antwoord op hierdie vrae is nie sonder slaggate en valstrikke nie. Genadiglik was die slaggate en valstrikke alreeds van die begin af daar en was die apostels genoodsaak om dit aan die gelowiges uit te wys.
Op twaalf plekke in die Bybel hoor ons dan wat die vryheid is wat Christus vir ons skenk. Uit hierdie plekke kry ons die nodige lig, sodat ons nie op 'n dwaalspoor beland nie.
Bevry van Sondeskuld en Oordeel⤒🔗
In sy eerste openbare optrede het die Here Jesus self gesê dat Hy gekom het "om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur" (Luk. 4:19). Die Bevrydingsteologie gebruik hierdie teks om te beweer dat Christus as politieke en ekonomiese en maatskaplike Bevryder gekom het. Dit kan egter nie, want dan moet die vryheid wat Hy bring van verbygaande aard wees.
Daarteenoor leer die Skrif duidelik dat Christus ewige vryheid bewerk. In Romeine 8:21 lees ons dat Hy die hele skepping sal vrymaak "van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God".
Jesus se woorde dui dus op oneindig meer as net hierdie tydelike lewe. Hy het immers gekom om sondaarmense te bevry, mense wie se lewe deur die sonde geknak is en wat gebroke van die sondeskuld voor die oordeel van God te staan gekom het. Christus het hulle vry gemaak om voor God ewig vry te wees van sondeskuld. Die vryheid wat Hy ons skenk is dan om voor die regterstoel van God vrygespreek te word van sy ewige oordeel oor die sonde.
Bevry daarvan om Self Geregtigheid te Verwerf←⤒🔗
In die Ou Testament het God saam met sy wet die opdrag gegee om dit noukeurig na te kom. In Deuteronomium 6:25 hoor ons: "Dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie onderhou..." Om geregtigheid voor die Here te hê, is dus om sy wet volkome na te kom. Dit was die geregtigheidseis van die begin af.
Die Jode het probeer om hierdie eis na te kom. Maar vergeefs, want nie hulle of enige ander mens kan God se wet volmaak nakom nie. Almal van ons is immers in sonde: ontvang en gebore. Vir ons sondaarmense is die geregtigheidseis van God se wet te hoog om by te kom. Om self geregtigheid voor God te probeer verwerf, is 'n verlore stryd.
Maar in genade het God sy Seun gestuur om daardie geregtigheidseis vir ons na te kom. Christus het die wet volmaak kom onderhou. En nou is elkeen wat in Hom glo van daardie eis bevry. "Want Christus se geregtigheid is die geregtigheid van elkeen wat aan Hom behoort.” Die vryheid wat Christus vir ons gebring het, is dus vryheid van die eis om self geregtigheid voor God te moet verwerf.
Hierdie vryheid wat die gelowiges in Jesus Christus ontvang het, was egter by die Jode onder verdenking. Daarom het hulle probeer om die eerste Christene weer diensbaar te maak aan die wet. Hulle wou hê dat die Christene weer self moet probeer om hulle geregtigheid te verwerf. Daarmee het hulle egter die geregtigheid van Christus op gruwelike manier verloën.
In die Galasiërbrief wys die apostel Paulus hierdie dwaalleer ten sterkste af. "Staan dan vas in die vryheid waarin Christus ons vrygemaak het," skryf hy in Galasiërs 5:1. Hierdie waarskuwing geld ook vir elkeen van ons wat dink dat ons iets by God verdien: deur ons vroom lewe, ons getroue kerkbesoek, ons streng selfbeheersing, ons goeie kerklike bydraes, of wat ook al.
Feit is: niks wat ons doen, verdien vir ons iets by God nie. En dit hoef ook nie. Want in Christus is ons daarvan bevry om self ons geregtigheid voor God te probeer verdien (vgl ook 2 Kor. 3:17; Gal. 2:4; 5:13). Hy is ons geregtigheid voor God, want wat ons moes doen en nie kon nie, het Hy volmaak vir ons gedoen.
Vryheid van die Mag van die Sonde←⤒🔗
In daardie selfde Galasiërbrief waarsku die apostel ons egter: "Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie" (5:13). Want die vryheid wat Christus ons skenk is tegelyk bevryding van die slawerny van die sonde.
Die sonde is beslis verslawend van aard. Dink maar aan die dwanggreep wat alkohol, dwelms, wellus, geldsug en bloeddorstigheid op mense kry. Jy kan later nie anders nie. Jy moet eenvoudig net. Om uit die slawerny van die sonde los te kom, is om waarlik bevry te wees.
En nou is dit so dat sommige Christene die vryheid wat hulle in Christus het, verkeerdelik opneem as 'n vryheid om te doen wat hulle wil. Dan word vryheid 'n dekmantel vir die boosheid, skryf die apostel in 1 Petrus 2:16. Sulke mense het vryheid ingeruil op losbandigheid. Hulle gee voor dat hulle vryheid geniet, terwyl hulle in werklikheid slawe van die verdorwenheid is (2 Pet. 2:19).
Maar wie deur die ware geloof in Christus ingeplant is, is van hierdie slawerny bevry. En dit deur die krag van die Heilige Gees. "Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie," skryf Paulus in Romeine 8:15, "maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!"
Vryheid tot Dankbaarheidsdiens aan God←⤒🔗
Ons vryheid in Christus beteken egter steeds diensbaarheid. Nie meer diensbaarheid aan die sonde nie. Nee, van daardie slawerny is ons bevry. Ook nie meer diensbaarheid aan ons eie begeertes nie. Ook daarvan het Christus ons vrygemaak. "Gebruik net nie julle vryheid as aanleiding vir die vlees nie," lui Galasiërs 5; 13, "maar dien mekaar deur die liefde."
Ons is nou vry om te dien. Vir die ongelowige ]yk dit absurd. Maar vir die gelowige maak dit sin. Omdat ons weet hoe groot die vryheid is wat Christus ons geskenk het, gebruik ons nou ons vryheid nie maar om te doen wat ons wil nie maar om uit dankbaarheid God te dien. Om alles te doen uit liefde vir God en uit liefde vir ons naaste. Dit wil sê: om God te gehoorsaam.
In Jakobus 1:25 lees ons van diegene "wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid". Daarmee word bedoel hulle wat die ware betekenis van die wet begryp, hulle wat die insig het dat ons in Christus die vryheid het om werklik onbevange met dankbare harte die wil van God te doen.
In ons Godsdiens is die vraag dus nie watter vryhede ons onsself kan veroorloof nie — "mag ons maar dit of mag ons maar dat" nie. Met insig in die volmaakte wet van die vryheid vra ons eerder: Wat kan ons alles nog doen om die Here te behaag? Want uit dankbaarheid wil ons nie ons wil soek nie maar die volmaakte wil van ons Vader in die hemel. Om ons lewens en ons hele kerklike lewe in te rig so na as moontlik aan wat Hy in sy Woord vir ons leer.
In die woorde van Romeine 12:1: Ons streef daarna om ons hele lewe in te rig "as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer". Dit is ons redelike godsdiens.