Bron: Die Kerkblad. 5 bladsye.

Wat is die regte grondteks?

'n Teks in die beskuldigdebank🔗

In die gesprek oor die twee Afrikaanse Bybelvertalings, tree die kwessie van die grondteks al meer op die voorgrond, spesifiek die grondteks vir die Nuwe Testament. Namate dit duideliker word dat baie verskille tussen die 1933/53-vertaling en die 1983-vertaling te wyte is aan die feit dat verskillende grondtekste gebruik is, word al hoe dringender gevra: Wat is die regte grondteks?

Twee grondtekste🔗

Die twee grondtekste waaroor die diskussie gaan, is die Textus Receptus (TR) waaruit die 1933/53-vertaling vertaal is, en die UBS-teks waaruit die 1983-vertaling vertaal is. Die TR is 'n teks wat in die sewentiende eeu deur 'n Nederlandse uitgewer saamgestel en uitgegee is. Die UBS-teks is in 1975 deur die Verenigde Bybelgenootskappe (United Bible Societies) saamgestel en uitgegee.

Op die vraag na die regte grondteks wil diegene wat dit téén die 1983-vertaling het, om verskeie redes niks van die UBS-teks weet nie. Aan die anderkant verwerp die voorstanders van die 1983-vertaling die TR, ook om verskeie redes. Die redes wat na albei kante toe aangevoer word, klink egter so oortuigend dat 'n mens op die ou einde moet vra: Wie is nou eintlik reg? En nog belangriker is die vraag: Wat moet die Gereformeerde standpunt oor die kwessie van die grondteks wees?

Met hierdie artikel word beoog om 'n antwoord op bogenoemde vrae te voorsien. Voordat 'n ant-woord gewaag word, is dit egter nodig om eers die besware teen die UBS-teks en dié teen die TR op die weegskaal te plaas.

Beskuldigings teen die UBS-teks🔗

Uit die geledere van diegene wat dit téén die 1983-vertaling het, het daar in die afgelope tyd 'n paar publikasies in omloop gekom wat die UBS-teks sterk afwys. Sekerlik die bekendste hiervan is die boekie van Martin Gunther getiteld: Is die '83-vertaling die Bybel? en die meer onlangse Bewaar my Woord van J.C. Erasmus. In hierdie eerste artikel word die aandag bepaal by die argumente wat Gunther aanvoer.

In sy boekie wat in 1986 verskyn het, maak Gunter die UBS-teks af as 'n valse teks en prys hy die TR aan as die enigste wat werklik die Woord van God bevat. Daarmee het Gunther baie mense op sleeptou geneem. Sy argumente berus egter op gegewens wat by nadere ondersoek onjuis blyk te wees.

Die UBS-teks 'n Roomse teks?🔗

Gunther beweer naamlik dat die UBS-teks op 'n aantal Rooms-Griekse manuskripte berus wat Keiser Konstantyn laat opstel het met die doel om die Christelike kerk te ondermyn. Om sy bewerings te staaf, gryp Gunther terug op die geskiedenis van die vroeë kerk: Die oud-Christelike geskiedskrywer Eusebius het gedurende sy leeftyd in opdrag van Keiser Konstantyn 50 kopieë van die Bybel laat oorskryf vir gebruik in die kerke. Hierdie gebeurtenis staan histories vas. Eusebius maak self daarvan melding in sy boek Lewe van Konstantyn. Oor hoe daardie 50 manuskripte gelyk het en wat uiteindelik daarvan geword het, het ons egter geen historiese getuienis nie. Daaroor kan 'n mens maar net bespiegel. So is daar geleerdes wat die vermoede uitspreek dat twee van die manuskripte waarop die UBS-teks berus, naamlik Sinaiticus en Vaticanus, onder daardie 50 manuskripte getel het. Maar hulle bied hulle vermoedens nie as feite aan nie. Hulle weet dat hulle met bespiegelings besig is.

Bespiegelings as feite aangebied🔗

Gunther maak egter die fout om bespiegelings as feite te behandel. Hy bied o.a. die volgende as historiese feite aan:

  • Hy sê dat Konstantyn die genoemde 50 manuskripte van die Bybel met bose bybedoelings laat voorberei het. Konstantyn wou daarmee die Christelike kerk ondermyn. Hoe dan so? Omdat, sê Gunther, Konstantyn nooit werklik tot bekering gekom het nie. In sy hart was hy 'n duiwelaanbidder wat sy sogenaamde bekering tot die Christelike godsdiens slegs as dekmantel gebruik het om die Christelike kerk in die ope uit te lok, sodat dit makliker vervolg kon word. Die teken van die kruis wat Konstantyn volgens oorlewering aan die hemel gesien het, was dan ook volgens Gunther in werklikheid die duiwelse ANKH-kruis. Die 50 manuskripte was deel van 'n duiwelse plan teen die Christelike kerk. Dit alles is eie bespiegelings wat Gunther sonder enige historiese gronde, as feitelike geskiedenis aanbied.
  • Maar hoe kon die kerk dan deur die produksie van 50 Bybelse manuskripte ondermyn word? Hiervoor bied Gunther die volgende "feite" aan: Eusebius, wat die Bybels moes laat oorskryf, was 'n aanhanger van die destydse dwaalleer van die Arianisme (die Ariaanse sekte was 'n voorloper van die hedendaagse Jehovagetuies en word in die Geloofsbelydenis van Nicea weerlê). Eusebius het daarom die teks van daardie 50 Bybelkopieë opsetlik verdraai ten einde die Godheid van Jesus uit die Bybel uit te skryf. Ook vir hierdie bewerings het Gunther geen historiese gronde nie. Wat wel waar is, is dat Eusebius in die Ariaanse stryd Arius dikwels simpatiek gesind was. Maar daar bestaan geen bewyse vir die bewering dat Eusebius aan enige van die 50 Bybelkopieë 'n Ariaanse kleur gegee het nie.
  • Voorts argumenteer Gunther dat hierdie verdraaide Bybel toe inderdaad die Bybel van die Rooms-Katolieke Kerk geword het. Die TR daarenteen, wat volgens Gunther die suiwer Bybel bevat, is deur die Waldense in Suid-Frankryk gelees en bewaar tot en met die Reformasie toe. Die TR het dan die teks van die Protestantisme geword, terwyl die 'valse teks' van daardie Eusebius-manuskripte, die teks van die Katolisisme gebly het. Gunther se bewerings is egter histories onjuis. Die Eusebius-manuskripte was op geen stadium die Bybel van die Roomse Kerk nie. Dit is immers welbekend dat die Rooms-Katolieke Kerk die Latynse Vulgaat-vertaling as Bybel gebruik het. Die Latynse Vulgaat is teen ongeveer 382 n.C. in opdrag van Biskop Damasus van Bome deur die geleerde Hieronymus opgestel, en is uiteindelik op die Konsilie van Trente (1546) deur die Roomse Kerk as kanoniek verklaar.
  • Gunther kom uiteindelik by die bewering uit dat die Rooms-Katolieke Kerk deur middel van die Verenigde Bybelgenootskappe daardie Ariaanse Eusebius-teks in die UBS-teks ingedra het. Hierdie bewering kan in geen opsig waar wees nie: Bestudering van die UBS-teks bring duidelik aan die lig dat die UBS-samestellers konsekwent teen die Roomse teks - die Vulgaat! - gekies het, waar dit van die ander teksgetuies verskil. Die beskuldiging van die 1983-vertaling as 'n Rooms-Katolieke Bybel is dus geheel en al sonder grond.

Die UBS-teks vir die Jehova’s?🔗

Soos hierbo aangedui is, glo Gunther dat die UBS-teks 'n weergawe van die Ariaanse Eusebius-teks is. As sodanig is dit daarop gerig om die Godheid van Jesus uit die Bybel te verwyder, net soos die Jehovagetuies dit graag wil doen.

Ter ondersteuning van sy bewering gee Gunther 'n lys van gedeeltes wat sowel in die UBS-teks as in die Jehovagetuies se Bybel (die New World Translation) weggelaat is. 'n Hele aantal daarvan behels die weglating van die Name Jesus, Christus, Here of God. Vir Gunther is hierdie weglatings 'n bewys dat die UBS-teks (en gevolglik die 1983-vertaling) Jesus en sy Godheid uit die Bybel uitskryf en daarmee die Jehovagetuies ondersteun.

Dit is wel waar dat baie woorde, sinsnedes en selfs sinne wat in die TR voorkom, nie in die UBS-teks voorkom nie. Die gedeeltes wat Gunther noem - en trouens ook nog baie ander gedeeltes — word hierdeur geraak. Maar hierdie weglating beteken nie dat God uit die Bybel uitgeskryf word of dat die Godheid van Jesus geloën word of dat die leer van die Drie-Eenheid aangetas word nie. Weliswaar is aspekte van bogenoemde leerstukke plek-plek as gevolg van 'weglatings' minder eksplisiet, maar daarmee is dit nog lank nie uit die Bybel uitgeskryf nie. Die Godheid van Jesus en die leer van die Drie-Eenheid staan of val immers nie by 'n paar tekste in die Bybel nie. Inteendeel, as gevolg van die eenheid van die Skrif, is hierdie leerstukke onaantasbaar soos goeie suurdeeg regdeur die Skrif versprei. Die aantyging van Gunther dat die UBS-teks en die 1983-vertaling 'n valse Bybel of selfs 'n Bybel vir die Jehovagetuies is, is 'n ernstige aantyging, maar is gelukkig 'n ongegronde aantyging!

Praktiese voorbeelde🔗

Waar die afskrifte van die Griekse teks van die Nuwe Testament van mekaar verskil, is die verskille van so 'n aard dat die een lesing gewoonlik maar net so goed as die ander is. Die volgende gevalle is voorbeelde hiervan:

Handelinge 3: 22🔗

Handelinge 3:22 is deel van Petrus se toespraak in die pilaargang van Salomo. Die meeste afskrifte gee die vers aan as: "Moses het aan die vaders gesê ..." en dan volg 'n aanhaling uit Deuteronomium 18. Volgens enkele afskrifte staan daar: "Moses het aan ons vaders (of: aan julle vaders) gesê ...." Sommige afskrifte stel blootweg: "Moses het gesê ..." sonder om te noem aan wie hy gesê het.

Wesentlik is daar egter geen verskil nie. Die belangrike saak wat Petrus op hierdie punt van sy toe-spraak maak, is dat Moses van 'n profeet gepraat het en dat Moses se woorde in Jesus Christus vervul is. Van minder belang is wie die mense was tot wie Moses die woorde gerig het. Dit spreek vanself dat hy met die vaders van Israel gepraat het. Petrus hoef dit eintlik nie eens te sê nie. Sy hoorders sou dit in elk geval geweet het. En of Petrus hulle "ons vaders" noem of "julle vaders", raak die strekking van sy toespraak op generlei wyse nie. Daarom is, wat die betekenis en uitleg betref, die een lesing so goed soos die ander.

Die Naam van Jesus🔗

Van die 'weglating' of 'invoeging' van die Naam van Jesus (of die ander Godsname), word dikwels 'n groot saak gemaak. In die eerste artikel van hierdie reeks is melding gemaak van Martin Gunther wat beweer dat Jesus en sy Godheid in bepaalde afskrifte 'uit die Bybel uitgeskryf word' deur sy Naam op baie plekke weg te laat. Gunther se bewering is egter ongegrond. Dit is wel waar dat afskrifte op talle plekke verskil oor die vermelding al dan nie van die Naam van Jesus. Maar daardeur word die Godheid van Jesus in geen opsig geloën nie.

Voorbeeld hiervan is Mattheüs 4:23. Volgens die meeste afskrifte staan daar: "Jesus het in die hele Galilea rondgegaan en geleer." In enkele afskrifte kry ons: “Hy het in die hele Galilea rondgegaan en geleer." Uit die verband is dit egter onbetwisbaar duidelik dat van niemand anders nie as van Jesus gepraat word. En deur die eienaam “Jesus” met die voornaamwoord “Hy” te vervang, word die Godheid van Jesus tog in géén opsig aangetas nie! Trouens, regdeur die Nuwe

Testament is dit algemene praktyk om na Jesus as “Hy” en “Hom” te verwys, sonder dat sy Godheid daarmee aangetas word.

Honderde soortgelyke verskille word in die afskrifte aangetref. Om maar net enkeles te noem: Mattheüs 9: 29, 14:14, 14:25, 15:30 en 17:11. Laasgenoemde geval is 'n voorbeeld van 'n variasie wat by herhaling voorkom, naamlik: "En Hy/Jesus antwoord en sê vir hulle..." (Vgl. onder meer ook Markus 7:27, Lukas 7:22, Johannes 4:13). By sulke verskille kan 'n mens om tegniese redes die een lesing bo die ander verkies, maar aan die betekenis en die uitleg sal dit geen verskil maak nie.

Die  drie  hemelse  Getuies         🔗

'n Oënskynlik veel ernstiger verskil word in 1 Johannes 5:7 aangetref. Dit raak die weglating (of invoeging) van die gedeelte oor die drie hemelse Getuies. 'n Vergelyking tussen die 1933- en die 1983-vertalings bring die verskil duidelik na vore. In die 1933-vertaIing lees ons: "Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.'' Die 1983-vertaling het blootweg: "Daar is dus drie wat getuig".

Die 1933-vertaling laat dus die verwysing na die Drie-eenheid weg. Dit is so omdat hierdie verwysing in die meeste afskrifte ontbreek. Inderwaarheid kom die woorde oor die drie hemelse Getuies feitlik net in ou Latynse vertalings voor. Daar is net vier Griekse afskrifte wat die gedeelte bevat, en boonop is dit afskrifte van twyfelagtige oorsprong! Daarom is my persoonlike mening dat met groot verantwoordelikheid gekies kan word vir die weglating van die woorde.

Maar tas hierdie “weglating” dan nie die leer van die Drie-eenheid aan nie? Hoegenaamd nie. Weliswaar raak dit 'n baie uitdruklike uitspraak oor die Drie-eenheid, maar die leer van die Drie-eenheid staan of val nie by wat in 1 Johannes 5:7 geskryf is nie! In artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons immers dat die getuienisse oor die leer van die Drie-eenheid vanaf Genesis 1 op baie plekke in die Skrif voorkom. 1 Johannes 5:7 is maar net een van die Skrifgedeeltes waarna verwys kan word. Daar is nog baie ander Skrifgetuienisse aangaande die Drie-eenheid wat nie eens in artikel 9 genoem word nie.

Tas hierdie weglating dalk die Skrifopenbaring van 1 Johannes 5 aan? Hieroor sou Skrifverklaarders onder mekaar kon verskil. Dit is egter duidelik: Die Skrifgedeelte waarbinne vers 7 staan, handel oor die getuienis van die Heilige Gees aangaande Christus. Vers 6 stel dat Jesus Christus deur water en bloed gekom het. In vers 8 word gesê dat die getuienis van die Gees eenstemmig is met dié van die water en die bloed. 'n Verwysing na die Drie-eenheid binne hierdie konteks is nie onvanpas nie, maar is inderdaad 'n soort parentese, 'n tussenstelling — iets wat tussen hakies bygesê word.

Desgelyks kom daar in baie van die afskrifte op talle plekke woorde of sinne voor wat, op sigself geneem eg Bybels is, wat sonder twyfel belangrike Skrifwaarhede bevat. Tog, wanneer ook na ander afskrifte gekyk word, kan 'n mens nie met sekerheid sê of dié Skrifwaarheid juis op dié betrokke plek vermeld moet word nie. 'n Voorbeeld hiervan is die slot van die Onse Vader.

Die  slot  van  die  Onse  Vader🔗

By die slot van die Onse Vader is daar in die afskrifte 'n verskil wat baie gemoedere gaande maak. Dit gaan oor die sogenaamde doksologie: "... want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen". Sommige afskrifte bevat die doksoIogie, ander nie. Die vraag is: Moet die doksologie ingesluit word of nie?

Eintlik kom die kerk al 'n baie lang pad met 'n korter en 'n langer variasie van die Onse Vader. Die Onse Vader kom immers op twee plekke in die Nuwe Testament voor: Mattheüs 6 en Lukas 11. In Mattheüs 6 — so is ons dit in die 1933/53-vertaling gewoond — het ons 'n langer variasie van die gebed, wat die doksologie insluit; maar in Lukas 11 - so is ons ook daaraan gewoond - kom die doksologie nie voor nie. Aan die langer en korter weergawe is ons nog altyd gewoond. Ons aanvaar dit as deel van die sogenaamde Sinoptiese verskille.

Die probleem is egter dat sommige afskrifte ook in Mattheüs 8 die doksologie weglaat. In navolging hiervan laat ook die UBS-teks die doksologie weg, en in navolging van die UBS-teks ook die 1983-vertaling.

In die 1983-vertaling het ons dus in albei Evangelies die korter weergawe van die Onse Vader. En daaroor is daar ongelukkigheid. Want, word gesê, daarmee gaan 'n wesentlike deel van die gebed verlore, en boonop bring dit twee afdelings van die Heidelbergse Kategismus in gedrang, naamlik vraag 119 en vraag 128. In die antwoorde by die vrae word die doksologie immers as deel van ons belydenis aangedui.

My persoonlike mening is dat met groot verantwoordelikheid gekies kan word vir die teks wat die doksologie wel insluit. Motivering hiervoor is die feit dat die eerste drie bede, wat verband hou met die heerlike Naam van die Vader, met sy koninkryk, en met sy wil, in die doksologie 'n lieflike weerklank het in die woorde koninkryk, krag en heerlikheid. Wat aan die begin van die Onse Vader as 'n gebed gebid word, word aan die einde as 'n lofprysing uitgespreek.

Wie egter die afskrifte met die korter teks in Mattheüs 6 navolg, kan nie daaroor verkwalik word nie. So 'n keuse word deur goeie afskrifte gerugsteun. Bowendien word ons in Lukas 11 geleer om ook die gebed sonder die doksologie te aanvaar. En al is die doksologie nie daar nie, bely die bidder steeds die koninkryk, krag en heerlikheid van God - in die eerste drie bede.

Wat die belydeniskwessie aanbetref, het ons nie net in die Onse Vader Skrifgetuienis van 'n doksologie nie. In 1 Kronieke 29:11 word die doksologie in feitlik dieselfde vorm aangetref: "Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit. . ." Wie dus in Mattheüs die korter teks volg, moet steeds op grond van ander Skrifgedeeltes saam met die Kategismus 'n lofprysende gebed bely!

Samevatting🔗

God het dit so beskik dat daar teksvariasies bestaan. Dit is 'n werklikheid wat ons voortdurend dwing om tekskeuses te maak - by vertaling, by eksegese, by Skrifstudie. Maar omdat ons tekskeuses in menslike swakheid en onvolmaaktheid geskied, moet ons elkeen toegee: My keuse is voorlopig. Medegelowiges mag dalk anders as ek kies, en ek mag van hulle keuse verskil, maar ek kan hulle nie daaroor verketter nie. En ek hoef ook nie, want watter teks ook al gekies word, ons het daarin ontvang die geopenbaarde Skrifwoord van God in onvervalste waarheid!